DIE GELOWIGE IN PYN EN LYDING (2)

SIEKTE NIE DIE GEVOLG VAN JOU SONDE!

Ds AE vd Berg

Lees reeks by  Die Gelowige: Pyn en lyding

Die wêreld is vol van dwaalleraars wat sê dat siekte die gevolg van ‘n spesifieke sonde is.  Dis ‘n leuen en doen die Christendom skade aan. Die Bybel praat anders.  Lees gerus Joh.9 waar Jesus hierdie vraag duidelik beantwoord.

Daar is mense wat al jare lank ernstige beproewing verduur, maar terselfdertyd baie na aan God leef.  ‘n Mens het byna instinkmatig medelye met sulke mense. Eintlik behoort ons hulle te beny omdat hierdie dapper lasdraers God op ‘n besondere wyse verheerlik. God plaas hulle voete op ‘n stewige rots.  Daarom sink hulle nie!

Alhoewel beproewings as sulks nie ‘n straf van God is nie, gebruik Hy dit dikwels om sy heilige doel met ons te bereik.  Iemand het eenkeer gesê dat pyn die megafoon is waarmee God ‘n dowe wêreld wakker wil maak.

In ons beproewing staan Christus nie iewers daar ver en kyk hoe swaar ons kry nie. In sulke tye is Hy juis baie nader aan ons as wat ons dink.  Hy het medelye met ons want daar is geen dieper lyding as waarin Hy alreeds afgesak het of donkerder diepte as wat Hy alreeds oorwin het nie.

By geleentheid het ‘n gelowige as volg gebid: “Here, laat my nooit vergeet dat my siekte en pyn nie U straf op my sonde is nie.  Plaas my voete altyd op die stewige rots van u belofte dat U altyd by my sal wees, al gaan ek ook deur donker dieptes.  Leer my dat ek elke donker uur as die besondere geleentheid sal sien om U liefde en genade nog beter te leer ken”.

God werk anders

God werk dikwels baie anders om as wat die mens verwag.  Baie gelowiges getuig dat hul ergste dae van hulle beste dae was.  Ja, wanneer dit vir hulle gelyk het asof God wreed was, was Hy in werklikheid goed vir hulle.  Wanneer die gelowige se gesondheid knak en geen medikasie meer help nie, het hy een troos: God se liefde vir sy kinders verdwyn nie saam met hul gesondheid nie.

Baie jare gelede was ‘n skilder op ‘n hoë steierwerk besig om die koepel van ‘n katedraal te versier.  Toe hy ‘n deel voltooi het, het hy teruggetree om die werk van ‘n afstand te besigtig en byna na sy dood geval.  Gelukkig het ‘n vriend dit betyds sien kom, ‘n kwas gegryp en ‘n streep deur die kunswerk getrek.  Die skilder het instinktief vorentoe gespring om die skade te verhoed en hom van ‘n gewisse dood gered.

Ons het almal ‘n beeld van die soort lewe wat ons graag sou wou lei.  En soos wat ons dit bewonder, loop ons ongesiens al hoe verder van ons eie geestelike veiligheid al nader aan die gevaar.  Dan moet God soms drasties ingryp en ons prent kom bederf sodat ons tot ons sinne kan kom en ons siel van die verderf red.

Spurgeon het gesê dat van alles wat hy in die lewe ervaar het, hy God ook vir sy  beproewings kan dank omdat dit ‘n geestelik sterker mens van hom gemaak het.  Hy bely dat hy in die brandoond van beproewing groter geestelike krag as uit enige van sy voorspoed geput het.  God was in sy donkerste dieptes so naby aan hom, dat hy amper aan Hom kon raak!

CHRISTUS IS ONS VOORBEELD

Skrif: Matt.26:36-46

Teks: “En Hy het ‘n bietjie verder gegaan en op sy aangesig geval en gebid en gesê: My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker My verbygaan: nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil” (:39)

Christus is vir ons die beste voorbeeld van verdraagsaamheid in beproewing.  Amber is aanvanklik as waardeloos beskou. Nadat ‘n Romeinse keiser ‘n amber ring begin dra het, is dit eers van waarde geag.  Miskien het gelowiges beproewing ook eers as waardeloos beskou, maar nadat Christus deur helse smarte gegaan het, dit anders begin ag.  As Hy die kruis verduur het, durf ons nie kla as ons dit ook by wyse van beproewing dra nie.

God het die kole van goddelike wraak op Christus se hoof laat neerkom sodat niks daarvan direk op diè van sy kinders sou val nie. En as dit vir ons by tye voel asof een van hierdie kole direk op ons eie kop beland het, moet ons weet dat dit eerstens op Jesus s’n geval het en dat Hy dit sonder teenstribbeling en blymoedig gedra het. 

Wanneer pyne deur ons liggaam skiet en die aakligheid van die dood ons in die gesig staar, ervaar ons iets van Jesus se lyding.  Dit gee ons die geleentheid om onsself met die lydende Jesus te vereenselwig. 

Die Heilige Gees staan ons in ons beproewing by.  In Joh.14 noem Christus Hom die Trooster.  Die Griekse woord vir “Trooster” is parakleitos; ‘n woord wat aan die ou krygskunde ontleen is.  Griekse soldate het altyd twee-twee die slagveld betree sodat wanneer die vyand aanval, hulle rug aan rug met mekaar kon staan en mekaar se blinde kante dek.  Hierdie gevegsmaat is ‘n parakleet genoem.  In ons beproewing veg ons nie alleen nie.  Die Heilige Gees is ons Gevegsmaat.

