DIE WEDERKOMS (5)

Ds Andrè vd Berg

Lees reeks by  WEDERKOMS VAN CHRISTUS

Wat sê Jesus oor die wederkoms?

Ons het nou gehoor wat mense en dissipels oor die wederkoms van Christus sê, maar wat sê Hy self oor sy wederkoms?  In Matt 24 vra die dissipels ‘n aanduiding oor hoe ver die wederkoms in die toekoms lê.  Jesus noem geen datum nie, maar sê dat die tydperk net voor die wederkoms gekenmerk sal word deur onaangename gebeure wat ‘n geweldige impak op die mensdom gaan hê.  Dis ook nie net tot een geslag beperk nie, maar sal herhaaldelik oor die hele wêreld voorkom totdat Hy kom.  In hierdie tyd sal gelowiges weereens besef dat hulle slegs reisigers op die aarde is.

Jesus waarsku dat sekere mense na vore gaan kom wat daarop aanspraak sal maak dat hulle die beloofde Messias is en baie mense verlei om hulle te volg.

Verder sê Jesus dat sy koms so groot en omvangryk sal wees dat almal oor die wêreld heen dit oombliklik sal sien.   Ek lees onlangs van ‘n ontspoorde teoloog van die NG Kerk wat Jesus se belofte betwyfel. Hy reken dat dit onmoontlik is omdat die aarde nie plat nie, maar rond is.

Ek wonder of hierdie persoon ook met God se skepping ‘n probleem het? God het die aarde uit niks geskep.  Wat kan wonderliker as dit wees?  Indien dit vir Hom moontlik was om die aarde uit niks te skep, waarom sal dit nie vir Hom moontlik wees om sy Seun so te laat verskyn dat elke aardbewoner dit kan sien nie?

Wat moet ons wat op Jesus se koms wag intussentyd doen?  Moet ons maar sommetjies maak en oor die dag en datum spekuleer?  Nee, ons moet op ons pos wees en geduldig op ons hemelse bruidegom wag.  Ons mag nie soos die vyf dwase maagde wat op die bruidegom se koms gewag het, onkant betrap word nie. Ons moet eerder soos die vyf verstandiges aktief op Jesus wag.  Dan sal ons hoor: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal Ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer” (Matt.25:21).

Die Gelykenis van die Talente

Die Gelykenis van die Tien Maagde is nie die enigste gelykenis wat op die wederkoms van Christus betrekking het nie.  Daar is ook die Gelykenis van die Talente.  Dis ‘n gelykenis wat, ek wil waag om te sê, deur 99% van ons mense geheel en al verkeerd verstaan word.  Dit het niks, maar absoluut niks met verstandelike vermoëns te doen nie. Dit het eerder alles met Jesus se wederkoms te doen.

Het jy al gewonder wat op die laaste dag op aarde gaan gebeur?  Met hierdie gelykenis vertel Jesus vir ons wat op daardie dag gaan gebeur. Dis ‘n oordeelsdag.  Jesus neem self as Regter waar. Tydens die verhoor stel Hy nie daarin belang wat mense alles geglo het nie.  Hy stel net in een ding belang en dis jou geloof. En die vraag wat Hy gaan vra, is: Wat het jy met jou geloof gedoen?  Het jy dit met ander gedeel?

Het jy al mooi gedink wat geloof werklik is?  Is dit een of ander geestelike krag wat jy kan opwek soos wat elektrisiteit met ‘n kragopwekker opgewek kan word?  Nee, die Bybel sê vir ons dat geloof ‘n gawe van God is. Dis m.a.w iets wat vir jou gegee word soos die baas in die gelykenis die talente aan sy werkers gee. Geloof is ‘n geskenk van God.

Wat maak ‘n mens met ‘n geskenk?  Jy gebruik dit.  God verwag presies dieselfde van jou. Hy gee vir jou geloof en op die laaste dag op aarde kom kyk Hy wat jy daarmee gedoen het. In die gelykenis word geloof met talente of andersins geld vergelyk – dis iets wat jy kan gebruik om iets mee te doen.

Al wat Jesus wil weet, is: Wat het jy met sy gawe aan jou gedoen?  Het jy daarmee gewoeker of het jy soos die onverskillige dienskneg niks daarmee gedoen nie?  Dis al wat Jesus op die laaste dag op aarde van jou wil weet; nie jou bankbalans, akademiese prestasie, goeie lewe of wat ookal nie – net jou geloof.  Wat het jy daarmee gedoen?  Jou antwoord hierop bepaal jou ewige eindbestemming.

Het jou geloof gemaak dat jy na jou medemens in sy nood omgesien het of het dit jou gemak-sugtig gemaak en agteroor laat sit met ‘n houding van: Dankie tog dat ek tot bekering gekom het, laat die res van die wêreld maar na die verderf gaan, solank ek net gered is! As dit jou houding is, is jy niks beter af as die onverskillige werker wat die talent gaan begrawe het en op die ou einde in die verderf beland het nie!  Geloof moet in die praktyk uitmond.  Jy kan nie ‘n passiewe toeskouer van God se werke en genade wil wees nie.  God het g’n behae in kerkbanksitters nie, maar hulle wat sy wil doen en na hul medemens omsien.