EVOLUSIE... WAT IS DIT EN KAN EK DIT GLO? (1)

Hanan Viljoen

Lees reeks by Evolusie - wat is dit en kan ek dit glo?

WAT IS EVOLUSIE?

Toe ek op 'n keer met leerlinge in 'n skool oor evolusie gepraat het, het ek agtergekom dat die meeste van hulle glad nie geweet het wat die woord beteken nie! Ek dink, dat jy wat nou hier lees, waarskynlik die woord ken en dat jy dalk 'n hele paar feite daaroor korrek sou kon neerskrywe. Een ding is seker: dit is in ons tyd baie belangrik om kennis te hê oor presies wat evolusie is. Ek hoop dat hierdie skrywes vir jou daarmee sal help.

Evolusie is in die eerste plek 'n manier waarop mense probeer verduidelik hoe alles ontstaan het. Dit gaan dus oor die oorsprong van alle dinge.

MOEILIK EN TOG MAKLIK

In 'n sekere sin is die vraag wáár alles vandaan kom, baie moeilik. Die rede? Geen mens was teenwoordig toe God alles geskep het nie. Niemand kan dus as ooggetuie vir ons daarvan vertel nie. Die Here vra byvoorbeeld vir die man Job: "Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het?" – Job 38:1. Natuurlik was Job met die skepping nog nie eers gebore nie. Al manier waarop Job, of enige ander mens sou kon weet hoe alle dinge ontstaan het, sou wees as die EEN wat alles gemaak het, vir ons sou sê hoe dit gebeur het. Dit is presies ook wat God in die eerste twee hoofstukke van die Bybel doen. Lees gerus weer Genesis 1 en 2 in jou Bybel.

Natuurlik is daar ook baie ander Bybelgedeeltes wat oor die Skepping praat. In Exodus 20:11 staan daar byvoorbeeld geskryf: "Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak: die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus."

In Hebreërs 11:3 lees ons dat God net deur woorde uit te spreek, die wêreld laat ontstaan het. Hy het dus nie die wêreld uit iets gemaak nie maar uit niks! Telkens het Hy net gesê: "Laat daar wees..." en dan wás daar!. Dít kon Hy doen omdat hy Gód is.

Alle pogings wat mense aanwend om op hulle eie (sonder die Bybel) te verduidelik hoe alle dinge ontstaan het, is raaiwerk! Soos jy later sal sien, het hierdie spekulasies tot allerhande snaakse en onmoontlike verklarings aanleiding gegeee. In plaas daarvan dat mense maar net soos klein kindertjies God se eie verhaal, soos Hy dit in die Bybel laat opteken het, aanvaar!

Charles Darwin en Evolusie – vervolg...