HOE KOM EK IN DIE HEMEL? (8)

Ds André vd Berg

Hoe kom ek in die hemel?

Verskonings

Mense opper graag allerlei verskonings waarom hulle nie gered kan word nie. Een van die algemeenste verskonings is: Ek is ‘n te groot sondaar.  Vir hom wil ek vra: Maak jou sonde Jesus dan kragteloos?  Is Hy nie ‘n kragtige Verlosser nie?  Het bose geeste nie selfs voor Hom gevlug nie?  In Mark 5:7 hoor ons ‘n bose met Jesus in Gadara praat: “….Wat het ek met U te doen, Jesus Seun van die allerhoogste God? Ek besweer U by God om my nie te pynig nie” En in vers 12 lees ons: “en al die duiwels het Hom gesmeek en gesê: Stuur ons in die varke, sodat ons in hulle kan vaar”.

Al is jy die grootste sondaar wat nog ooit geleef het, kan jy soos die besetene van Gadara gered word.   Luister wat Paulus aan die jonge Timotheus skryf: “Dit is ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Jesus Christus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is” (1 Tim.1:15)

Nog ‘n verskoning wat aangevoer word, is: Ek voel dan nie gered nie. Van een ding kan ons seker wees: Jesus red ons nie die dag as ons daarna voel nie.  Ons gevoelens maak vir Hom daarin geen saak nie. Hy sê in Jes.45:22: “Wend julle tot My en laat julle red”.  In Engels lui dit: “Look unto me and be ye saved”. Wend jou tot God, kyk na Hom; Hy doen die res.  Luister ook na Rom.5:6: “Want toe ons nog swak was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe”.

Daar is ook mense wat vir jou sê: Hoe kan ek gered word as ek beswaarlik kan bid? Ons word nie deur ons gebede gered nie, maar deur die genade van Christus. Bekeer jou eers en daarna sal Hy jou leer bid.  Vir ‘n sinvolle gebedslewe het ons uiteraard ‘n geopende hemel nodig, anders praat ons met onsself.  Christus verskaf dit.

Nog ‘n flou verskoning wat gereeld aangevoer word, is: Daar is baie beter mense om te red as ek! Vir so ‘n persoon wil ek sê:  Christus red juis diegene wat min of geen aansien in die lewe het nie.  Kyk maar na sy vissermansdissipels, Levi die tollenaar en die besetene van Gedara – eenvoudige mense wat gered is.  Hou op dink dat jy nie gered kan word nie en begin glo dat jy wel kan!

Dan is daar diegene wat sê: Kyk, daar is niks goeds in my nie. Dis eintlik goed want Christus het juis vir slegte mense gekom.  Toe Hy op aarde was, was die kerlui van destyds dikwels baie ontsteld omdat Hy gereeld in slegte mense se geselskap verkeer het.  Hy het dit doelbewus gedoen sodat Hy sy taak kon volbring soos dit vir ons in Luk.19:10 opgeteken is: “Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was”.

Moet nooit glo dat jy te veel sonde het om gered te word nie.  Jesus se bloed is meer as al jou sonde – dis meer as genoegsaam om dubbeld soveel sondes as wat jy tans het te bedek!  En as jy glo dat jy ‘n baie groot sondaar is, het ek baie goeie nuus – Jesus is ‘n groot Redder en het juis sy Bloed vir jou gestort.

Daar is mense wat agter hul ouderdom wil wegkruip en sê: Ek is al te oud om gered te word”. Dis juis vir hulle wat Jesus die wedergeboorte wil skenk.  In Joh.3 lees ons van so ‘n man met die naam van Nikodemus wat deur die Gees van God wederbaar is.

Nog ‘n verskoning wat mense aanvoer, is: “Jesus kan my nie red nie want ek het Hom al soveel keer verwerp. Troos jou daaraan dat Hy jou nooit verwerp nie!  Miskien sê jy vir jouself: Ek is die laaste persoon op aarde wat gered behoort te word. En vir ‘n slag is jy reg, want dis presies waar Jesus begin – by die laaste persoon!

As mense wil wag totdat al hulle probleme en besware opgelos is alvorens hulle na Jesus gaan, sal niemand gered word nie.  Hoe groter jou probleme en ernstiger jou besware, hoe nodiger het jy die saligmakende verlossing!  Alle redes verdwyn soos mis voor die son wanneer Jesus se bloed daaroor gaan.