Die mooi liefdesverhaal wat vir ons in die Bybel opgeteken is
Lees reeks by RUT
JP Botha
In die stadspoort
Boas het direk na die poort gegaan en daar gaan sit. Hier is gereeld ooreenkomste aangegaan en geskille besleg. Vandag is hier ook ‘n klompie nuuskieriges teenwoordig.
Boas sien die ander verlosser verbystap en roep na hom: “Kom hiernatoe, vriend, ek wil met jou praat.”
Toe hy by hulle gaan sit, roep Boas nog tien ander leiers uit die dorp en vra dat hulle as getuies moet optree. Hy sê vir die ander losser: “Naomi wat uit Moab teruggekom het, wil die landerye wat aan Elimeleg, ons bloedverwant behoort het, verkoop. As jy die landerye wil hê, moet jy jou hier as verlosser verklaar. As jy nie wil nie, moet ek dit nou weet, want ek is die volgende losser na jou.”
Die man sê: “Dis goed. Ek sal as losser optree.”
“Dan moet jy ook met die Moabitiese vrou, Rut, trou, sodat sy kinders kan hê en haar man se naam voortsit en die landerye in die fasmilie hou.”
“Nee, dan kan ek nie los nie, want dan bederf ek my erfdeel. Neem jy asseblief my lossingsreg oor, want ek kan nie los nie.”
Boas trou met Rut
Toe sê Boas vir almal wat daar sit. “Julle is vandag getuies dat ek alles wat aan Elimeleg, Giljon en Maglon behoort het, uit die hand van Naomi koop. Ek verwerf ook vir Rut, die Moabitiese, die vrou van Maglon, vir my as vrou, sodat die naam van die dode nie uitgeroei word nie. Julle is getuies.”
Toe sê al die getuies: “Ons is getuie. Mag die Here die vrou wat nou in jou huis kom, maak soos Rachel en Lea, van wie die hele volk afgestam het.
Boas het toe met Rut getrou en sy het vir hom ‘n seun gegee. Sy naam was Obed.
Naomi se nuwe geluk
Toe sê die vroue van die stad vir Naomi: Loof die Here wat vir jou ‘n losser gegee het. Hy sal jou siel verkwik en jou in jou grysheid versorg. Jou skoondogter wat vir jou meer werd is as sewe seuns, het hom vir jou gegee.
Naomi het die kind geneem en op haar skoot gesit. Sy het sy pleegmoeder geword.
Obed in die geslagsregister van Dawid
Boas was ‘n afstammeling van Peres, die stamvader van Juda. Obed was die pa van Isai, koning Dawid se pa.
Die Here het hierdie mooi verhaal van Naomi en Rut laat plaasvind om vir ons te toon dat Hy in die aardse voorgeslag van sy heilige Seun, onse Here Jesus Christus, ook gebruik gemaak het van ‘n nie-Israelitiese heidense vrou, die Moabitiese meisie Rut, wat haar so volkome vereenselwig het met Israel en geglo het in die Here hulle God.
Is daar nie ook iets goeds in jou lewe weggelê wat jy nog vir Hom moet doen nie?
Die heel mooiste liefdesverhaal in die Bybel staan in Johannes 3 vers 16 en lui só:
Want só lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe kan hê.