EVOLUSIE... WAT IS DIT EN KAN EK DIT GLO? (4)

Hanan Viljoen

Lees reeks by Evolusie - wat is dit en kan ek dit glo?

Kennis deur wat ons sien

Daar is nog 'n verdere manier waarop ons kennis oor God se skeppingswerk kan kry. Dit is deur noukeurig na die skepping rondom ons te kyk.

In Psalm 19: 2-5 staan daar digterlik geskrywe:
"Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend. Die een dag gee die berig deur aan die ander en die een nag deel die kennis aan die volgende mee. Sonder spraak en sonder woorde, onhoorbaar is hul stem. Tog gaan daarvan 'n boodskap uit oor die hele wêreld en hulle talle bereik die uithoeke van die aarde."

In Romeine 1: 20 staan daar geskryf:

"Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie."

Die laaste vers wat jy pas hierbo gelees het leer ons iets baie belangrik. Dit is, dat as ons na die skepping kyk waarvan ons deel is, ons kan sien dat 'n Oneindige, Grote, Wonderlike, Wyse en baie Magtige God, hierdie skepping moes geskep het! Alles wat bestaan, kon nie maar vanself en per toeval ontstaan het nie. So 'n moontlikheid is algeheel uitgesluit en onlogies.

Die logika van die Bybel

Ek moet dit vir jou beklemtoon, dat wát die Bybel oor die skepping leer, baie meer  logies is as enige van die idees wat ons tot dusver bespreek het. Waarom sê ek dit? Hier is my antwoord:

Ingewikkelde ontwerp soos wat ons aarde en die heelal is, vereis 'n alwyse Ontwerper en 'n almagtige Skepper om dit te laat gebeur!

Die bostaande stelling beteken dat alles wat ons sien, nie maar vanself kon gebeur het nie. Die kans dat dit wel vanself sou kon gebeur is vir altyd en altyd onmoontlik.

Dit is soos 'n horlosie wat iemand aan sy arm dra. Iemand móés dit gemaak het! Daar is nie 'n manier waarop die horlosie vanself kon "gebeur" het nie, of dat dit homself kon gemaak het nie. Die onderdeeltjies van die horlosie kon ook nie vanself na mekaar toe gespring en aan mekaar begin vasklou het nie.

Want...

Horlosies ontstaan nie vanself nie!

Ontwerp

Kom ons gesels verder oor ontwerp en oor die maak van 'n ontwerp.

Ingewikkelde ontwerpe gebeur nooit vanself nie. Dit gebeur ook veral nie deur 'n ontploffing nie. Kom ons neem as voorbeeld die eetkamerstoele of die kombuisstoele waarop ons elke dag sit. Hoe het hulle ontstaan? Sommer vanself, of deur 'n ontploffing? Vir seker sal jy nie een van die twee glo nie want, 'n ingewikkelde ontwerp vereis altyd 'n ontwerper. En jy sal seker byvoeg dat iemand die ding moes gemaak het.

'n Ontwerp is iets wat 'n gevormde struktuur het, en struktuur is iets wat op 'n sekere manier aanmekaargesit is. Ons kan 'n stoel ook 'n gespesifiseerde struktuur noem. 'n Ontwerp is nie sommer iets soos modder wat ná swaar reën van 'n berg af loskom en wat afgly en vormloos iewers op die laagste punt tot stilstand kom nie. Daar is geen gestruktureerde ontwerp in die modder nie. Maar... iemand kan wel met die modder vierkantige stene maak en 'n huis bou. Niemand sou ontken dat die klaargeboude huis met sy mure van ingemesselde stene, vensters, dak en deure, deur intelligente persone ontwerp en gebou is nie.

Om op te som: Die eerste vereiste vir ingewikkelde ontwerp of struktuur is 'n ONTWERPER.  Saam met die ontwerper moet daar ook 'n MAKER wees. Die ontwerper kan natuurlik ook besluit om self die maker te wees.

Kom ons kom weer terug na die stoele. Die stoele met hulle vier pote, rugleunings en sitplekke moes eers uitgedink en beplan gewees het deur 'n intelligente persoon. Uiteindelik moes die afsonderlike dele van die stoele toe gemaak en aanmekaargesit word. Geen stoel sou vanself kon ontstaan sonder 'n ontwerper en 'n maker nie. Tot in ewigheid sal dit nooit kan gebeur nie. In wetenskaplike taal sou mens sê:

Gespesifiseerde kompleksiteit, dit wil sê die ingewikkeldheid daarvan, vereis beide 'n ontwerper en 'n maker.

Met die laaste stelling dink ek, sal geen denkende mens wil verskil nie.

Miskien sou jy na aanleiding van wat hierbo staan wou sê: Stoele is darem verskriklike eenvoudige goed.

Reg. Wat daarvan ons neem dan jou selfoon en rekenaar as voorbeelde? Dit is doodgewoon logies dat die 'gespesifiseerde kompleksiteit' of ingewikkeldheid van 'n selfoon of 'n rekenaar van a tot z 'n intelligente ontwerper vereis. Daar is geen ander moontlikheid nie. Dat iemand dalk 'n ontploffing wou gebruik om 'n selfoon of 'n rekenaar te maak is natuurlik met een woord belaglik.

Wat jy tot dusver gelees het is die rede waarom skeppingsgeloof baie meer sin maak as ateïstiese evolusie. Waarom? Skeppingsgeloof sê dat daar 'n Ontwerper is, wat tegelyk ook die Skepper is.

As mens mooi oor alles nading, leer evolusie eintlik die volgende:
Alles wat is, het alles wat is, self gemaak!!!

'n Mens sou dit ook kon omdraai en sê
Alles wat nie bestaan het nie, het alles wat bestaan, tot stand laat kom!!!

Dít, is wat ons kan noem totale sinloosheid!

Ons praat volgende keer oor kristalle.