HOE KOM EK IN DIE HEMEL? (6)

Ds André vd Berg

Hoe kom ek in die hemel?

Die vooruitsig van die hemel

Gelowiges het ‘n wonderlike, ja, asemrowende vooruitsig en behoort baie meer oor die hemel te praat.  Ons leef  so naby daaraan.  Ons hemelse tuiste is in werklikheid maar net ‘n hartklop ver.  Een laaste hartklop en ons is daar!

Kinders van God is volgens die Bybel mede-erfgename van Jesus Christus en kan bewustelik daarna uitsien om die hemel binne te gaan.  ‘n Mens gaan kyk mos altyd na eiendom alvorens jy dit koop.  Dis wat ons ook met ons hemelse eiendom moet maak – dit deur ‘n deeglike bestudering van God se Woord as’t ware deurkyk.  Christus het alreeds vir ons die koop gesluit.   Die bestudering van dit wat God se Woord vir ons oor die hemel sê, het ‘n salige uitwerking op ons lewe.

Hoe lyk hierdie hemelse eiendom?  Geheel en al anders as wat ons dink.  Daar aan te kom, sal nogal vreemd wees.  Dit sal wees soos om voet aan wal te sit en te vind dat dit baie anders is as waaraan jy gewoond was.  Om aan ‘n hand te vat en te ontdek dat dit God s’n is!   Om ongekende vars lug in te asem en te vind dat dit nie deur sonde besoedel is nie omdat dit van God af kom.  Om in die hemel te kom, sal vir ons nuwe besieling inhou omdat ons daar met die nuwe werklikheid van onsterflikheid kennis sal maak.  Hoe heerlik moet dit nie wees om daar te wees, verlos van alle harde werk, sorge en eensaamheid, ja, om in ongerepte kalmte in te stap, sal onbeskryflik wees!

‘n Leraar is een aand na ‘n sterwende man uitgeroep.  Hy was ‘n gelowige en het in ‘n kamer in ‘n swak woonbuurt gewoon. “Ek voel so innig jammer vir jou.  Jy het so ‘n moeilke lewe gehad!” het die leraar simpatiek gesê. “Ja, dominee, ek het baie swaar gehad, maar dis nou amper verby.  Wees eerder saam met my bly oor my vooruitsig van ‘n nuwe tuiste waar ek binnekort gaan aankom” het hy geprewel en sy laaste asem uitgeblaas.  D.L Moody het op sy sterfbed gesê: “Die aarde wyk, kyk, die hemel gaan vir my oop!”

Let vervolgens op Jesus se baie bekende woorde in Joh.14:2 “In die huis van my Vader is daar baie wonings”.  Jesus probeer sy dissipels op die vooraand van sy lydensweg troos.  Hulle is baie ontsteld oor Jesus wat sê dat Hy hulle gaan verlaat.  Jesus verseker hulle egter dat sy heengaan na die vaderhuis voordelig is en dat hulle weer bymekaar sal wees. Die plek waarna Hy gaan, het baie wonings.

Die weerbymekaarkoms kan net plaasvind indien Hy eers weggaan.  Dit wat vir hulle na ‘n ramp gelyk het, is eintlik ‘n bedekte seën!   As dit nie daarvoor is nie, sou daar vir die dissipels en al wat gelowige is geen plek in die hemel gewees het nie. Iemand moes die voorbereidingswerk gaan doen.  Jesus het!

Die Vaderhuis is sinoniem met die hemel en is ‘n baie groot plek.  In die hemel is daar baie verblyf.  Dis nie soos ‘n kommune waar elke huurder sy eie kamer het nie, maar eerder soos ‘n pragtige gastehuis waar elke gelowige ‘n luukste woonplek het.   Dit kan nooit vol word nie.  Daar is altyd nog plek.

Die oomblik as ek in die hemel kom, sal drie wonderlike dinge my onmiddellik opval:

  • Eerstens sal daar baie mense wees wat ek glad nie daar verwag het nie.
  • Tweedens sal ek ook mense mis wat ek wel daar verwag het.
  • Derdens sal ek self daar wees.  Dit sal die wonderlikste van alles wees!

Wat ons in die hemel gaan doen, word nie vir ons in die Bybel gesê nie.  Al wat ons weet, is dat daar geen ledigheid sal wees nie omdat tyd nie meer sal bestaan nie.  Miskien sal ons wat voor Jesus se wederkoms ontslaap het help met die voorbereidings vir die feesmaal van die Lam wat ons na die oordeelsdag saam sal geniet!

Die Bybel gebruik beeldspraak om vir ons iets van die heerlikheid van die hemel te probeer beskryf.  Openbaring praat oor die poorte van pêrels, strate van goud, mure van opaal en stadsfondamente met allerlei edelgesteentes.  Dit klink alles wonderlik!  Maar dis nie waaraan ons in die eerste plek moet dink as ons aan die hemel dink nie. Dit gaan uiteraard om die teenwoordigheid van Jesus.  As ons in die hemel moes kom en vind dat Jesus nie daar is nie, sal die strate van goud vaal en mure van edelgesteentes dof wees.

Daar is min gedigte wat my so ontroer soos Toon van den Heever se In die Hoëveld. Dit vertel van ‘n man wat genoodsaak was om sy plaas te verlaat en in ‘n myn te gaan werk waar hy myntering opgedoen het.  Ten spyte van sy droewige omstandighede, is sy laaste gedagtes by sy plaas op die Hoëveld en hoe heerlik dit daar is.  Dis hoe ons na die hemel moet verlang.  Ons is inderdaad vir iets beter bestem!

Jare gelede moes ‘n vlieënier van New York vir ‘n paar weke in Londen oorbly.  Gedurende hierdie tyd het hy nooit sy horlosie op Engelse tyd ingestel wat vyf ure verskil het nie.  Toe hy na die rede daarvoor gevra is, het hy geantwoord dat hy daardeur tred met sy eie huis hou.  Hy het presies geweet wanneer sy gesin soggens opstaan, ontbyt nuttig, die kinders skool toe gaan ens. Alhoewel hy in Londen was, was sy hart in New York.  Dis hoe ons op aarde moet leef; met ons hart in die hemel.

Wanneer ons aan die hemel dink, moet ons nie soseer aan ‘n ewige woning dink nie, maar eerder aan ‘n toestand waar ons vir ewig in die volle teenwoordigheid van God sal wees.  Hemel en aarde hoort bymekaar.  Sonder die sekerheid van ‘n hemel bevind die mens hom op straat en hierdie straat is altyd ‘n doodloopstraat.

Ek het dit altyd geniet om my kinders te verras en soms hul oë toegehou tot by die verrassing. Die verbasing op hulle gesiggies as ek my hand weggeneem het, was ‘n prentjie om te aanskou!  God maak ook so. Terwyl ons leef, hou Hy sy hand voor ons oë en wanneer ons sterf, neem Hy dit weg sodat ons die hemel, die grootste verrassing ooit, kan sien!

Wanneer ons weet dat ons hemel toe gaan, is ons vir niks op aarde bang nie, nie eens vir die dood nie.  Dit word vertel van ‘n dogtertjie wat een skemeraand oppad huistoe kortpad deur die begraafplaas geloop het.  ‘n Omie wat daar gewerk en by die hek vir sy geleentheid sit en wag het, vra haar toe of sy nie bang is om in die donker deur die begraafplaas te loop nie?  “Nee, wat oom, ek is nie bang nie” sê sy doodkalm ”my huis is dan net hier anderkant”. Ons hoef nie die donker van die dood te vrees as ons ewige huis net anderkant die dood is nie!