Ds.Andrè van den Berg
Die tussentoestand
Wat gebeur met jou wanneer jy sterf? Waarheen gaan jy? Hemel of hel toe? Nie een van die twee nie, maar wel na ‘n tussentoestand waaroor die Bybel die gordyn net so ‘n effentjies ooptrek. Hierdie tussentoestand is daardie tyd tussen jou sterwe en die dag van die opstanding met die wederkoms van Christus. Dis daardie toestand tussen nie meer op die aarde en ook nog nie in die hemel nie. So anders as ons aardse bestaan, is die hiernamaalse lewe nie vir almal eenders nie.
1. Die Paradys
Vir die gelowige wag die Paradys. Christus sê vir die bekeerde misdadiger aan die kruis dat hy saam met Hom in die Paradys sal wees. Die paradys is die wagkamer na die hemel.
Wat word van die ongelowiges? Hulle wagkamer word in Matt.25:30 die buitenste duisternis genoem. Die Ou Testament noem dit weer die doderyk. Dis ‘n verskiklike plek waar mense sal ween en op die tande kners omdat dit te laat vir bekering sal wees. Die paradys is ‘n kondisionele hemel en die buitenste duisternis of doderyk ‘n kondisionele hel.
Let op die kruisverhaal in Luk.23 waar die een kruiseling ontdek dat die Messias langs hom gekruisig is. “En een van die kwaaddoeners wat opgehang is, het Hom gesmaad en gesê: As U die Christus is, verlos Uself en ons. Maar die ander een antwoord en bestraf hom en sê: Vrees jý ook God nie, terwyl jy in dieselfde oordeel is? – ons tog regverdiglik maar... Hy het niks verkeerds gedoen nie. En hy sê vir Jesus: Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom. En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees".
Hierdie misdadiger is besig om te sterf. Jesus sê vir hom wat van hom gaan word sodra hy sy laaste asem uitblaas. Dis presies dieselfde as vir enigeen wat hom bekeer – hy maak sy oë in die Paradys oop. Die woord vandag kan dinamies met vir seker aanstons vertaal word. “Jy sal vir seker aanstons met My in die Paradys wees”. Jesus gee aan hierdie man die versekering dat wanneer hy sterf, hy ewige geluksaligheid by Jesus sal geniet.
Dit gee gelowiges die heerlike sekerheid dat hulle na die dood veilig en gelukkig by Jesus sal wees. In Fil.1 sien Paulus selfs daarna uit om te sterf omdat hy dan met Christus sal wees. Niks op aarde, selfs nie eens die dood, kan ons van Christus skei nie. Gelowiges kan nou alreeds oor die werklikheid van hulle saamwees met Christus na die dood opgewonde raak. Paulus skryf aan die Korinthiërs: “Want om hierdie rede sug ons ook en verlang om met ons woning uit die hemel oorklee te word”.(2:5:2).
2.Die buitenste duisternis/doderyk
Die Ou Testament noem die buitenste duisternis die doderyk. Dit klink geheimsinnig, ja, selfs beklemmend! Daar is ‘n verskil van mening of die doderyk ‘n spesifieke plek en of dit maar net iets oor die onslapenes se toestand sê. Die woord doderyk word in die OT soms as teenstelling met hemel gebruik.
In die OT is die hemel as die boonste en die doderyk as die onderste deel van die skepping gesien. In Ps.139:8 skryf koning Dawid: “Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar”. Die doderyk word ook met beelde uit ‘n gevangenis beskryf. In Ps.18:6 sê Dawid: “Bande van die doderyk was rondom my…” Daaruit lei ons af dat daar wel so ‘n plek is.
Die OT gebruik verskillende beelde om die plek van die verlorenes te beskryf. Dis ‘n donker plek. In Job.17:13 sê Job: “As ek hoop op die doderyk as my huis; in die duisternis my bed uitsprei”. Die doderyk is ‘n onderaardse diepte wat nie genoeg van dooies kan kry nie. In Spr.27:20 sê Salomo: “Die doderyk en die plek van vertering word nie versadig nie” Dis 'n plek waar baie mense is. In Jes.5:14 sê die profeet: “Daarom het die doderyk sy keel wyd oopgemaak en sy mond uitgerek sonder maat…”
Die doderyk verwys ook na die graf. In Ps.88:12 is die woord vir graf dieselfde as vir doderyk. Dood, doderyk en graf lê binne dieselfde betekenisveld. In die doderyk tel belangrikheid nie. In Jes.14 het ons met ‘n spotlied te doen wat oor die dood van ‘n wêreldheerser en die ondergang van sy ryk handel. Die treurige toestand waarin hy hom na sy dood in die doderyk bevind, staan in skrille teenstelling met sy eertydse glorie. Sy heerlikheid het soos ‘n ster verskiet. In die doderyk kom aardse status, ereposisies en rykdom tot niks. Daar is geen voorkeur nie. Let maar op Christus se gelykenis van Lasarus en die rykman in Luk.16.
