GOUE STRATE HET NIE STOF NIE (3)

Ds.Andrè van den Berg

Ons buitekant

Wanneer die Bybel van die mens as stof praat, verwys dit na sy verganklike liggaam.  Verganklikheid beperk ons krag en vermoëns.   God alleen is onbeperk en onverganklik omdat Hy nie ‘n liggaam het nie.  God het die mens as kroon van sy Skepping gemaak.  Behalwe dat die mens met God kan praat,  verskil hy in nog ‘n opsig baie groot van die dier.  Die dier se liggaam verteenwoordig sy volle bestaan, maar nie diè van die mens nie.  Die mens se liggaam is slegs die buitekant van sy bestaan.  So anders as die dier, het hy ook ‘n binnekant.

Net so min as wat ‘n ruimtevaarder sonder ‘n ruimtepak in die buitenste ruimte kan oorleef, kan ons op aarde sonder ‘n liggaam leef.  Die ruimtepak verteenwoordig egter nie die ruimtevaarder se volle bestaan nie.  Die ruimtepak is slegs sy buitekant.  Die werklike ruimtevaarder is binne in die pak.  So het die mens ook ‘n binne- en buitekant wat liggaam en siel genoem word.   Wanneer die Bybel derhalwe van die mens as stof of liggaam praat, herinner dit ons daaraan dat ons eendag uit ons stoflike pak sal moet klim.  Dit is die dood.

Ons aardse bestaan is soos ‘n reis.  Ons is van ons geboorte af oppad na die dood.  Sommige reis lank, ander weer kort.  Die ruimtevaarder is nie vir altyd in sy ruimtepak nie, daar kom ‘n dag dat hy dit sal uittrek.  So is ons nie vir ewig in ons liggame nie.   Ons sal op ‘n dag daarvan ontslae moet raak.  Dit beteken nie dat ons ophou bestaan nie.  Die ruimtevaarder hou mos nie op bestaan wanneer hy sy ruimtepak uittrek nie.  Hy bestaan nog steeds, net ‘n bietjie anders.  So ook die mens na sy dood.

Die woord bestaan dui op iets wat ‘n begin en ‘n einde het.  Iets wat bestaan, word aan tyd en vorm gekoppel.  Kom ons let kortliks op hierdie twee elemente en begin by tyd.  Wat beteken dit om aan tyd gebonde te wees?  Dat die lewende skepping in die tyd gebore word en daarmee saam beweeg.   Daarom word mense, plante en diere by die dag ouer.   Dis die tydsaspek.  Tweedens is daar die vormaspek.   Die lewende skepping het sekere vorms of  liggame.  Ons aardse bestaan is tydelik-liggaamlik. Ons gaan ons liggame nie vir ewig by ons hê nie.  Ons kan dit nie saam met ons die ewigheid inneem nie. Ons skud dit deur die dood af soos ‘n slang wat vervel.

Ons moet egter nie ons liggame nie as ‘n lastigheid sien nie. God het dit geskep en behoort eerstens aan Hom.  Die Heidelbergse Kategismus sê dat ons met liggaam en siel nie aan onsself  maar aan God behoort.  Daarom mag ons nie met ons liggame na goeddinke handel nie.  Dis is vir die Here so kosbaar dat Hy dit as woonplek van die Heilige Gees uitgekies het.  1 Kor.6:19: “Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julleself behoort nie?”

Ons liggame is ook vir God belangrik omdat ons Hom daarmee dien.  Gevolglik verwag Hy dat elke deel daarvan in sy diens sal staan.   Lees gerus Rom.6.  Al is dit so dat die liggaam deur die dood tot niet gaan, sal dit met die wederkoms weer opstaan.  Die natuurlike liggaam wat as’t ware in die grond gesaai is, sal as geestelike liggaam opgewek word.