Ds.Andrè van den Berg
DRIE VRAE OOR DIE HIERNAMAALS
‘n Onveranderbare situasie
Kan ‘n mens jou situasie in die hiernamaals verander soos wat die Jehowagetuies bv.leer? Kyk weer na die gelykenis. Dit belig ook die oorsaak van die man se verwerping en die guns wat aan Lasarus betoon word. Die verskil tussen ryk en arm is tydelik van aard. Die dood wis hierdie grens onmiddellik uit. Wat na die dood volg, kan nie verander word nie.
Ons sien die onherroeplikheid van die man se toestand al te duidelik in sy versoek aan Abraham as hy vra dat Lasarus sy broers moet gaan waarsku sodat hulle nie ook in die plek van pyn beland nie. Die onherroeplike, ellendige toestand van die man is die gevolg van sy ongehoorsaamheid aan God. Hy was ryk, maar sonder God. Daar was geen plek vir God in sy weelde, feeste en lewenswyse nie. Daarvoor was sy program net te vol. Ja, so vol dat daar kwalik plek vir sy naaste was nie. Ons hiernamaalse situasie kan nie omgekeer word nie!
Gehoorsaamheid
Nog ‘n vraag wat gevra word, is: Kan ‘n mens alleenlik deur gehoorsaamheid aan God se wil die ewige straf vryspring? Ja. Lasarus se armoede is nie sy redding nie. Sy lewe het uit een groot noodkreet bestaan dat God moes help. En God het!
Ons word nie met ‘n keuse tussen rykdom en armoede gekonfronteer nie, maar met ‘n keuse tussen gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid aan God se Woord en wil. Die eerste stap na die hemel, is om in Jesus Christus te glo. Jy moet rekenskap kan gee of die saak tussen jou en die Here reggemaak is. Onthou: Sonde het dit gebreek. Slegs bekering herstel dit.
Prioriteite
Heg jy meer waarde aan aardse dinge as aan die dinge wat van ewigheidswaarde getuig? Indien dit die geval is, wag daar na hierdie lewe ‘n verdiende loon – die pyn van die buitenste duisternis met sy ewigdurende, onveranderbare toestand. As jy egter aan God gehoorsaam is, het jy ‘n blye vooruitsig om saam met Jesus in die Paradys in hemelse vreugde te verkeer!