EVOLUSIE... WAT IS DIT EN KAN EK DIT GLO? (2)

Hanan Viljoen

Lees reeks by Evolusie - wat is dit en kan ek dit glo?

CHARLES DARWIN EN EVOLUSIE

'n Man van Engeland, Charles Darwin, het sowat 150 jaar gelede eerste die teorie van evolusie breedvoerig beskryf. Sy boek "The Origin of Species..."  se titel beteken 'Die Oorsprong van Soorte'. Dit is nogal 'n dik boek met 470 bladsye. En terloops, die woord "species" in die titel van Darwin se boek kan ook vertaal word met die Afrikaanse woord "spesies" maar omdat hierdie woord nie so goed bekend is nie gebruik ek die woord 'soorte'.

Kom ons kyk verder na die teorie van evolusie waardeur sommige mense probeer verklaar hoe alles ontstaan het.

Evolusie beteken "stadige ontwikkeling". In kort kan ons evolusie dan beskrywe as dié leerstelling wat sê dat alle lewe stadig ontwikkel het vanaf 'n eensellige organisme of diertjie, tot by die mens.

VERDUIDELIKING

Die woord "organisme" word meermale in hierdie skrywe gebruik, daarom 'n kort verduideliking:
'n Organisme verwys na enigiets wat lewe. Dit sluit dus alle lewende dinge in – vanaf 'n eensellige diertjie tot by die mens. Dit sluit ook ons plantlewe in.

Die "ontwikkeling" waarvan hierbo gepraat word sou volgens die leer van evolusie duisende miljoene jare geneem het.

Die volgende vraag wat ons moet vra is: waar het "die lewe" wat in die eensellige diertjie was, vandaan gekom? Hierop antwoord die voorstanders van evolusie natuurlik dat die diertjie "heel toevallig" ontstaan het uit 'n proteïnryke vloeistof of "sop" wat ook duisende miljoene jare gelede bestaan het. Die "sop", sê evolusioniste, het weer ontstaan as gevolg van die "groot knal", bekend in Engels as die "big bang". Ook die heelal, beweer evolusioniste, sou deur 'n groot knal of ontploffing tot stand gekom het. (En nou wonder sommige weer Wie die groot knal kon veroorsaak...)

Charles Darwin het eerste die idee gehandhaaf dat die ontwikkeling van organismes deur "natuurlike seleksie" en deur "oorlewing van die sterkstes" plaasgevind het. Soos hierbo gesê, het hierdie ontwikkeling dan tot by die mens voortgegaan. Volgens voorstanders van die evolusieleer, gaan die ontwikkeling van die organismes ook nog steeds voort. "Alles is besig om aanhoudend te evoleer", vertel hulle so graag.

TWEE SIENINGS OOR EVOLUSIE

As 'n mens al die feite oor die leer van evolusie onder oë neem, word dit duidelik dat daar twee hoofsienings oor die onderwerp is. Die eerste is dat evolusie 'n 'ateïstiese' proses is.

Die eerste siening is dat dit 'n "Ateïstiese Evolusie" genoem word.

Die tweede siening word genoem "Teïstiese Evolusie".

Verskoon asseblief die groot woorde maar ons moet hulle ongelukkig maar gebruik. Ek sal verduidelik:

Die woord "a-teïsties" beteken 'sonder God', of net sowel gestel  'teen God'. Ateïstiese evolusie sê dan, dat alle dinge sónder God deur 'n groot ontploffing ontstaan het.

Presies waarom voorstanders van hierdie leer God nie as Skepper wil erken nie, sal ek namate ons in hierdie onderwerp vorder, verduidelik. Wat egter nou belangrik is om raak te sien is dat ateïstiese evolusie ons probeer leer dat daar geen God is nie!  Hulle glo ook dat alle dinge, insluitend lewe, per toeval en vanself ontstaan het!  Hierdie toeval word ook as 'n "ongeluk" beskryf.

Of alle dinge wel "per ongeluk" kon ontstaan, moet ons vir onsself uitmaak. Hiermee hoop ek, sal die res van hierdie reeks jou werklik help.