Hanan Viljoen
Lees reeks by Evolusie - wat is dit en kan ek dit glo?
DNS (Engels DNA) en Evolusie
DNS is die afkorting vir die naam deoksiribonukleïensuur. Die Engelse afkorting "DNA" is miskien meer bekend. Hierdie DNS van die manlike en die vroulike ouers bevat die 'instruksies' vir die ontstaan, die ontwikkeling en die soort van die nageslag van alle lewende organismes. Dit geld dus vir plante, diere en mense. Hierdie 'instruksies' word ook genoem 'inligting' of 'kodes'. DNS bepaal dus wat alle eienskappe van die nageslag sal wees – ook die voorkoms, die geaardheid en die vermoëns. 'n Ander naam waaronder DNS bekendstaan, is 'argitek- of bloudrukplan vir die lewe'. Die DNS-ontstaaninstruksies word bewaar in twee spiraalgedraaide bandjies wat toegevou is en wat binne-in die kern van elke sel van die liggaam opgekrul lê. Die DNS van elke soort kan net die eienskappe van daardie bepaalde soort dier in die ontstaanproses voorsien, niks anders nie. Die instruksies of die inligting van die soort dier kan ook nie vermeerder word om 'n ander, meer gevorderde soort dier voort te bring nie. Daar bestaan ook geen voorbeelde dat dit al gebeur het nie. Prakties beteken dit dat die DNS van sjimpansee-ouers byvoorbeeld, gladnie kan verander word om iets anders as sjimpansee-babas voort te bring nie. God het bepaal dat elke lewende organisme, insluitend die mens en die sjimpansee, "volgens hulle soorte" vrugbaar sal wees en voortplant. Menslike DNS van mensouers is dus geskep om mensbabas en ook nét mensbabas met hulle unieke wonderlike menseienskappe voort te bring.
Laat my toe om iets van hierdie wonderlike menseienskappe vir jou te beskryf met die byna ongelooflik menslike vermoë van orrelkunstenaars om orrel te bespeel. Die verstand van die orrelis, deur middel van sy twee oë, lees vier tot tien note tegelyk van sy musiekboek af terwyl hy orrel speel. Sy brein stuur terselfdertyd die boodskappe van die vier tot tien note na die tien vingers van albei sy hande én ook na albei sy voete. Die twee hande en die twee voete druk tegelykertyd die korrekte note op die handsleutelborde en die voetpedale. Terwyl die orrelis sit en speel, doen hy ook waar nodig, verskillende klank- en oorgangverstellings met sy twee hande en soms ook met sy twee voete. Egte orrels het meestal twee tot drie handsleutelborde, terwyl sommige groot orrels tot vyf het. Hiervan bespeel die orrelis meestal twee gelyk met sy hande, terwyl albei voete in harmonie daarmee op die voetpedale saamspeel.
Ons kan nie anders as om saam met Dawid die Psalmdigter uit te roep nie: "Wat U gedoen het, vervul my met verwondering" (Psalm 139:14). As dit enigsins moontlik is, lees ook verse 13 tot 18 van die Psalm in jou Bybel.
Die meeste van die biologiese feite oor DNS is eers in die sewentiger jare van die vorige eeu ontdek. Dit was onder andere deur die studie van prof Francis Crick en enkele ander wetenskaplikes. Darwin het van hierdie feite nog glad nie geweet nie. Daarom kon hy nog glo dat een soort dier of plant kon oorgaan na 'n ander soort – dws evolusie.
Oneindige hoeveelhede besonderhede!
Afgesien van die breë karaktereienskappe van elke organisme wat deur die DNS na die nageslag oorgedra word, is daar ook die oneindige hoeveelheid klein besonderhede van elke orgaan van die liggaam wat in die nuwe individu se liggaam ingebou moet word. Orgaan vir orgaan moet die oordrag- en inbou-instruksies van hierdie eienskappe gedoen word, dws die brein, die oë, die ore, die hart, die niere, die longe, die skelet, ensomeer. In die geval van die mens vind dit alles deurlopend oor die swangerskaptydperk plaas totdat die nuweling gebore is. Die volledige plan en besonderhede van alle lewende organismes kom van die DNS van ouers af. Ons moet ook nie net dink aan die hooforgane van ons liggame nie. Ons moet ook onthou dat sekere organe, byvoorbeeld ons longe uit miljoene der miljoene klein deeltjies bestaan wat elkeen deur nog meer individuele selle baie kompleks gebou moet word. Die instruksies vir die bou van elke deeltjie en elke sel van elke orgaan moet dus een vir een vanaf die DNS-instruksiemolekules 'gegee' word. Elke soort selletjies, hetsy spierweefsel, beenweefsel of watse weefsel ookal, moet op die bepaalde weefsel se plekkie ingebou word.
