Hanan Viljoen
Lees reeks by Evolusie - wat is dit en kan ek dit glo?
NOG EVOLUSIE-TEORIEË
TEÏTIESE EVOLUSIE
Hierdie soort evolusie leer dat daar wel 'n God is, en dat Hy ook die oorsprong van alle dinge is. "Maar", sê die voorstaanders van hierdie teorie, "God het die groot knal laat gebeur en dit gebruiik om die heelal te laat ontstaan."
Beide ateïstiese en teïstiese evolusie leer dat die groot knal baie, baie lank gelede uit 'n verskriklike klein volume saamgepersde materiaal plaasgevind het. Die digtheid van die materiaal was glo onberekenbaar groot. Hulle vertel die Here het dit wat uit die ontploffing voortgekom het, deur evolusie laat ontwikkel tot by alles wat vandag bestaan. Hulle aanvaar dus nie, soos wat die Bybel sê, dat God net deur te spreek alles tot lewe geroep het nie. Hulle sê dat Hy dit deur 'n ontploffing en daarna deur evolusie laat gebeur het.
Die kern van wat ons tot dusver oor die evolusieteorie gesê het is dat dit leer, dat alle dinge ontstaan het deur 'n "natuurlike proses". Hierdie benadering word in sy geheel ook beskryf as "naturalisme" en dit is ook die belangrikste idee of filosofie van die evolusieleer. Naturalisme lei uiteindelik daartoe dat baie mense die natuur, en nie God nie, aanbid. Sommige praat dan ook van "moeder natuur". Dít sluit dan weer aan by die New Age "godsdiens".
LEWE UIT DIE BUITENSTE RUIMTE
'n Derde gedagte wat in ons tyd al hoe meer veld wen is dat lewe uit die buitenste ruimte op aarde "geplant" is deur buite-aardse wesens! Al van "aliens" gehoor? Vandag word baie pogings aangewend om met hierdie spookwesens kontak te maak. Tot dusver het dit nie geslaag nie en kon geen boodskappe van hulle ontvang word nie. Dit is duidelik dat hierdie teorie die spekulasie van bygelowige mense is want daar is geen sweem van feitelike getuienis vir die bestaan van sulke wesens nie. Hierdie soort "science fiction" is maar feëverhaaltjies vir volwassenes.
Waar kry mense die bogenoemde idees vandaan?
Die antwoord op bostaande vraag is eenvoudig: Mense het dit self uitgedink! Daar is geen wetenskaplike bewys vir een van die genoemde idees nie. Dit is bloot gissings of menings. Moenie vir een oomblik omgeloop word deur die leuen dat evolusie wetenskaplik is en op feite berus nie. As jy die gegewens wat verder in hierdie reek behandel word noukeurig volg sal jy agterkom dat evolusie die grootste leuen is wat in die afgelope tweehonderd jaar in die wêreld verkondig is, al word dit natuurlik gepropageer onder die dekmantel dat dit wetenskap is.
Dit val my dikwels op hoe oortuigend seker evolusioniste van hulle idees klink. Die werklikheid is egter dat evolusie 'n hipotese is en dat dit op veronderstelde aannames gebou is.
SKEPPINGSGELOOF
Teenoor die bostaande idees, dat alle dinge natuurlike oorsake het, staan die skeppingsgeloof. Dit beteken dat ons die Bybel se verklaring van hoe alle dinge ontstaan het, aanvaar. Dit leer, soos ons tevore uit Genesis 1 en 2, Eksodus 20 en Hebreërs 11 gesien het, dat God in ses dae die hemel en die aarde uit niks geskep het. Jy mag miskien die vraag vra: Maar hoe weet ons dat God die hemel en die aarde geskep het want niemand behalwe God Self was daar om dit te sien gebeur nie? Natuurlik! Ons kan ook nie persoonlik na God toe gaan en Hom oor alles uitvra nie. Hoe dan nou? Wel, hier is ons as Christene se antwoord uniek en dit is die volgende:
God het sy profete en apostels van die ou tyd gebruik om al die kennis en inligting wat ons oor die skepping móés hê, in die Bybel laat opteken.
Daar staan in 2 Timotheus 3 vers 16 geskrywe:
"Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot teregwysing en tot onderwysing..."
in 2 Petrus 2 vers 21 staan daar ook geskrywe:
"Deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek."
God praat dus met ons deur die Bybel – dié Boek wat Hy deur sy dienaars onder leiding van die Heilige Gees laat skrywe het. So kry ons die noodsaaklike inligting oor God en sy skeppingswerk, waarvan ons andersins nooit sou geweet het nie. Geen ander godsdienstige boek ter wêreld kan met die Bybel vergelyk word nie.
Die konsekwensie of gevolg van wat hierbo staan, is dat Christene wat die Bybel as Woord van God aanvaar, beide ateïstiese en teïstiese evolusie verwerp. Die rede? Die Bybel is God se Woord, en dit weerspreek beide ateïstiese en teïstiese evolusie, en natuurlik ook die belaglike "alien"- idees.
Ons ondersoek volgende keer nog wyses waarop ons kennis oor hierdie wonderlike skeppingswerk van God kan opdoen.