JY KÁN MET PYN SAAMLEEF ! (3)

JE de Vries

Lees reeks by Jy kán met pyn saamleef!

OOK WANNEER ONS LY HET GOD ONS LIEF

"Maar skielik het ek besef: dit wat ek die meeste vrees – om my seun aan die dood af te gee – het God alreeds ter wille van my verduur! Ook sy Seun moes die dood trotseer, 'n veel aakliger dood..."

Dis so moeilik om in 'n krisis die regte perspektief te behou. Ons konsentreer so daarop om van ons pyn ontslae te raak dat ons gladnie die positiewe dinge wat daar tog nog is, kan raaksien nie.

Selfs in die donkerste tye is daar veel om voor dankbaar te wees. Ook ons is bewus van baie seëninge ten spyte van ons beproewing: ons kon vyf jaar van vreugde en gesondheid saam met ons seun belewe. Ons het ander kinders ook. Ons het ouers en broers en susters wat ons pyn met ons deel en dit ligter help maak. Daar is moderne mediese middels wat ons ten minste 'n mate van hoop bied. Ons kan op die ondersteuning van ander lydendes reken. Christenvriende omring ons met hul liefde. Ons weet dat God ons steeds liefhet al kry ons swaar. En so kan ek aanhou opnoem. Ek is seker as u mooi daaroor nadink sal u ook 'n lang lys van u seëninge kan maak.

Ongelukkig laat ons so dikwels na om te doen wat God se volk in die Bybel beveel is om te doen: om God se magtige dade in herinnering te roep. Ouers het hul kinders vertel van die roeping van Abraham, van die wonderlike uittog uit Egipte, hoe Jerigo se mure omgeval het, van Dawid se koninkryk en die grootse tempel wat Salomo vir God gebou het. Die sondes en lyding van die volk van God word ook beskryf maar deur dit alles was God in sy troue sorg by hulle.

In plaas daarvan dat ons ons seëninge tel, is ons veel eerder geneig om ons klagtes op te noem. Wanneer ons besonder moeilike tye belewe staar ons ons blind teen ons onmiddellike probleem en bekommer ons morsdood oor wat môre gaan gebeur. God wil egter hê ons moet dan juis onthou hoe Hy in die verlede vir ons gesorg het, en Hom vertrou dat Hy vandag en môre ook vir ons sal voorsien. Hy sal dit doen omdat Hy "vandag en gister dieselfde is en tot in ewigheid" – en omdat Hy ons liefhet.

Hoe weet ons dit? Omdat Hy in sy Woord so sê. In sy bergpreek het Jesus gesê dat ons hemelse Vader vir die wildevoëls en die gras en die veldblomme sorg. "Is julle nie baie meer werd as hulle nie?" het Hy bygevoeg, "... hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie...?" - Matt 6. Hy ken ons so goed want Hy het ons dan geskape. Selfs die hare op ons kop, sê Christus, is almal getel. Hoe sal Hy dan nie vir ons omgee nie?

Maar God het 'n ganse skepping om in stand te hou, sou iemand kon sê, hoe kan ek weet dat Hy juis vir my sal sorg? Verdwyn ek nie maar as't ware in die massa nie?

Nee! As ons Hom ken soos Hy Homself in Christus geopenbaar het, sal ons nooit hierdie vrees koester nie. Toe God sy eie Seun gegee het om óns skuld te dra, het Hy bewys hoe lief Hy ons het. Deur Christus se kruisdood is ons met God versoen en nou kan ons Hom met vrymoedigheid ons Vader noem, soos Christus ons geleer het. En 'n ware vader dra altyd die persoonlike belange van elkeen van sy kinders op die hart.

Ek het ook al getwyfel aan die sorg en liefde van God. Tot ek Hom op 'n besonder wyse in Christus ontmoet het. Dit het gebeur toe een van my gemeentelede eendag gebel het om ons te bemoedig. Sy het Psalm 40: 10-12 aangehaal: "Met blydskap het ek aan die gemeente vertel: 'U het my verlos,' Ek het nie stilgebly nie, Here, U weet dit! Dat U verlos, het ek dit nie vir myself gehou nie, ek het gepraat oor u trou en u hulp. Oor u gesindheid en u trou het ek in die gemeente nie stilgebly nie. Moet my tog nie uitsluit van u ontferming nie, Here..."

