Hanan Viljoen
Lees reeks by Evolusie - wat is dit en kan ek dit glo?
Seeskulpe bo in die berge!?
Ek het 'n tyd gelede 'n paar geologie boeke bekom waarin verskeie foto's van seediere se fossielopeenhopings verskyn. Hierdie opeenhopings bestaan hoofsaaklik uit fossiele van seediertjies en skulpe. Voorbeelde van hierdie skulp- en seedier- "begraafplase" het ek ook persoonlik bo in die Drakensberge naby Winterton gesien. Die feit dat die skulp- en seedierfossiele, wat op 'n stadium onder die seewater was, nou bo in die berge is sê vir ons dat dit saam met die aardkors boontoe 'opgedruk' moes gewees het. Wetenskaplikes glo dat hierdie fossiele wat bo in die berge is, saamgehang het met die plooiing of vouing van die aardkors wat deur die vloedwaters van Noag se vloed versag was. Dit is interessant om te weet dat seediere- en skulp-begraafplase ook by die pieke van Mount Everest in Tibet en China gevind word. Dit is meer as 8000 meter bo seëspieël, en ongeveer tweemaal so hoog as die hoogste bergpieke in Suid-Afrika! Verdere voorbeelde van hierdie 'plooiberge' is die Andes-gebergtes in Suid-Amerika, die Rocky Mountains in Noord-Amerika, en die Drakensberge in Suid-Afrika. Die enigste manier waarop die fossiele daar kon kom was toe die aarde onder water was tydens die vloedvan Noag, en toe die aardlae daarna deur kragtige verbuiging geplooi was.
Sjimpansees en Evolusie
Daar word vandag baie gepraat en geskryf oor die sjimpansee en die mens wat glo so eners is! Hierdie enersheid tussen die sjimpansee en die mens is volgens sommige evolusioniste 'n bewys daarvan dat die mens en die sjimpansee gemeenskaplike voorouers gehad het! Ander mense wat beïnvloed is deur Darwin se idees sal miskien sê dat die enersheid bewys dat die mense van die aap afstam! Of dit wel so kon gebeur het, gaan vir jou duidelik word uit die volgende dele van hierdie reeks.
'n Bekende professor in Dierkunde en Insektekunde aan een van ons universiteite, het onlangs oor die program Monitor van RSG gesê: "Die sjimpansee verskil minder as 2% van die mens"! Hiermee word die indruk geskep dat die sjimpansee feitlik die gelyke van die mens is. Is dit so? Of is dit 'n poging om die leuen van evolusie te bevorder?
Kom ons gaan bietjie dieper in op die saak van die sjimpansee en die mens.
Sê nou maar ons het 'n universiteit iewers in die wêreld waar twee tale onderrig word. Ons noem die twee tale, sê nou maar Taal A en Taal B. Taal A is 'n baie moeilike taal om verskeie redes. Dit kan byvoorbeeld 'n buitengewone groot woordeskat hê, of dit kan ook baie moeilik wees om die skrif van die taal te bemeester.
Taal B wat ook aan dieselfde universiteit onderrig word, is ook baie moeilik, maar darem nie heeltemal so moeilik as Taal A nie. Kom ons sê Taal B is net 2% makliker. Sou die universiteitsowerheid dit kon oorweeg om 'n baie slim sjimpansee aan te stel om hierdie tweede taal aan studente te doseer? "Belaglik", sou jy sê. "Geen sjimpansee is enige menslike taal magtig nie." Ure en ure se pogings om vir sjimpansees taal te probeer aanleer het in teleurstellings geëindig. Hulle kan wel soos honde en ander diere sekere menslike woorde koppel aan sekere dinge binne hulle leefwêreld, maar hulle kan nie in 'n geselskap deur middel van 'n taal met die mens 'n lopende gesprek voer nie. Om dus te sê 'n sjimpansee verskil net twee persent van die mens, net omdat hulle sekere liggaamlike eienskappe het wat soos die mense s'n is, is om nie met die ander feite oor die sjimpansee en die mens rekening te hou nie . Anders gestel, om die 'klein verskil' in sekere liggaamlike opsigte as bewys voor te hou dat die mens en die aap gemeenskaplike voorouers kon gehad het, is om die absolute verskil tussen aap en mens te ignoreer. Wat moet ons dit noem? Is dit dalk 'n poging van mense wat self mislei is om ander mense ook te mislei? Vir my lyk dit so!
Kom ons kyk 'n bietjie na die kilometer-wye verskille tussen die mens en die sjimpansee. Of miskien moet ons eerder begin by die ooreenkomste tussen aap en mens. Vir seker is daar ooreenkomste. Mense en sjimpansees het albei arms en bene en hande wat min of meer op dieselfde manier skarnier en werk. Elkeen het ook 'n brein en 'n liggaam met 'n skelet. Sou dit egter enigsins met die werklikheid rekening hou as ons sê dat omdat die mens en die aap ledemate het, en 'n brein, en 'n liggaam, hulle minder as 2% van mekaar verskil?
Kom ons vra nog 'n paar verdere vrae. Tem hulle wilde diere? Komponeer hulle simfonieë? Sing hulle en maak hulle musiek? Stuur hulle vuurpyle maan toe? Doen hulle navorsing? Beoefen hulle filosofie? Ontwerp en bou hulle geboue? Doen hulle orgaanoorplantings? Skilder hulle, en het hulle 'n aanvoeling vir die estetiese? Beoefen hulle wiskunde? Aanbid en prys hulle God as hulle wonderlike Skepper? Ons sou nog duisende ander hemelsbreë verskille tussen aap en mens kon aandui. Om dan nog verder soos die professor die oggend oor Monitor te sê: "Die mens ís 'n aap..." doen oneer aan dié God wat die mens na sy Beeld geskep het!
Vir my lyk dit dat om te sê dat die aap minder as 2% van die mens verskil, min of meer dieselfde is as om die volgende te sê: "Die beste en verste gevorderde armhorlosie ter wêreld verskil net 2% van die blikdekseltjie wat ons van die visblikkie afsny en in die asblik in die kombuis gooi. Die visblikdekseltjie en die horlosie is immers albei van metaal gemaak." So 'n redenasie, sal jy sekerlik saamstem, maak geen sin nie want dit ignoreer alle ander feite oor die dekseltjie en die horlosie wat saak maak.
Waar lê die werklike verskil tussen aap en mens? Vir seker is dit bo alles dáárin, dat God die mens "na sy Beeld en na sy gelykenis gemaak het" – Genesis 1 vers 26. Onder alle lewende, geskape dinge is die mens heeltemal uniek en in 'n ander klas. Hy het ook 'n ewige siel omdat God in sy neus die asem van die lewe geblaas het – Genesis 2 vers 7. Die mens se intelligensie en sy ander vermoëns oortref dié van die slimste aap duisend kere. Miskien moet ons eerder sê dat hulle gladnie vergelyk kan word nie!
Gevolgtrekking
Onthou die stelling van die professor –dat die mens en die aap net 2% verskil. Daar word dus gesuggereer dat die mens 98% dieselfde as sjimpansees is. As ons egter na die werklike reuse verskille tussen die mens en die sjimpansee kyk wat hierbo aangetoon is, dan is dit duidelik dat ons die syfers eerder moet omdraai en sê: Die mens is 98% verskillend van die sjimpansee en dalk minder as 2 % eenders. Daar is ook goeie wetenskaplike redes o mte glo dat solank as ons aarde bestaan, die verskille tussen aap en mens dieselfde sal bly. Dié redes sal ons in die volgende aflewering bespreek.
DNS (Engels DNA) en Evolusie...vervolg