DIE DERDE TEMPEL (11) (SLOT)

Ds Andrè van den Berg

Lees reeks by DIE DERDE TEMPEL

DIE WARE TEMPEL

1.    Die nuwe verbond

Die Tempelgenootskap samel tans wêreldwyd fondse vir die bou van die Derde Tempel in.   Selfs onder Christene.  Gelowiges durf geen bydrae maak nie!   Die vernietiging van die Tweede Tempel was ʼn duidelike teken dat die Jode nie meer God se uitverkore volk was nie.   Hy het sy goddelike guns aan ʼn nuwe Israel gegee.

“Ek weet dat julle die geslag van Abraham is; maar julle probeer om My om die lewe te bring, omdat my woord geen ingang in julle vind nie” (Joh.8:37).

“Ook nie omdat hulle Abraham se nageslag is, is hulle almal kinders nie…” (Rom.9:7).

“En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename” (Gal.3:29).  

God het ʼn nuwe verbond met gelowiges aangegaan.

Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ʼn nuwe verbond sal sluit; nie soos die verbond wat Ek met julle vaders gesluit het … Maar dit is die verbond wat Ek ná diè dae met die huis van Israel sal sluit…Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart…En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer ken nie en sê: Ken die Here; want hulle sal My almal ken…want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie” (Jer.31:31-34).

Hierdie nuwe verbond word aan ʼn inwoning van die Heilige Gees gekenmerk.

“En Ek sal julle ʼn nuwe hart gee en ʼn nuwe gees in julle binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ʼn hart van vlees gee.  En Ek sal my Gees in julle binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen” (Eseg.36:26,27).

2.  ʼn Nuwe tempel

Die nuwe verbond het ook ʼn nuwe tempel - gelowiges se liggaam.

“Of weet julle nie dat julle liggaam ʼn tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God ontvang het, en dat julle nie aan julleself behoort nie?  Want julle is duur gekoop.  Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort” (1 Kor.6:19,20).

Dit sluit by Christus se woorde in Joh.2:19 aan: “Jesus antwoord en sê vir hulle: Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek dit oprig. In vers 21 verklaar Johannes dit: “Maar Hy het oor die tempel van sy liggaam gespreek” (:21).

Petrus praat ook van die nuwe tempel: “Kom na Hom toe, die lewende steen wat deur die mense wel verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar is; en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ʼn geestelike huis, ʼn heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus” (1 Pet.2:4,5).

Gelowiges is deel van hierdie liggaam van Christus (die kerk). “Weet julle nie dat julle ʼn tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?” (1 Kor.3:16).  Paulus praat van ʼn nuwe tempel terwyl die ou een nog op die Tempelberg gestaan het.  Wat ʼn ingrypende verandering moes daar nie in die gedagtegang van die gelowiges plaasgevind het nie!   Dit het geheel en al van die tradisionele opvatting verskil.

Die bou van die Derde Tempel sal vir gelowiges geen geestelike waarde hê nie.  “En Jesus antwoord en sê vir hom:  Sien jy hierdie groot geboue?  Daar sal sekerlik nie een klip op die ander gelaat word wat nie afgebreek sal word nie!” (Mark.13:2).

3.   Die enigste doel van die Derde Tempel

Die mensdom smag na vrede en die Antichris gaan dit oënskynlik gee.   Daarvoor het hy ʼn platvorm nodig – die Derde Tempel.   Hy gaan geen ware vrede bring nie, maar ʼn valse vrede wat mense onkant gaan betrap. “Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid – dan oorval ʼn skielike verderf hulle soos die barendsnood ʼn swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie” (1 Thess. 5:3).

Christus keer nie ter wille van ʼn valse vredesverdrag terug aarde toe nie.  Nog minder kom Hy die herinstelling van die offerdiens in tempel betrag.   Hy kom om ʼn einde aan alles te maak en die mensdom te oordeel (Openb.20:11-15).

