GEBORE IN 'N STAL

BYBELVERHALE VIR JONG KINDERS (2)

Lees almal Bybelverhale vir jong kinders

Jacqueline Sibley

Eendag kom daar 'n boodskapper na die dorpie waar Maria en Josef woon. Hy het belangrike nuus van die koning. Almal luister goed na wat hy te sê het. Hy sê: "Die koning wil weet hoeveel mense daar in sy land is. Almal moet teruggaan na die dorpe waar hulle families eers gewoon het. Daar sal hulle dan getel word."

Josef en Maria se familie het in Betlehem gewoon. Toe hulle hoor wat die boodskapper sê, weet hulle dat hulle na Betlehem sal moet gaan. Hulle kon nie met 'n bus of 'n trein ry nie want daar was geen busse of treine soos vandag nie. Die ryk mense het op perde of kamele gery. Die arm mense moes op donkies ry, of loop. Josef en Maria is te arm om 'n kameel of 'n perd te besit. Hulle het net 'n donkie.

Betlehem is baie ver. Dit duur drie dae om daar te kom. Elke nag bly hulle by 'n huis langs die pad. Bedags ry Maria op die donkie en Josef loop langs haar. Klip-klop, klip-kop, klip-kop, loop die donkie in die pad.

Eindelik kom hulle by Betlehem, Daar is duisende mense. Almal wag om getel te word.

"Kan ons asseblief so gou moontlik gaan rus?" vra Maria.

"Natuurlik", sê Josef.

'n Kort rukkie later kom hulle by 'n huis. Josef klop aan die deur. Tok! Tok! Tok! 'n Man maak die deur oop.

"Het jy miskien vir ons plek in jou huis?" vra Josef. "My vrou is baie moeg. Ons soek 'n rusplek vir die nag."

"Nee, ek is baie jammer maar daar is nie plek in my huis nie," antwoord die man, "Julle kan nie hier bly nie." En hy maak die deur toe.

"Toemaar Maria," troos Josef, "Ons sal by 'n ander huis gaan vra."

Hulle loop verder. Klip-klop, klip-klop, loop die donkie in die pad.

By die volgende huis klop Josef aan die deur. Tok! Tok! Tok! 'n Man kom uit. "Het jy asseblief vir ons plek in jou huis? My vrou is baie moeg en ons soek slaapplek vir die nag," vra Josef.

"Nee, ek is jammer, hier is nie vir julle plek nie." Die man maak die deur toe.

So loop Maria en Josef en vra by nog 'n paar huise of daar nie dalk vir hulle blyplek is nie maar almal se huise is klaar vol mense wat hulle name in Betlehem kom laat opskryf.

Toe kom Josef en Maria by 'n plek waar nog baie mense bly en Josef klop aan die deur. Tok! Tok! Tok! 'n Man maak die deur oop en Josef vra hom of hy nie dalk vir hulle blyplek het nie.

"Nee, ek is jammer, my huis  is vol," sê die man, "maar daar is plek in my stal. Die diere van die ander mense wat hier bly, is in die stal. My koeie is ook daar. Maar jou vrou lyk baie moeg. Julle mag maar daar slaap as julle wil."

Maria en Josef gaan toe na die stal. Hulle kry 'n hoekie weg van die diere af en gaan lê op die strooi om te rus.

Daardie nag word Jesus, die Seun van God, gebore. Al is Hy die Seun van God, word Hy nie in 'n paleis of 'n huis gebore nie. Hy word in 'n stal naby die diere gebore.

Maria draai Jesus in die windsels toe wat sy saamgebring het. Maar sy het nie eers vir Hom 'n wiegie nie. Josef maak gou 'n plan en sê: "Kom ons gebruik die bak waaruit die diere vreet." Die bak word 'n krip genoem. Josef sit skoon hooi in die krip en Maria lê Jesus saggies neer sodat Hy kan slaap.

Maria en Josef kyk na die Baba Jesus. Hulle het Hom baie lief. Hulle is baie gelukkig. Hulle weet dat God sy Seun gestuur het soos Hy belowe het. Jesus, die Seun van God, is gebore!

GEBED

Dankie, God, dat U u belofte gehou het om Jesus na die wêreld te stuur.

AMEN