HOE KOM EK IN DIE HEMEL? (10 - SLOT)

Ds André vd Berg

Hoe kom ek in die hemel?

Moenie uitstel nie!

Moenie jou kans op verlossing uitstel nie. As jy Jesus Christus nog nie as jou Verlosser aangeneem het nie, hang jy in werklikheid aan ‘n dun draadjie oor die rantjie van die hel.  Die geringste kan jou vir ewig in die hel laat aftuimel.  Die rykman in die gelykenis van Lasarus en die Rykman (Luk.16)  kon nie terugkom om sy fout reg te maak nie.  Jy sal ook nie!   Sorg dat jy aan die regte kant van die hemel kom.

Shannon Lucid was ‘n vroueruimtevaarder wat in 1996 vir ‘n volle 6 maande in die Russiese ruimtestasie MIR deurgebring het.  Dit was die langste tydperk vir 'n persoon in die ruimte ooit.  Soos wat die tyd verbygegaan het, het sy net een begeerte gehad – om na haar huis terug te keer. 

Net voordat sy deur die ruimteskip Atlantis opgepik is, het sy die volgende gesê:“Wees verseker dat ek nie aan die verkeerde kant van die luik gaan wees wanneer hulle dit toemaak nie!” 

Die belangrikste deur is egter die deur na die hemel.  As ons lewe daarop ingestel is om hemel toe te gaan, sal ons die nodige doen om te verseker dat ons aan die regte kant van die deur na die hemel is wanneer dit vir die laaste keer toeswaai.  In Matt.25 lees ons van die vyf dwase maagde wat weens hul eie onverskilligheid laat by die feesmaal aangekom het.  Die deur is gesluit en nooit weer oopgemaak nie.

Hy wat vir die hemel reg is, wag gretig op die wederkoms van Jesus.  Dit sal ons intog  na die hemel voorafgaan, of ons op daardie oomblik nog leef of al ontslaap het.  Die Here wil hê dat ons Hom in sy verlossende liefde moet ken alvorens ons sterf.  Want daar kom ‘n dag dat ons Hom as regter sal sien optree.

D.L Moody vertel die verhaal van ‘n welgestelde man wat ‘n misdaad gepleeg en die beste advokaat gevind het wat geld kon koop om hom te verdedig.  Hy, sowel as die advokaat het geweet dat hy skuldig is. Nogtans het die briljante advokaat hom  ontslaan gekry.  Toe hulle uitmekaar gaan, het die advokaat hom gewaarsku om nie weer so ‘n misdaad te begaan nie omdat hy hom nie weer sou verdedig nie.

Na ‘n paar jaar het die man weer dieselfde misdryf begaan en weer net die beste advokaat gekry om hom te verdedig.  Tot sy ontsteltenis was die advokaat wat hom die eerste keer verdedig het hierdie keer die regter!  Wees gewaarsku: Aan die einde van jou lewe gaan jou Verlosser ook jou Regter wees!

Om met die oog op die toekoms te leef, is goeie raad.  Om met die oog op die voleinding te leef is wysheid.  Daar kom ‘n groot oordeel.  Moenie soos die mense in die tyd van Noag die waarskuwing in die wind slaan en deur die vloed oorval word nie.  Die deur van die ark is nog oop.  Hoor hoe slaan die hamer en kap die byl om die geestelike reddingsvaartuig betyds reg te kry.  Neem kennis en moenie dat aardse dinge jou ore toestop nie.  Die vloed van God se oordeel kom en jy moet gereed wees!

Slot

Kom ons sluit op ‘n positiewe noot af.  Dink gedurig aan die hemel.  Om daarna te verlang, is nie ‘n vorm van ontvlugting of wensdenkery nie, maar eerder wat ‘n gelowige veronderstel is om te doen.   Laat ons lewens hier op aarde ‘n rowwe skets wees van die lewe wat ons graag in die hiernamaals sal wil voer.  Want onthou: Die hemel is ‘n voorbereide plek vir voorbereide mense.  Die beste lê nog voor.  Niks mag jou hierdie vreugde ontneem nie.

Laat ons soos ‘n Martin Luther van ouds sê: “Ek sou nie ‘n enkele oomblik van die hemel vir al die vreugdes en rykdom van die wêreld verruil nie, al sou dit selfs ‘n duisend jaar duur!” Mag die Here ons ‘n goddelike gesig van die hemelse stad gee sodat ons nou al sal leef soos mense wat die stad nou alreeds sien.

Mag daar eendag op jou graf geskryf staan: Ek was nie ‘n burger van die aarde wat in die hemel plek probeer kry het nie. Ek was ‘n burger van die hemel wat op aarde op reis was.  Die reis is verby en ek is terug!