HOE KOM EK IN DIE HEMEL? (9)

Ds André vd Berg

Hoe kom ek in die hemel?

‘n Diep kloof

Sonde vorm ‘n diep en onoorbrugbare kloof tussen God en mens. In die Gelykenis van die ryk man en Laserus sê Vader Abraham vir die ryke:“En by dit alles is daar tussen ons en julle ‘n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat daar is, nie na ons kan oorkom nie”. (Luk.16:26).  Daar is ‘n kloof tussen God en mens en net een brug - Jesus Christus. Daar is nie ander nie!

Mense wat beweer dat elkeen op sy eie geloof gered sal word, lieg!  Die Islamiet wat tot Allah bid, sal nooit in die hemel kom nie, so ook nie die Hindoe wat voor sy afgode kruip of die Roomse Katoliek wat sy beelde vereer nie!  Jesus is die enigste brug na die hemel.  Joh.10:9: “Ek is die deur; as iemand deur my ingaan, sal hy gered word…”

Die angs van die hel

As mense die hemel misval, moet hulle God nooit die skuld daarvoor gee nie.  Dit was hulle keuse.  Omdat hulle lewe gedurig donker was, kon hulle die lig van God nie verdra nie en het soos grotdiertjies aan die donker gewoond geraak.  God se lig was vir hulle net so onaangenaam as wat dit vir ons sal wees om met die blote oog in die son te kyk.

Ongelowiges het geen oog vir die ewigheid nie.  Hulle stel slegs in die hede en die dinge van die wêreld belang.  Hoe meer geld hulle kan maak en plesier uit die lewe kan haal, hoe gelukkiger is hulle.  Hulle word so verblind deur die tydelike dinge, dat hulle nie besef dat hulle soos die Titanic op ‘n gewisse ramp afstuur nie!

Daar is ook mense wat van meet af aan bitter swaar leef.   Hulle ervaar maar gedurig die skadukant van die lewe.  Desondanks bekeer hulle hul nie. ‘n Mens sou verwag dat hulle droewige lewensomstandighede hul juis na Jesus sou laat uitreik.  Nogtans gebeur dit nie.      

Dit moet verskriklik wees om sonder Jesus te sterf en al die gereddes aan die ander kant van die diep kloof te moet sien.  Hoe verskriklik sal dit nie wees om jou ouers in die hemel te sien terwyl jy in ewigdurende pyn verkeer nie!  Om jou geliefdes daar te sien en te besef dis vir ewig en altyd te laat om reg te maak.  Dit sal soos ‘n hel in die hel wees!  Ek kan my geen groter wroeging indink nie as iemand wat die hel betree met die trane van sy moeder op sy hoof en die gebede sy vader op sy hakke.

Hoe verskriklik sal ‘n uur in die hel nie wees nie!  Hoe sal die verlorenes nie wens dat hulle Jesus as Verlosser ontmoet het nie!  Dink aan die versoek van die rykman in die gelykenis in Luk.16: “Ek bid u dan vader om (Lasarus) na my vader se huis te stuur – want ek het vyf broers – om hulle dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie” (vers 27-28).  Maar nou ja, daar is nie so ‘n iets soos ‘n uur in die hel nie, maar ‘n ewigheid!  Eenmaal verlore, altyd verlore.  Daarom moet ons die raad van Jesaja volg: “Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is” (55:6).

Daar is selfs mense wat lag as daar oor die hel gepraat word asof dit ‘n gogga-maak-vir-baba-bang storie is.  Laat hulle maar lag oor die hel - een ding is seker: Hulle sal hulle nie daaruit kan loslag nie!   Dan is daar ook mense wat sê dat hulle nooit rustig sou kon leef indien hulle aan ‘n hel moes glo nie.  Vir sulkes wil ek waarsku: “Van alle mense het jy die minste rede om rustig te leef!” Waarom doen mense soveel moeite om in die hel te kom?  Hulle kan met minder as die helfte van die moeite wat dit neem om in die hel te kom, in die hemel kom! 

‘n Baie algemene leuen is dat daar aan die einde van die tyd geen hel sal wees nie, omdat God ‘n God van liefde is.  As jy glo dat God ongelowiges nie in die hel sal werp nie, moet jy ook aanvaar dat Hy geen gelowige hemel toe sal neem nie. ‘n Persoon wat met die hel fout vind, is gewoonlik soos iemand wat met wetstoepassing fout vind; hy het juis die wet oortree!

As iemand met die leer van die ewige verdoemenis ‘n probleem het omdat dit kwan-suis nie met God se liefde rym nie, wil ek net een vraag vra: Sê God dit iewers in sy Woord?  As dit in die Bybel staan, sal ek my toga ophang en nooit weer oor die hel praat nie. Maar as dit nie in sy Woord staan nie, het daardie ‘n persoon ‘n probleem!