Ds.Andrè van den Berg
Die ewige verdoemenis
Baie mense glo nie in ‘n hel wat werklik sal brand nie. Dis glo ‘n simboliese vuur en steur hulle gevolglik nie daaraan nie. As iemand my ‘n simboliese hou oor die kop sou gee, sal dit my mos nie pla nie. Nee, die hel is nie simbolies nie, maar ‘n waaragtige poel van vuur wat vir ewig brand. Gaan kyk maar gerus: Mense wat die bestaan van die hel ontken, leef almal in vrees vir die oordeel!
O, hoe verskriklik sal dit nie wees om getroue kerkgangers eendag in die hel te sien brand nie! Hoe verskriklik sal dit nie wees as ouers hulle kinders of kinders hulle ouers daar sal sien nie! Ek kan my geen groter droefheid indink as ‘n persoon wat die hel met sy vader se gebede op sy voetstappe en sy moeder se trane op sy kop instap nie!
So baie mense hang as’t ware aan ‘n dun draadjie oor die rantjie van die hel. Dit kan enige tyd breek. Net ‘n laaste asemteug of ‘n vinnige hartstilstand en jy is in die ewige verdoemenis sonder hoop en sonder God. Hoe op aarde kan mense daarmee saamleef?
Iemand sê by geleentheid vir my dat hy nooit rustig sou kon leef indien hy aan die bestaan van die hel sou moes glo nie. Ek vra hom toe watter reg hy het om enigsins rustig te leef? Ja baie mense lag miskien oor die hel, maar hulle gaan hulle nie daaruit lag nie!
Ons Here Jesus was baie duidelik oor die hiernamaalse lot van die goddelose. Hy was nie valslik simpatiek oor hulle nie. Nog minder het Hy geswyg wanneer Hy hulle moes waarsku. Wie die goddelose nie van sy weg en lewenswandel waarsku nie, doen hulle die grootste onreg aan.
Baie mense glo dat God, omdat Hy ‘n God van liefde is, geen mens verlore sal laat gaan nie. Vir so ‘n persoon wil ek net een vraag vra: “Sê God dit in sy Woord?” As dit daar staan, sal ek my toga ophang en onmiddellik van beroep verander! Maar omdat dit nie daar staan nie, het ek alle rede om mense dringend te waarsku!
Mag elkeen van ons so gereed vir die hiernamaals wees, dat ons kan bid: “Here, as iemand vandag moet sterf, laat dit ek wees, omdat ek die gereedste daarvoor is.