GOUE STRATE HET NIE STOF NIE (4)

Ds.Andrè van den Berg

Ons binnekant

In skerpe teenstelling met ons liggaam is ons binnekant, ons siel, onsterflik.  Dis die deel van jou wat die dood vryspring.  Net jou buitekant sterf; nie jou binnekant nie.  Die ou Griekse filosowe het die liggaam as die tronk van die siel gesien en die dood as ‘n bevryder daarvan.  Nee, dis darem te negatief!

In Rom.8:38,39 jubel Paulus as hy sê dat die dood ons nie eens van die liefde van God kan skei nie.  Na ons dood bly ons nog steeds in God se veilige sorg.  Vir gelowiges is die dood derhalwe geen nare oordeel nie, maar ‘n nuwe begin by God.

Voor die sondeval was die brug tussen God en mens oop.  Sonde het dit egter vernietig.  In die volheid van die tyd het God sy Seun na die aarde gestuur om dit te herstel en deur sy dood en opstanding het Jesus vir ons die Brugbouer tussen lewe en dood geword.  Jy kan nie anders by God uitkom as oor die brug van die dood nie.

1. Die ewige lewe

Gelowiges het ‘n unieke bestaanswyse wat die ewige lewe genoem word.   Ek wil waag om te sê dat meer as 90% van alle mense die begrip ewige lewe verkeerd verstaan.  Die meeste mense meen dat dit eers met jou laaste asemuittog in aanvang neem.  Nee, die ewige lewe begin reeds hier op aarde.  Dis die nuwe lewe wat jy met jou wedergeboorte verkry.  Jy bekom ‘n wonderlike lewe wat nie eens deur die dood vernietig kan word nie!  Die dood vernietig slegs jou buitekant; nie jou binnekant nie. Na die dood leef jy voort; net heelwat anders en baie beter as voor jou dood.

‘n Ruimtevaarder lyk mos baie anders binne in sy ruimtepak as daarbuite.  So sal ons ook anders lyk nadat ons ons buitekant verlaat het.  Dit gaan ons nie minder lewendig maak nie.  Net soos wat ‘n ruimtevaarder nie minder lewendig buite sy ruimtepak as daarbinne-in is nie, sal ons nie sonder ons liggaam minder leef nie.  Ons siele leef tot in alle ewigheid.

In hierdie opsig is ons lewe soos die son wat agter die horison verdwyn.  Dit lyk asof dit weg is, maar in werklikheid hou dit aan om te skyn. D.L Moody het by geleentheid gesê: “Eendag sal julle in die koerant lees dat DL Moody dood is.  Moenie ‘n woord daarvan glo nie!  Op daardie oomblik sal ek meer lewendig as ooit tevore wees!” Luister wat sê Jesus in Joh.11:25: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe”. Ag, as mense dit maar net wil glo en anders oor die dood begin dink!

Ons kan nie ons saligheid koop nie.  Dit word slegs deur die wedergeboorte verkry.  Nie ons voorbeeldige lewe, onbesproke kerkgang, groot dankoffers of wat ookal nie – slegs die wedergeboorte.  As jy nie tot bekering kom nie, het jy geen deel aan die ewige geluksaligheid nie.  Daarom is die bekering die allerbelangrikste stap wat ‘n mens ooit in die lewe kan maak.  Alle ander is minder belangrik.

Mense sê maklik: “Ja, ek glo in die Here Jesus”. Maar glo hulle werklik?   Is dit nie maar blote erkenning nie?  Blote erkenning verseker jou nie van die ewige lewe nie. Die Skrif sê dat selfs die bose geeste Jesus erken en ons weet dat hulle vir die hel bestem is.

Hoe weet ‘n mens of jy regtig glo en of jy jouself nie dalk bedrieg nie?  Dis eintlik maklik: Kyk na jou lewe. As jy soos ‘n kind van God leef, is jy een.  Maar as jy nie soos een lewe nie, bedrieg jy jouself deur te meen dat jy glo.  Jou lewensstyl moet ‘n bewys van jou geloof wees.  In Matt.3:8 sê Jesus: ”Dra dan vrugte wat by die bekering pas”. Jesus is ons hemelse vrugte-inspekteur.