As 'n mens as voorbeeld na die oog kyk word hierdie wonderlike proses nog duideliker. Nie alleen het die oog duisende 'onderdele' waarvoor daar vir elke klein deeltjie 'inligting' of 'bou-instruksies' gegee moet word nie maar die twee oë moet uiteindelik ook saamwerk om gesamentlik hulle funksie te vervul. Die talle oogsenuwees moet ook akkuraat aan die brein gekoppel word sodat die persoon kan sien en verstaan wat hy sien!
Omdat die instruksies vir die liggaamlike besonderhede deeltjie vir deeltjie in die DNS van elke sel gestoor word, is die hoeveelheid inligting wat dit bevat enorm baie! Dit is ook mikroskopies klein. Die inligting van een sel was al vergelyk met 500 stapels boeke van die aarde af tot by die maan. Al hierdie inligting word ook in die DNS van elke selletjie van elke lewende organisme gestoor! Elke soort organisme se DNS is ook anders. Die uiterlike genetiese materiaal mag eners lyk, soos die sjimpansee en die mens s'n maar die boodskap of inligting daarvan verskil hemelsbreed. Daarom is die nageslag van sjimpansees so totaal anders as dié van die mens. Ook vanaf elke mens of dier tot by die volgende mens of dier van dieselfde soort, verskil die DNS-inligting. Daarom is geen mens of dier ooit dieselfde as 'n ander mens of dier nie.
Op grond van wat hierbo aangetoon is, is dit duidelik dat geen dier of organisme se DNS ander soort bou-instruksie of inligting kan oordra as nét die eienskappe van daardie bepaalde soort nie. Om dit nog duideliker te sê: Die DNS-eienskappe van alle lewende organismes is onveranderbaar vasgestel. Daar kan dus nie verandering oor die grense van soorte plaasvind om evolusie te laat gebeur nie! Al wat kán gebeur is dat as gevolg van DNS wat verlore gaan, die nageslag van 'n dier sekere eienskappe van sy soort kan verloor. As daar 'n fout kom met die DNS, kan daar misvorming plaasvind – dit beteken dat die nageslag van so 'n organisme gebreklik gebore word. Die woord wat in die biologie daarvoor gebruik word is 'mutasie'.
*Vir meer inligting hieroor kan ek die boek van dr Geoffrey Simmons aanbeveel: "What Darwin didn't know", verkrygbaar van Creation Ministries International.
Om saam te vat: Omdat honde net hond-DNS het, kan hulle niks anders as klein hondjies voortbring nie. Hulle kan nooit ape voortbring nie. Dit geld ook vir elke soort plant, dier of mens.
Toe daar 'n tyd gelede vir die baie bekende evolusionis, prof Richard Dawkins gevra is of hy enige voorbeeld kan noem van 'n geval waar die inligting, dws die DNS-instruksies van diere vermeerder het om hoër ontwikkeling voort te bring, was hy met hierdie vraag baie verleë. Natúúrlik sou hy nie 'n voorbeeld van vermeerdering van DNS-instruksies kon noem nie want in Genesis 1 en 2 staan dit nie minder nie as nege keer geskryf dat God die plante, die visse, die voëls en die diere "volgens hulle soorte" geskep het. Sien hieroor veral Genesis 1 verse 20 tot 25. Alle soorte was dus van die begin af daar. Hulle het nie met die tyd ge-evolueer of ontwikkel nie. Van "die begin" af plant alle organismes ook voort volgens die DNS-instruksies wat God by die skepping in hulle geplaas het.
Waarom glo mense dan in evolusie?...vervolg