"Dominee," het sy gesê, "is dié woorde nie 'n belofte dat God Hom oor u sal ontferm nie omdat u elke week die Woord verkondig?" Sy het bedoel dat ek God aan sy belofte kon hou, dat ek kon eis dat Hy my seun gesond moet maak.

Hoe graag sou ek dit wou glo. Maar dit is nie wat daardie verse wil sê nie. Ek weet dat ek nie van lyding vrygestel kan word omdat ek 'n predikant is wat die verlossingsdade van God "met blydskap aan die gemeente vertel het" nie. Daar is baie verkondigers van die Woord wat met dieselfde en erger pyn as ek saamleef.

In 'n gesprek met 'n vriend het die werklike betekenis van Psalm 40 vir my duidelik geword. God sou my "nie uitsluit van (sy) ontferminge nie", sy "goedheid en trou" sou my "voortdurend bewaak" – nie omdat ek 'n predikant is nie maar omdat ek sy kind is. God belowe dit vir al sy kinders. Toe het ek begin nadink oor die deernis en ontferming van God. Hy het my so liefgehad dat Hy sy Seun ter wille van my aan die dood afgegee het. As Hy alreeds sy liefde op so 'n wonderbaarlike manier bewys het, hoe kon ek dan nog daaraan twyfel dat Hy vir my omgee?

Ek het God bitterlik kwalik geneem oor die moontlikheid dat my seun kan sterf. Maar skielik het ek besef: dit wat ek die meeste vrees – om my seun aan die dood af te gee – het God alreeds ter wille van my verduur! Ook sy Seun moes die dood trotseer, 'n veel aakliger dood as in ons geval. Ek het geen beheer gehad oor die siekte wat oor my seun gekom het nie maar God het sy Kind vrywillig die dood ingestuur om ons te verlos. Wanneer ek dink aan wat in Getsemane gebeur het, kan ek nie meer twyfel of God weet wat ek deurmaak nie. Sou Hy, wat moes hoor hoe sy Seun in doodsangs vra: "Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg", dan nie verstaan hoe ek oor mý seun voel nie? Van toe af was ek nie meer onseker of God vir my omgee nie. Ek het geweet.

Hierdie geweldige wete het my aan die hart gegryp. Skielik het ek besef: al sou ek ook my geliefde seun aan die dood moes afgee, dan gee ek hom oor in die hande van 'n liefdevolle Vader wat die ewige lewe aan hom beloof het. Die belofte aan 'n ewige heerlikheid maak die dood vir ons minder verskriklik. Maar om dit moontlik te maak moes Christus die dood in sy volle verskrikking binnegaan. Hy moes die volle omvang van God se oordeel oor die sonde op Hom neem. Wat dit Hom gekos het, kan ons hoor in sy woorde: "My God, my God, waarom het U my verlaat?" Dit het God aan sy eie Seun gedoen uit liefde vir ons.

As ons God só sien – in sy ontsaglike liefde vir ons – verander ons hele lewenshouding. Dit gee ons krag. Dit laat ons saam met Paulus uitroep: "... in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet" – Rom 8:37. Niks "kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here."

U sal miskien sê dat ek Paulus se woorde verstaan omdat ek 'n parallel kan insien tussen die moontlike verlies van my seun en die dood van God se Seun aan die kruis. Maar die boodskap van God se liefde en genade geld in presies dieselfde mate vir almal wat Hom aangeneem het. U hoef nie op die punt te staan om 'n kind te verloor om te begryp wat God in Christus vir gedoen het nie. Deur sy Gees sal Hy u daarvan oortuig. Hy sal u nooit verlaat nie, omdat Hy u liefhet.

As 'n mens onder die indruk kom van die liefde en sorg wat God in Christus vir ons voorsien, besef jy skielik dat sy krag ook jou krag is. In die geloof kan ons ook doen wat die volk van Israel gedoen het: ons kan roem in die wonderdade van God. Ons kan onthou hoe die mure van Jerigo omgeval het. Ons kan ons die krag voorstel waarmee Jesus Christus die storm stilgemaak het, blindes laat sien en dowes laat hoor het. Hy het Lasarus uit die graf teruggeroep na die lewe. Sy eie opstanding uit die dood verkondig sy mag en majesteit. So lyk die almag van die God wat vir ons sorg. Om my kind gesond te maak, is vir Hom baie maklik. Hy kan enige probleem in 'n oogwink oplos.

Waarom doen Hy dit dan nie?

Vervolg...