OUERS VIR CHRISTUS (5)

Ds. André van den Berg

Reeks by  Ouers vir Christus

Ons het reeds gesien dat ouerlike gesag onontbeerlik vir die regte kinderopvoeding is.  Waarvoor moet ouers versigtig wees?

Oorbeskerming

Pasop vir oorbeskerming.  Dis een van die duurste foute wat ouers kan maak.  Oorbeskerming is bv een van die hoofoorsake van skisofrenie - ‘n gesplete persoonlikheid.  Deur jou kind oor te beskerm, gee jy voor dat hy te swak en onbevoeg is om sy plek in die lewe vol te staan.  Jy ontneem dus jou kind daardie selfvertroue wat hy as volwassene nodig gaan hê.

Iemand het eenkeer gesê: “Die sekerste manier om jou kinders te verloor is om hulle vir altyd te wil behou”. Ja, wees baie versigtig!  As jy jou kinders wil behou, moet jy hulle kan laat gaan.  Laat jou kinders van kleins af toe om ook die skerp kante van die lewe te ervaar.  Jy kan hulle nie vir altyd wil beskerm nie.  Hoe gouer hulle self leer, hoe meer sal dit tot ‘n positiewe persoonlikheidsontwikkeling bydra. Ouers moet soos ‘n verekombers wees: hulle moet hul kinders warm hou, maar nie versmoor nie.  Moet derhalwe nie die dorings afsny van die rose wat jy vir hulle gee nie.  Lê jou eerder daarop toe om jou kinders vir die pad gereed te kry as wat jy die pad vir jou kinders probeer regmaak.

Dr.Paul Meier gee aan ouers die resep hoe om ‘n drank- en dwelmverslaafde kind te kweek; ‘n resep wat uit sewe stappe bestaan:

  1. Bederf hom deur hom alles te gee wat jy kan bekostig
  2. As hy verkeerd doen, neul in sy ore, maar moenie slae uitdeel nie.
  3. Leer hom om nooit op eie bene te staan nie, maar altyd afhanklik te wees; eers van jou en daarna sal drank en dwelms jou plek inneem.
  4. Beskerm hom teen jou man en die nare onderwysers wat hom gedurig wil bykom. Nog beter, dagvaar hulle sommer!
  5. Neem al sy besluite vir hom siende dat jy baie ouer en wyser as hy is.
  6. As hy in die moeilikheid beland, kry hom daaruit.  Moenie dat hy die gevolge van sy misstappe dra nie. Jy kan dit soveel beter hanteer.
  7. Tree altyd vir hom in die bresse indien hy probleme ondervind sodat hy van jou afhanklik kan raak en weet na wie om te hardloop sodra die bom bars!

 

Die jeug is eintlik ‘n gevaarlike tyd van ‘n mens se lewe nie waar nie?

Misleiding

Jongmense word so maklik mislei omdat die lewe voor hulle ooplê.  Baie mense betaal lewenslank aan skuld wat hulle onnadenkend in hul jeug aangegaan het.  Langenhoven het gesê: “Jy kan al die bloeisels van jou lewensboom in die lentedae van jou jeug afpluk, maar dan moet jy nie in die wintertyd van jou ouderdom vrugte verwag nie”.

Die jeug is eintlik ‘n skrikwekkende ouderdom – so baie probleme, maar so min wysheid om dit op te los.  Desnieteenstaande gee jongmense altyd voor dat hulle verstandig is; amper soos ‘n dronkaard wat nugter probeer optree. Kleuters vra hulle baie vrae.  Tieners minder omdat hulle dink dat hulle al die antwoorde het!  Ja, die jeugjare is plus-minus jare - ‘n jong lewe plus nuuskierigheid maar minus begrip.

As ouers kinders verkeerd opvoed, is die kans groot dat hulle kinders vir hulle groot hartseer gaan bring.  God straf selfs onverskillige ouers deur hulle kinders se mislukkings. As ouers die fontein self vergiftig, moet hulle nie wonder waarom die stroompies bitter is nie!  Hoe lui die bekende Afrikaanse gesegde?  Wat jy saai, sal jy maai!

Hoe belangrik is selfontdekking vir ‘n kind?

Selfontdekking

Moenie alles vir jou kinders wil doen nie.  Jy is nie hulle slaaf nie!  Leer hulle om dinge self te doen.  Ware ouerskap bestaan nie net in die dinge wat jy vir jou kind doen nie, maar ook daarin dat jy hom in staat stel om dinge vir homself te doen.

Dis vir ‘n kind ‘n grootse ervaring om te ontdek dat hy ‘n moeilike taak self verrig of ‘n probleem self opgelos het.  Gee hom die nodige vryheid om sy eie besluite te neem.  Hy gaan waarskynlik ‘n hele paar foute maak.  Dis nie so erg nie!  Laat hom uit sy foute leer.  Hoe lui die gesegde?  Ondervinding is die beste leermeester.

Moenie alles wat hy doen, wil oordoen nie.  Dit laat hom voel dat sy pogings nie goed genoeg is nie.  Onthou: Sy oë het nog nie die wêreld soos joune gesien nie.  Laat hom toe om dit veilig te ontdek sonder om hom onnodig aan bande te lê.

Om kinders groot te maak is nie soos om emmers vol te maak nie, maar eerder om kerse aan te steek.  Daarom moet ouers nie net vir hulle kinders verf en kwasse gee nie, maar hulle ook toelaat om hul eie prentjie te skilder.  As jy jou kinders van kleins af die regte beginsels leer, sal hulle die toekoms met vertroue tegemoet gaan.

Daar is niks wat ‘n kind so aanmoedig om die lewe lief te hê en goed te presteer soos eerlike lof nie.  Let wel: Ek sê eerlike lof, en nie vleitaal nie.  Komplimenteer jou kind as hy dit verdien. Opregte lof doen aan kinders wat sonlig aan blomme doen.  Dit laat blomme in skoonheid en kleureprag ontluik.  Net so sal opregte aanprysing ‘n kind tot  volle ontplooiing laat kom. 

Benjamin Franklin het gesê: “My pa het my die grootste geskenk gegee wat een mens vir ‘n ander kan gee: Hy het in my geglo”. Vertrou ‘n kind en jy sal hom betroubaar vind. Behandel hom soos iemand met groot potensiaal en kyk wat bereik hy as hy groot is. Benjamin Franklin het self ongelooflike hoogtes bereik!

Volgende keer kyk ons na wat regte ouerbegeleiding is...