BYBELVERHALE VIR JONG KINDERS (1)
Lees almal Bybelverhale vir jong kinders
Jacqueline Sibley
Het jy 'n bababoetie of 'n babasussie? Of het jou tante dalk 'n baba? Miskien het die tannie wat langs julle woon ook 'n baba. Almal is bly as hulle hoor dat daar 'n nuwe baba aan die kom is, nie waar nie? Dit voel tog so lank om te wag. Maar die mammie het baie dinge om te doen voor die baba kom. Sy moet alles regkry. Sy moet na die winkel gaan om babagoedjies te koop. Sy moet doeke , 'n bababad en babaseep koop. Sy moet ook kleertjies koop vir die baba. Kan jy aan nog ander dinge dink wat sy moet koop? Soms brei die mammie truitjies en kousies. Sy maak rokkies en slaapklere en wil alles klaar hê voor die baba kom.
Lank gelede in 'n land ver hiervandaan was daar 'n vrou. God het haar gekies om die mammie van 'n baie spesiale Baba te word. Haar naam was Maria. Sy het in 'n klein ou huisie gewoon. Haar huis het glad nie soos jou huis gelyk nie. Haar huis was vierkantig met 'n plat dak en baie klein.
Aan die buitekant was daar treetjies wat na die dak oploop. Daar was net een kamer in die huis. Sal jy daarvan hou om in 'n huis te woon met net een kamer? In die dag sal jy daar moet speel en snags weer daar slaap.Maria gaan met Josef trou. Josef is 'n goeie, vriendelike man. Hy is 'n skrynwerker, iemand wat meubels en gereedskap maak uit hout. Hy maak groot houkiste vir die mense om hulle goed in te bêre; hy maak ook babawiegies en allerhande ander goed van hout.
Elke dag werk hy hard in sy werkswinkel. Girts-girts, klink sy saag. Doef-doef-doef, dreun sy hamer. Maria kan nie meer wag om Josef se vrou te word nie.
Eendag, toe Maria alleen in haar huisie is, stuur God 'n engel na haar toe. Die engel se naam is Gabriël. Ons weet nie hoe Gabriël gelyk het nie maar ons weet dat hy 'n boodskap moes bring. God stuur vir Gabriël met 'n blye boodskap na Maria.
Toe Maria vir Gabriël sien en hom hoor praat, word sy baie bang. Maar hy sê vir haar: "Moenie bang wees nie Maria. God het jou gekies. God sê dat jy 'n Babaseuntjie sal hê. Hy sal 'n spesiale Baba wees want Hy sal die Seun van God wees. Wanneer Hy gebore word, moet jy Hom Jesus noem."
Maria luister na die engel Gabriël. Sy weet dat God belowe het om eendag 'n Koning na die wêreld te stuur. Daardie Koning sou God se eie Seun wees. Maar sy het nooit gedink dat God haar sal kies om die ma van sy Seun te wees nie. Sy is baie verbaas.
Maar sy glo alles wat Gabriël sê en is baie bly. Toe Gabriël weg is, sing sy 'n lied om dankie te sê dat God haar gekies het.
Dadelik begin sy alles regkry vir die Baba. In daardie dae het babas nie baadjies of kousies of rokkies gedra soos vandag nie. Hulle het klere gedra wat windsels genoem is. Mara het toe windsels vir die Baba begin maak.
God het vir Maria vertel dat Hy haar gekies het om na sy Seun te kyk. Maar nou moet Hy nog vir Josef ook die nuus vertel. Een nag het Josef 'n wonderlike droom. Hy hoor 'n engel met hom praat. Die engel sê: "Josef, Maria gaan 'n Baba hê. Haar seuntjie sal 'n baie spesiale Baba wees. Hy sal God se eie Seun wees. Jy moet hom Jesus noem."
Josef en Maria is toe getroud en hulle het gewag dat God sy Seun stuur soos Hy belowe het.
GEBED:
Dankie God, dat U Maria en Josef gekies het om vir Jesus te sorg. Dankie vir al die babatjies wat ek ken. Help asseblief hulle mammies en pappies om ook goed vir hulle te sorg.
AMEN
GEBORE IN 'N STAL...vervolg