Is God ook in die doderyk teenwoordig? Nee, in Ps.88 word die doderyk as ‘n Godverlate plek voorge-stel en handel oor ‘n man met die naam van Heman se worsteling met God. Hy is baie ernstig siek en voel dat die dood naby is. In vers 5 beskryf hy sy toestand en sê: “Ek word gereken by die wat in die kuil neerdaal…” Dit voel vir hom asof hy met die een voet in die graf en alreeds tussen die dooies is.
Die dood is nie die oomblik waarop die mens sy laaste asem uitblaas en die lewe verloor nie. Dis nou alreeds ‘n werklikheid wat in die lewe van die mens ingryp. Die tot-die-dood-toe siek Heman bevind hom reeds in die doodgebied. In vers 4 sê hy : ”…en my lewe raak aan die doderyk” .
Ps.49 trek ook vir ons die gordyn weg sodat ons in die doderyk kan sien wat met die goddeloses gebeur. Hierdie Skrifgedeelte sê vir ons dat dit vir sulke mense vir ewig te laat is om reg te maak. Vers 8 lui: “Niemand kan ooit ‘n broer loskoop nie; hy kan aan God sy losprys nie gee nie”. Verder belig hierdie psalm vir ons spesifiek die lot van die goddelose rykes. Hulle aardse besittings kan hulle nie van hul roemlose dood bevry nie. Alles waarop hulle hul lewe lank vertrou het, verdwyn met hulle dood.
Die dood is vir ongelowiges ‘n finale en onomkeerbare afsnyding van God. Hulle word onmiddellik gevangenes van die doderyk. Die sterwe is nie so erg as om vir ewig van God geskei te wees nie. In Matt.16 staan daar vir ons iets belangriks oor die doderyk opgeteken. Toe Christus by geleentheid alleen met sy dissipels was en Petrus ‘n geloofsbelydenis doen, sê Jesus vir hom:“Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie” (:18).
Die doderyk word hier as ‘n stad met groot en ondeurdringbare hekke voorgestel waarbinne die dooies soos in ‘n tronk aangehou word. Deur sy Bloed het Jesus hierdie hekke oopgebreek om mense van die mag van die dood te bevry. Daarom durf gereddes nie die dood vrees nie. Al sterf hulle een vir een, sal hulle nie in daardie verskriklike stad beland nie. Daarvoor het Jesus die Paradys voorberei.
In Openbaring word die doderyk op drie plekke met die dood verbind. Christus was werklik dood, maar het waarlik opgestaan en beskik volgens Openb.1:18 oor die sleutels van die doderyk. Hier kry ons weereens die voorstelling van die doderyk as ‘n tipe van gevangenis waarvan die sleutel in die hand van die opgestane Jesus is.
In Openb.6:8 word die dood as ‘n ruiter op ‘n vaal perd voorgestel wat deur die doderyk begelei word. Die doderyk tree hier as ‘n luitenant van die dood op. Die ruiter en sy luitenant is op ‘n wêreldwye sending om mense met die swaard, pessiektes en hongersnood dood te maak. Die doodslag neem so ‘n omvang aan dat ‘n kwart van die mensdom sterf. Dan kom die laaste oordeel en die prentjie verander drasties. Christus se opstanding uit die dode laat Hom oor die dood triomfeer waarna die dood die aftog blaas. Openbaring verseker ons dat wanneer Christus weer kom, die see en die doderyk al die dooies sal gee wat daarin is. Daarna word die doderyk in sy geheel in die ewige poel van vuur gewerp.
Gelowiges daarenteen verkry almal deel aan Christus se oorwinning en word opnuut aan Hom verbind. Lees gerus Rom.8:31-39. Selfs die dood kan nie die daardie band wat op aarde met Christus gevorm is, vernietig nie. Openb.21 sê dat die dood self vernietig word.