DIE WEDERKOMS (1)

Ds Andrè vd Berg

Lees reeks by  WEDERKOMS VAN CHRISTUS

Die aarde sal nie vir ewig bestaan nie

In Gal.4:4 lees ons dat God sy Seun in die volheid van die tyd na die aarde gestuur het. Wat beteken dit?  Dat die tyd toe reg was.  Jesus kom op God se bepaalde tyd na die aarde om sondaars te red. Hier vertoef Hy 33 jaar waarna Hy na die hemel toe opvaar.

Die vraag is: Gaan ons Hom weer sien?  Ja, ons gaan!  God belowe in sy Woord dat Jesus nie net eenmaal na die aarde gekom het nie, maar vir ‘n tweede en finale keer gaan kom.  Luister wat sê die twee engele vir die dissiples na afloop van die hemelvaart in Hand.1:11: “Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het”.

Wat ‘n wonderlike belofte en vooruitsig is dit nie vir ons nie!  Jesus het nie net eenmaal na die aarde gekom nie, maar kom weer.  Maar wanneer?   Hierdie vraag word al 2000 jaar lank gevra.  Trouens, die eerste gelowiges, veral dié in Thessalonika, het ‘n spoedige wederkoms verwag, ja, selfs so vroeg as 50nC d.w.s 17 jaar na die hemelvaart!

Ons kan uit Paulus se brief aan hulle aflei dat hulle selfs hulle werk gelos en op ‘n bondel gaan sit en wag het dat Jesus moes kom.  Daarom moes Paulus aan hulle skryf ten einde die saak reg te stel.  Hy vermaan hulle om nie ydel rond te sit en die wederkoms passief in te wag nie. Gelowiges moet met hulle normale dagtaak voortgaan totdat die laaste basuin blaas.

1. Valse profete

1.1    Montanus

Mense was van meet af aan nuuskierig oor die wederkoms.  Sommige het selfs gewaag om datums te voorspel en dit skynbaar geniet om die rol van oordeelsaankondiger te speel.  Een van die eerste valse profete was ‘n sekere Montanus wat gedurende die 2de eeu nC, vergesel van sy twee profetesse, luidkeels aangekondig het dat die wederkoms binnekort sou plaasvind.

1.2    William Miller

William Miller, stigter van die Sewendedagse Adventiste, het nie net die jaar probeer voorspel nie, maar selfs die dag en datum nl. 21 Maart 1843.  Toe dit nie gebeur nie, het hy dit na 22 Oktober 1844 verskuif en daarna nie weer voorspellings gewaag nie!

1.3    Charles Russel

Charles Russel, stigter van die Jehowagetuies, was die volgende aan die beurt en het 1874 as die jaar van die wederkoms aangekondig.  Toe niks gebeur nie, het hy voorgegee dat hy ‘n berekeningsfout gemaak het en die nuwe datum na 1914 verskuif.  1914 sou die jaar wees waarin God se vredesryk op aarde sigbaar sou word.  Ironies genoeg het geen vrederyk daardie jaar verwerklik nie, maar het die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek!

Sedertdien het sulke bespiegelings en voorspellings nog nooit opgehou nie ten spyte van Matt.24:36 wat duidelik sê: Maar van die dag en die uur weet niemand nie, ook die engele van die hemel nie, maar net my Vader alleen”.

Desnieteenstaande onderstreep al hierdie voorspellingpogings een groot waarheid - die mens verwag dat daar wel ‘n einde aan die wêreld gaan kom.  Die aarde sal nie vir ewig bestaan nie.  Daar kom ‘n dag dat alles tot niet sal gaan.  Maar wanneer dit gaan gebeur weet niemand nie, nie eens die engele nie!