Die Bybel gebruik ook die woord slaap as versagtende term vir die dood.  As iemand pas oorlede is, lyk dit soos iemand wat slaap. As Jesus die woorde slaap of ontslaap gebruik, dui dit op sy Heerskappy oor die dood.  Hy sal die dooies net so maklik opwek soos om ‘n slapende wakker te maak.

2. Die hemel

2.1  Die heelal

Kom ons let vervolgens op die hemel.  Ons volkslied begin met die woorde: “Uit die blou van onse hemel….” en die modelgebed met: “Onse Vader wat in die hemel is…” Beide praat van hemel.  Word hier dieselfde plek bedoel?  Nee, die volkslied verwys na die onmeetlike blou lug bo ons, terwyl die Onse Vader van God se woning praat.

As Gen.1:1 van die hemel praat, dui dit op die plek waar sterre en wolke is. In Luk.18:13 lees ons: “En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie…” Hierdie hemel is nie die woonplek van God nie, maar die heelal.  Uit hierdie hemel kan daar selfs lig skyn soos met die bekering van Paulus en die geluid van ‘n geweldige rukwind kom soos op Pinksterdag gehoor is.  Die feit dat hierdie hemel geskep is, sê dat dit verganklik is.  Daarom het ons in Openb.21 die belofte van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde.

2.2  Die woonplek van God

In Opben.4 sien Johannes hoe dit in die hemel, die woonplek van God, lyk.  God is daar op die troon vanwaar sy Oppergesag en heerskappy uitgaan.  Daarby getuig Paulus in Efes.1:10 dat Christus in die hemel aan God se regterhand sit vanwaar Hy sy kerk regeer. Geen mens kan hom die hemel voorstel nie.  Dis totaal anders as die aarde.

3.  Ten volle bewus

3.1 Die groot vraag

Die groot vraag wat gevra word, is of ons mekaar na die dood sal herken?  Ja, ons sal, maar met ‘n verskil.   Ons aardse verhoudings verdwyn sodra ons aardse bande verbreek word.  Ons verhoudings met mekaar sal totaal anders wees. In die hiernamaals is daar bv.geen huweliksverhoudings nie omdat gelowiges se aandag geheel en al op God gerig sal wees.

Dit moet ons egter nie ontmoedig om ons lewens aan die Here te gee nie.  Ons moenie uit die oog verloor dat alles daar volmaak gaan wees nie.  Dit sluit ook ons verhoudings in.  Dit gaan baie sinvoller en heerliker wees.  Die Bybel lig ons egter nie volledig oor die aard van ons verhoudings in nie omdat alles in die hiernamaals uiteraard om Christus draai.

3.2  ‘n Insiggewende gelykenis

Die gelykenis van Lasarus en die ryk man (Luk.16) sê vir ons baie duidelik dat ons wel van mekaar bewus sal wees.  Hierdie verhaal ontvou in twee bedrywe.  In die eerste bedryf is daar twee spelers nl. ‘n ryk en ‘n arm man.  In die tweede bedryf word hierdie rolle omgedraai wanneer die ryk man arm word en in die verdoemenis beland terwyl die arm man geestelik ryk en is gelukkig by Abraham is.

Die doel van hierdie gelykenis is nie om inligting rakende die hiernamaals na mense deur te sein nie.  Die bedoeling is om die hoorder reeds hier op aarde tot ‘n beslissing aan te spoor omdat dit sy hiernamaalse woonplek bepaal.

In die eerste toneel verskyn die rykman in al sy glorie op die toneel.  Hy bly in ‘n spogbuurt, dra die beste klere en leef feestelik.  Sy lewe is vol prag en praal.  Ons moet dit egter nie teen hom hou dat hy die arme Lasarus nie na sy feeste uitgenooi het nie.  Die ou Oosterse wêreld het baie skerp sosiale teenstellings geken.  Glansende rykdom en skreiende armoede het niks met mekaar in gemeen gehad nie.  Gevolglik het die twee karakters slegs in ‘n bepaalde verhouding tot mekaar gestaan.  Die ryke het die bedelaar slegs tot by sy agterdeur toegelaat.  Lasarus het geleef van die brood wat die gaste gebruik het om hulle vingers mee skoon te vee en daarna vir die honde onder die tafel gegooi is.