Woorde wek, maar voorbeelde trek

Spurgeon het gesê dat siekbeddens dikwels meer vir die geloof as kansels doen.  Die strome van seën wat op die gebede van gelowiges volg, maak beproefdes sterk in die Here.  Spurgeon het self gesondheidsprobleme ondervind en met dankbaarheid na sy eie siekbed verwys as die plek waar hy die grootste geestelike groei ooit beleef het.

Hy bely dat dat hy graag volkome gesond sou wou wees, maar dat as hy sy lewe kon oorhê, hy dit nie sonder beproewings sou wou hê nie.  Die onderskraging wat hy van God en sy medegelowiges tydens sy siekte ervaar het, was wonderlik!

Ons word geroep om nie net met ons woorde nie, maar ook met ons lewe te getuig.  Dit moet getuig dat God nie dood is nie, maar lewe!  ‘n Gelowige moet soos ‘n vyeboom en nie ‘n kersboom wees nie. ‘n Kersboom is in werklikheid dood.  Dis net die versierings wat dit mooi maak. ‘n Vyeboom daarenteen is nie baie mooi nie, maar dit leef en dra vrugte!

Ware geloof kom altyd in die hitte van die stryd na vore.  Dan wys ‘n gelowige die geestelike staal waarvan hy gemaak is.  Dis soos ‘n nat spons.  As jy daarop druk, stroom die water daaruit en weet jy onmiddellik wat die openinge van die spons vul.  Hoe waar is dit nie van die gelowige nie. Wanneer beproewing hom onder druk plaas, stroom dit waarvan hy vol is na buite.

Daarom moet ons groot sorg vir ons lewe dra en nie toelaat dat beproewings ons bitter maak nie.  Dit moet ons eerder beter maak!   Ons kan nie verhoed dat die voëls van verdriet oor ons kop vlieg nie.  Ons kan wel sorg dat hulle nie in ons hare nes maak nie.  Karakter word uiteraard nie op die bergtoppe van die lewe nie, maar in die valleie daarvan gevorm.

Iemand het by geleentheid gesê dat karakter nie deur ‘n ligte bries nie, maar eerder deur die storms van die lewe gevorm word.  Daarom moet ons nooit toelaat dat ons gevoelens met ons weghardloop nie.  Hartseer is slegs die pyn van ‘n oomblik.  Moenie jouself daaraan oorgee nie; dit kan die flater van ‘n leeftyd wees!

Bid God eerder dat wanneer ander mense in die put van die lewe en groot beproewing beland, jou voorbeeld hulle sal help om te oorleef.   Onthou: Die Here vertroos ons nie om ons te vertroetel nie, maar om van ons vertroosters te maak.

Daarom is dit noodsaaklik om die Bybel getrou te bestudeer.  Dis uiteraard ons handleiding vir die lewe.  Ag, hoe draagliker sou beproewing nie wees indien mense maar net die handleiding wou lees nie!   Ons durf nie Sondae “Onse Vader” bid, maar die res van die week soos weeskinders kla nie.  Ons voorbeeld moet reg wees!

Dit maak nie saak hoe lank ons gaan leef nie, maar eerder hoe ons ons jare deurbring.  In die teater van die lewe is God en sy engele ons toeskouers.  Hulle kyk hoe ons die lewensspel speel.  Die lewe kan selfs betowerend wees indien ons dit deur die regte bril sien.  Beslis nie ‘n donker bril nie!    

Beproewing bied ons die wonderlike kans vir getuienislewering.  By geleentheid getuig ‘n Kaapse kleurling baie vurig van sy bekering.  ‘n Ou maat wat staan en luister, dink dis darem te vurig. “Moenie so met djou brights op my afkom nie, ou pêllie!” berispe hy hom. “Wat?” sê die bekeerde “Dink djy dit was my brights?  Hierdie was maar net my dims; watch my brights nou!” Hoe wonderlik om in jou donkerste uur met hoofligte aan te kan getuig!

Skuldgevoelens

Sielkundige en liggaamlike kwale word dikwels uit skuldgevoelens gebore.  Baie van ons hindernisse is in werklikheid selfgemaak.  Mense wat na die dood van ‘n geliefde so troosteloos is, dink dikwels terug aan tye toe hulle aan die oorledene nie die nodige liefde betoon het nie. En nou kan hulle die horlosie nie terugdraai nie!  In sulke gevalle vind berusting eers na ‘n ernstige selfondersoek en opregte sondebelydenis voor die Here plaas.

Wees versigtig met jou smart.  Dit takel jou nie net fisies af nie, maar ook geestelik.  Dokters kry dikwels met pasiënte te doen wat nie soseer met fisiese kwale het nie, maar skuldgevoelens van onsekerheid, angs en opstandigheid.

Selfbejammering

Pas veral op vir selfbejammering.  God kan ons kwalik ‘n beter geskenk gee as om van bose gedagtes vry te wees!  Niks doen ons gees groter skade as droefgeestigheid en selfbejammering aan nie. Wanneer ‘n mens te lank na ‘n bodemlose diepte staar, trek dit jou later in.   Daarom moet ons verantwoordelikheid vir ons gedagtes neem.  

Die manier waarop ons beproewing verduur, is dikwels belangriker as die beproewing self.  ‘n Mens verdrink nie deur in die water te val nie, maar om daarin te bly lê.  Moenie jouself kasty nie!  As jy in ‘n donker vertrek kom, sal jy tog nie iewers gaan sit en die donkerte verwyt nie.  Jy sal dadelik lig maak.  Dis presies wat ons in ons beproewing moet doen – in elke donker hoek van die lewe lig maak.

God troos juis sy kinders om van hulle troosters te maak.  Ten einde ‘n ander se hartseer te kan verlig, moet ons van ons eie hartseer kan vergeet.  Moenie toelaat dat jou beproewing die wêreld van die mense die naaste aan jou versuur nie.