Die bou van die Derde Tempel is wel deel van God se eindtydplan met die wêreld.   Hierdie gebou gaan egter ʼn heel ander doel dien.  Dit gaan nie tot God se eer strek nie.   Dis die hoofkwartier van die Antichris!

5.  ‘n Voorafskaduwing

Gelowiges het geen gemene sake met diegene wat Christus verwerp nie.  Wie die bou van die Derde Tempel ondersteun, minag in werklikheid die soenoffer van Christus.   Die skrywer van die Hebreërbrief waarsku juis hierteen!

“...wat nie elke dag nodig het, soos die hoëpriesters, om eers vir sy eie sondes te offers te bring en dan vir diè van die volk nie.  Want dit het Hy net eenmaal gedoen toe Hy Homself geoffer het” (Hebr.7:27).

“Nadat Hy hierbo gespreek het: Slagoffer en spysoffer en brandoffers en sondoffers wou U nie hê en het U nie behaag nie – wat volgens die wet geoffer word – het Hy daarna gesê: Kyk, Ek kom om U wil te doen, o God.  Hy neem die eerste weg om die tweede te stel.  Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal.  En elke priester staan wel dag vir dag om die diens waar te neem en dikwels dieselfde slagoffers te bring wat tog nooit die sondes kan wegneem nie” (Hebr.10:8-11).

Hebreërs verklaar die boek Levitikus.  Dit wys gelowiges hoe al die beginsels van die wet in Christus vervul is.   Die skrywer daarvan sê dat God deur Christus baie meer aan gelowiges gegee het as wat Hy ooit deur Moses aan hulle gegee het.  Daarom het die tempelgordyn geskeur toe Christus gesterf het.   Die wet is vervul.

6.  Die Jode luister nie

Die Tweede Tempel is juis verwoes omdat die Jode Christus as Messias verwerp het.  God het hulle gestraf deur beide die stad en die tempel te vernietig soos Daniël eeue tevore voorspel het.   Ten spyte van alles wil hulle nog steeds nie luister nie.   Die Jode het die eerste geleentheid gehad om Christus as die Messias te aanvaar, maar het nie.  Vandag wil hulle as’t ware hul tempel terughê sonder om hulle tot Christus te bekeer!

Indien hulle Christus 2000 jaar gelede as Messias aanvaar het, was die tempel nie verwoes en die Jode nie verstrooi nie.  Vandag probeer hulle hierdie situasie omkeer sonder om hulle fout te herstel.   Dit gebeur as mense die Ou Testament, maar nie vir Christus het nie.    

Derhalwe het gelowiges geen belang by ‘n Derde Tempel nie.   Behalwe dat dit nie tot die eer van Christus strek nie, is daar nêrens in die Nuwe Testament enige opdrag om ‘n derde tempel te bou nie.   Die enigste aandag wat dit sal trek, is dat dit die laaste dae op aarde sal aandui.   Die naderende voetstappe van Christus sal met elke hamer en bytelslag gepaard gaan.

Slotopmerking

Die mensdom is baie na aan die einde en Israel in ‘n baie moeilike situasie.  Eendersyds staan sy op die vooraand van groot dinge.  Andersyds trek sy al hoe meer vyandelike vuur op haar.

Daar sal egter geen vrede in Israel wees alvorens die Tempelberg nie van Islam bevry is nie.   Israel sal baie streng teen haar vyande en knievallige politici moet optree en nie huiwer om dinge te doen wat soos skokgolwe oor die aarde gaan trek nie.   Dit wat tans in Israel ontbreek, gaan wel gebeur.  Haar slothoofstuk is immers reeds geskryf!

Alhoewel die Derde Tempel sentraal in die Jode se toekomsverwagting staan, staan dit ook in die teken van ‘n voortgesette verwerping van Christus as die Verlosser.   Ten spyte daarvan dat Hy eenmalig vir die sonde van die wêreld in Jerusalem geoffer is, probeer die Jode nog steeds die bloed van offerdiere as ‘n versoeningsoffer vir hul sonde aanbied.   Dis voorwaar tragies!