Die tweede bedryf verskil geheel en al van die eerste.  In die eerste val die kollig op die rykman en die arm Lasarus.  Die tweede toneel verskil so ingrypend, dat dit net sowel die opskrif: Die arm man en die ryk Lasarus, kon gehad het.  Van Lasarus kan ons sê dat hy in die geselskap van honde geleef, maar in die geselskap van engele gesterf het.

God sorg vir hom in sy sterwensoomblikke wanneer die engele hom na ‘n ereplek by Abraham, soos die Pardys hier genoem word, dra.  Die dood is soos ‘n grimmige hekwagter wat ons by ‘n pragtige paleis inlaat. As Lasarus sy oë oopmaak, gewaar hy sy verruklike geestelike rykdom.  Die graf was nie vir hom ‘n doodloopstraat nie, maar ‘n deurgang.   Toe sy lewensdeur in die skemer van sy bestaan toegegaan het, het dit op die dagbreek oopgemaak.

Ek glo dat die Paradys ‘n plek van heilige verwondering is.  Nie soseer vir sy skoonheid as voorportaal tot die hemel nie, maar veral vir die gereddes wat alreeds daar is.  Ons gaan daar mense kry wat ons nooit verwag het om daar te sien nie!   Die Paradys sal soos ‘n oneindige groot museum van wonders en genade wees.  Dit sal soos ‘n paleis van wonderwerke wees wat elke nuwe aankomeling sal verras!

In die gelykenis sterf die rykman terselfdertyd; net wanneer hy dit die minste verwag.  Ja, van alle besoekers is die dood die mees aangekondigde een, maar ook die mins verwagte een.  Wanneer die rykman sy oë oopmaak, gewaar hy sy skreiende geestelike armoede.  Hy is in die doderyk en ervaar intense pyn. Wat ‘n ontnugtering!  Dood is geen ewige slaap soos wat hy gedink het nie, maar ‘n ewige wakkerwees!   Sy hiernamaalse verblyfplek is vir hom ‘n pynlike werklikheid.  O, hoe kan iemand wat sy siel verwaarloos het ooit die hemel wil betree?

Hoe verskriklik moet dit nie vir ‘n mens wees om net vir ‘n minuut in die hel te verkeer nie!  Hoe sal jy nie wens dat jy die saak met jou Skepper betyds reggemaak het nie.  Maar nou ja, daar is nie so ‘n ding soos ‘n minuut in die hel nie, maar ‘n ewigheid!  Eenmaal verlore, altyd verlore.

Die rykman tree bewustelik op en soek hulp.  In die verte sien hy Abraham met Lasarus langs hom. Sy herinneringe aan die aardse lewe is dus nie uitgewis nie.  Hy onthou en herken dan nog!  Maar waarom wend hy hom tot Abraham?  Omdat hy van hom afstam.  Hy vra die aartsvader om Lasarus in sy belang te stuur.  Sy versoek is gering - hy vra net dat Lasarus aan hom sal doen wat hy vir Lasarus op aarde gedoen het – ‘n krummeltjie van sy oorvloed, ja, ‘n spatseltjie water om die ergste brand te blus.

Hierdie gelykenis bevestig onomwonde dat die buitenste duisternis ‘n plek van geweldige pyn is.  Uit Abraham se antwoord lei ons af dat dit beter is om aardse gebrek te lei en die geloof te verkry, as om aardse rykdom maar geen hemelse skatte te hê nie.  Oor een ding moet ons darem net helderheid hê: Rykdom as sulks is nie ‘n diskwalifikasie vir die ewigheid asof armoede ‘n voorwaarde daarvoor is nie.   Abraham was immers self een van die rykste mense van sy tyd.  Daar is geen inherente verdienste aan armoede nie. Wie arm is, verkry nie op grond van sy armoede outomaties toegang tot die hemel nie.