VRAE OOR DIE LEWE NÁ DIE DOOD (1)

Dr Jac J Müller

Lees reeks by VRAE OOR DIE LEWE NÁ DIE DOOD

Die lewensduur van die sterflike mens word vir ons as kortstondig geteken, as " 'n paar handbreedtes" (Ps 39:5,6), en die gewone leeftydgrens word gestel op "sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar" (Ps 90:10), en die jare word deurgebring "soos 'n gedagte" (Ps 90:9).

Die dood is die groot sekerheid te midde van baie onsekere dinge in verband met die mens se bestaan op aarde. Almal moet en sal eenmaal sterwe. Die wieg en die graf is die twee pole waartussen die menselewe hom beweeg, en waar die menslike drama met sy wisselende lotgevalle afgespeel word. Onder elke lewe trek die dood een of ander tyd 'n streep, en dan roep hy die mens onverbiddelik toe: "Tot hiertoe en nie verder nie!" Dan skei die siel en die liggaam wat vir soveel jare in die allernouste eenheid saamverbind was, van mekaar. Die sterwensuur slaan en die laaste asem word uitgeblaas.

Daarom is dit so belangrik dat die mens sal onthou dat hy moet sterwe. Die bestaan op aarde is nie eindeloos nie. Die beker van genietinge kan nie vir altyd hier op aarde gedrink word nie, en ook die kruis van siekte en lyding sal nie altyd gedra word nie. Ons almal sal eenmaal sterwe en van die aardse lewe afskeid moet neem. Na ons almal is die dood reeds op pad. Wie leef daar wat die dood nie sal sien nie? Die mens is bestem om eenmaal te sterwe.

Hoe dwaas is dié mens wat in sy lewensprogram geen ruimte inrig en geen voorbereiding tref vir hierdie laaste gebeurtenis wat sekerlik sal plaasvind nie!

HOE WORD ONS GEDURIG AAN DIE WERKLIKHEID VAN DIE DOOD HERINNER?
Wat die Skrif ons leer aangaande die sterflikheid van die mens, word elke dag deur die menslike ervaring bevestig. Te midde van die lewe is ons ook almal naby die dood. Met die dood is geen verbond of ooreenkoms of wapenstilstand aan te gaan nie. Ons aanskou elke dag die dood óm ons met sy droewige tonele: die gebroke stemme van die treurendes en die rouklaers, die wenende oë van die agtergeblewenes, die swart klere van diegene wat in rou is, die vars grafte in die steeds groeiende kerkhof. Uit alle range en stande en ouderdomme val telkens die slagoffers van die dood. Uit die kring van ons dierbares, aan ons sy, selfs uit ons arms, ruk die dood die een na die ander weg.

In die more ontwaak die dood met ons en vergesel ons op ons weg; in die aand keer dit saam met ons terug na ons wonings. Ongevraag sit die dood met ons aan tafel, of lê hy hom saam met ons neer op die bed. Hy is die selfgenooide gas op die feeste; hy baan sy weg deur die woelende skares; hy vind sy slagoffers in die eensaamste afsondering. Wanneer siekte ons oorval klink God se stem ons in die ore: "Gee bevel aan jou huis, want hy sal sterwe". Wanneer onvoorsiene gebeurtenisse en rampe plaasvind, klink God se waarskuwing aan ons: "Julle moet dan ook gereed wees omdat die Seun van die mens kom op 'n uur dat julle dit nie verwag nie." Alles herinner die sterflike mens dat hy ook eenmaal sal sterwe en dat hy hom moet skik om sy God te ontmoet.

WAT IS DIE DOOD?
Die dood is 'n geheimenis, maaar die Heilige Skrif lê sy wese bloot as bestaande in die skeiding van die liggaam en die gees, wat gedurende die aardse bestaan ten nouste saamverbind en saam vervleg was. Die vereniging wat tussen liggaam en siel bestaan het, word opgehef, gaan tot niet en word gevolg deur die ontbinding (in die graf) van die liggaam en die terugkeer daarvan tot stof waaruit dit geneem is, en deur die voortgang van die siel na die 'tussentoestand' (tussen dood en wederopstanding) waar dit in 'n bloot geestelike en nie-materiële bestaanstoestand verkeer. Die stoflike of liggaamlike bestanddeel keer terug na die aarde soos dit gewees het, en die geestelike bestanddeel of siel, keer terug na God wat dit gegee het.

Die dood is dus nie die vernietiging van die mens asof hy daarmee ook nou ophou om te bestaan nie; maar dit is die skeiding tussen die onsterflike siel en die sterflike liggaam wat intree. Die mens bestaan immers uit daardie twee bestanddele en is daardeur op twee wêrelde, die onsigbare en die sigbare wêreld, aangelê. Die siel woon nie net in die liggaam nie maar is ook op die allernouste wyse met hom verenig, sodat die dood niks minder as 'n uiteenskeur en geweldige losrukking van siel en liggaam is, want die twee het in die mens tot 'n eenheid geword. Daarom is daar altyd in meerdere of mindere mate 'n doodstryd of worsteling in die sterfuur waar hierdie lewenseenheid weer verbreek word en die twee bestanddele uiteengeskeur en geskei word. Vandaar die menslike angs en vrees vir die dood.

WATTER VERBAND BESTAAN DAAR TUSSEN DIE DOOD EN SONDE?
Gen 2:17: "Van die boom van die kennis vangoed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe".

Rom 5:12: "Soos deur een mens die sonde in die wêreld gekom het, en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het omdat almal gesondig het... Ten gevolge van die misdaad van die één, het die dood geheers deur die één."

In die verganklikheid of sterflikheid van die mens word 'n oordeel van God oor die sonde geopenbaar want daar bestaan 'n direkte verband tussen sonde en dood. As daar geen sonde in die wêreld gekom het nie sou daar ook geen dood gewees het nie; maar nou het "deur die sonde die dood in die wêreld gekom" (Rom 5:12), en die dood is die onsalige vrug en bittere straf op die sonde, totdat God eendag by die herstelling van alle dinge die mens weer as eenheid daarstel (liggaam en siel weer verenig en verbonde) en die dood nie meer daar sal wees nie omdat daar geen sonde meer sal wees nie.

Die swaarste en algemeenste vloek op die sonde, wat geen mens kan ontwyk nie, is die vloek van die dood en verganklikheid. Waarom moet die mens sterwe? Waarom die verknegting van die mens deur die angs vir die dood sy lewe lank? Waarom van ons geboorte af 'n gedurige stryd teen die dreigende en ons lewe binnedringende dood? Waarom die dood en nie altyddurende lewe nie? Dit is die probleem van dood en sterflikheid vanweë die sonde: dood en sterflikheid met al die lyding, siekte en aftakeling, pyn en smart en beproewing, smart en trane, rou en droefheid, teleurstelling en skaduwees wat dit oor die lewe werp, en uiteindelik 'n terugkeer tot die stof van die aarde, tot ontbinding en vertering.

Dit is die loon van die sonde. "Die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe." Geen mens leef wat die dood nie sal sien nie want almal het gesondig. Hoe sou ons staan teenoor die dood, sonder geloof aan vergewing van sondes en die ewige lewe deur Jesus Chirstus?

WATTER VERSKILLENDE VORME VAN DOOD BESTAAN DAAR VOLGENS DIE SKRIF? ... Vervolg