JE de Vries
Lees reeks by Jy kán met pyn saamleef!
DIE STRYD OM PYN TE AANVAAR
'Hoe kan ek my geloof in God behou as Hy soveel pyn in my lewe toelaat?'
Dit is meer as net die kreet van iemand wat baie swaarkry. Dit is 'n belangrike vraag wat elke lydende moet beantwoord. Hierdie soort twyfel kom dikwels by die gelowige voor. Dit is so belangrik om te weet dat God werklik vertrou kan word. Maar daar is vandag so baie verskillende idees oor God. Voordat ons ons pyn kan aanvaar, moet ons die regte beeld – die Bybelse beeld – kry van die God wat die hartseer in ons lewe toegelaat het.
Ons is maar almal soos kinders. Hoe gesofistikeerd ons ook al mag voorkom, ons reageer dikwels soos kinders. As 'n pa 'n klein kindjie pak gegee het, sal die kind sy pa uit die hoek van sy oog dophou, 'n veilige afstand bewaar en na sy ma toe hardloop om getroos te word. Hoe dikwels maak ons nie net so met ons hemelse Vader nie! Gaan ons reguit na God wanneer daar lyding oor ons pad kom en soek ons troos in sy Woord? Nee – ons gaan gewoonlik eerste by mense hulp soek. Die rede daarvoor is eenvoudig. Ons eerste reaksie op pyn is om daarvan ontslae te raak. Daarom redeneer ons : As God dan toelaat dat ons seerkry, sal ons van Hom af wegbly en êrens anders gaan hulp soek. Dit is natuurlik 'n heel menslike reaksie maar dit kan selfvernietigend wees.
Laat ons nou maar eerlik wees, dié soort logika kom hierop neer: as God toelaat dat ek ly, kan ek Hom nie vertrou nie. Solank Hy dit met my laat goed gaan, sal ek Hom dien; maar so nie, vervloek ek Hom. Dit is blykbaar die beeld wat Job se vrou van God gehad het. Maar só 'n siening het vir Job in sy lyding niks beteken nie. Ongelukkig veroorsaak dié soort simplistiese denke oor God dat mense in tye van swaarkry wegdraai van Hom – die enigste ware Bron van krag.
Ander mense dink weer God is net daar vir die oplossing van al ons probleme. Sommige welmenende Christene sê: "As 'n mens net gló, sal alles regkom. " Maar God het nie belowe dat Hy ons altyd sal gee wat ons wil hê nie. Jesus Christus het nooit gesê 'n Christen se lewe sal sonder probleme wees nie. Inteendeel, Hy het gesê: "In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin" – Joh 16:33. En: "Omdat... Ek julle uit die wêreld gekies het, daarom haat die wêreld julle... As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg" – Joh 15:19.20.
Die gelowige moenie 'n maklike, sorgvrye lewe verwag nie. Dit blyk duidelik uit die lewe van verskeie Bybelse karakters. Dawid het byvoorbeeld baie ernstig vir sy kinders gebind: vir die kind wat hy by Batseba verwek het en vir die jong rebel Absalom. Maar nie een van die twee se lewe is gespaar nie. Paulus het gevra dat die doring in sy vlees verwyder word. God het geantwoord dat hy daarmee moes saamleef. Selfs Jesus Christus het in Getsemane gebid dat die lydensbeker by Hom moes verbygaan. Maar daar was geen ander manier om ons te red nie.
Ek ken so baie Christene wie se probleme nie verdwyn het nadat hulle daaroor gebid het nie. Een van my gemeentelede is 'n vrou wat al meer as tien jaar bedlêend is as gevolg van artritis. Alhoewel sy aanhoudend bid om gesond te word, het dit nog nie gebeur nie. Ek het 'n jong vroutjie aan kanker sien sterf al het ons, wat vir haar gebid het, vas geglo dat God haar gesond sou maak.
Hoeveel keer het ons nie al oor die een of ander saak by God gepleit in die vaste geloof dat Hy in staat sou wees en gewillig sou wees om te doen wat ons vra. En tog het ons nie gekry wat ons gevra het nie. As ons die idee het dat God slegs 'n God is wat altyd probleme vir ons oplos en ons geen net wat ons vra, het ons Hom nog nooit leer ken soos Hy werklik is nie.
Wanneer ons ly, bid ons instinktief om hulp. Ons vra vir God om alles weer te laat regkom, om ons tevrede te maak met die verloop van sake, om ons te gee wat ons wil hê. Daar is niemand op aarde wat nié so bid nie. Dit is net menslik. En daar is niks mee verkeerd nie – solank jy God nog steeds bly vertrou as Hy jou nié gee wat jy vra nie.
Baie mense verloor egter hul vertroue in God. Ons word so maklik teleurgestel. Maar juis hier lê die probleem. As ons sê ons is teleurgesteld in God, beteken dit dat ons 'n totaal verkeerde idee van Hom het. Ons dink Hy is net daar om te doen wat ons vra. Maar ons is sý diensknegte, nie andersom nie. Dit is Hy wat opdragte gee, nie ons nie. As ons Hom ken, in Hom glo en Hom as ons Heer en Meester aanvaar, gee Hy ons die krag om ons pyn te aanvaar. Dan kan ons troos vind in die wete dat Hy vir ons "alles ten goede laat meewerk" – Rom 8:28. Dan kan ons Hom volledig vertrou.
Ook wanneer ons ly het God ons lief ... vervolg