DIE GELOWIGE IN PYN EN LYDING (5)

Ds AE vd Berg

Lees reeks by  Die Gelowige: Pyn en lyding

MOET JOU NIE BEKOMMER NIE

Christus sê in Matt.5:26 dat ons nie oor die dag van môre bekommerd moet wees nie.  Dieselfde genade wat Hy vandag oor ons uitstort, sal ook môre daar wees.  Al wat ons moet doen, is om in geloof en vertroue daarvoor te vra. Een ding moet ons nooit vergeet nie: God is altyd daar vir sy kinders, of die son in hul lewe skyn en of dit donker word, Hy verdwyn nie.  As die son agter wolke wegraak, beteken dit mos nie dat die son ophou bestaan nie.  Ons sien dit tydelik net nie raak nie. As beproewing God se aangesig vir ons versluier, is Hy nie weg nie.

Ons sien Hom tydelik net nie raak nie.   As kommer vir ons sê: “Kyk, daar is ‘n groot wolk voor die son” moet ons antwoord: “Ja, maar agter die wolk is die son!”Gelowiges wat in ernstige beproewing verkeer, moet hulle nie oor die dag van môre en die donker wolke wat dit dalk mag meebring bekommer nie.  Leef eerder in die sonlig.  Moenie môre vanaand saam met jou bed toe vat nie.  Al is ons sorge en beproewings ook hoe groot, moet ons een ding weet: Die hemelse Vader wat ons vandag bystaan, verdwyn nie oornag nie.  Hy is ook môre die hele dag by ons.

Bekommernis  is eintlik ‘n mosie van wantroue in die onderhoudingskrag van God en hoort nie onder gelowiges nie.  Dink daaraan: Bekommernis eindig met ‘n verlies aan die geloof.  Geloof eindig met ‘n verlies aan bekommernis!   Sodra ons hoop op iets anders as God gevestig word, is kommer ons voorland.  En wees verseker dat een kilogram se kommer nie een gram van ons beproewing verlig nie.  Kommer is, om die waarheid te sê, die boete wat ons moet betaal omdat ons God nie vertrou nie!  Dis ook niks anders as ‘n stuk ateïsme nie.  As ons God nie vertrou nie, kan Hy maar net sowel nie bestaan nie!

Kommer is werklik sinneloos.  Dit neem nie die seer uit ons lewe weg nie, maar lei eerder tot ‘n geweldige geestelike kragverlies.  En dis die laaste ding wat beproefdes kan bekostig – ‘n kragverlies!  Let gerus op die wonderlike vrede en hemelse rustigheid wat daar oor mense kom wat hulle kommer afsweer en die Here opnuut vertrou!

Hou jou kop bymekaar as jou liggaam uitmekaar wil val.  Bly optimisties oor die toekoms.  Daar is nie so ‘n iets soos ‘n hopelose situasie nie; slegs mense wat hoop met ‘n situasie verloor het.

Moenie van jou geleenthede probleme maak nie, maak eerder van jou probleme geleenthede.  En daarvoor moet jy miskien nie te ver vorentoe kyk nie.  Dit kan jou straks neerslagtig maak.  Kyk liewers boontoe en onthou dat die toekoms so helder soos God se beloftes is.

Ag, hoe lief is ons nie om die spreekwoordelike bobbelaan agter die bult te gaan haal nie, ja, ons sambreel oop te maak alvorens dit begin reën. Wees op jou hoede want kommer gee dikwels groot skaduwees aan klein dingetjies.  Later raak ‘n mens so vasgevang in die bose kringloop van jou kwellinge, dat jy soos ‘n hond wat sy eie stert vasbyt eindeloos met jou beproewing in die rondte begin draai.

Beproewing louter die geloof

Beproewing is dikwels soos slegte medisyne – dit smaak nie lekker nie, maar dit maak ons gesond.  Martin Luther skryf dat mense wat nooit ernstige beproewing beleef nie, nooit ernstige gelowiges kan wees nie.  Luther sê dan ook dat beproewing die beste boek in sy hele biblioteek was!

Vreugdes verander soms oornag in beproewings.  Ons vreugdes is soos seewier wat saam met die branders bruisend op die strand aangestorm kom.  Ons hartseer is soos die brander wat dit terugtrek en in die dieptes van die see terugspoel.  Dis egter goed anders sou ons hoog en droog op die strand lê en uitdroog het!  Die terugtrekkende branders van die lewe verhoed dat ons geestelik uitdroog.  Beproewings spoel ons terug na God.

‘n Man wat deur ‘n geweldige beproewing gegaan het, skryf as volg: “Ek kyk met verlange terug na my jare van beproewing.  Nie dat ek dit wil terughê nie, maar om net weer daardie krag en ondersteuning van God te ervaar wat ek destyds gesmaak het.  Net om weer aan God se arm te hang en te ervaar hoe Hy my dra!”

Let gerus op die vlug van ‘n vlieër.  Dit vlieg altyd die hoogste teen die wind; nooit saam met die wind nie.  So laat God ons ook dikwels teen die wind vlieg om ons geestelike hoogtes te laat bereik.  Beproewing is dikwels die mes wat ons lewe skoonsny sodat ons geloof opreg kan wees.  Ons laat so maklik toe dat bysake ons lewens toegroei. Beproewing sny dit skoon en laat ons dinge wat regtig saak maak herwaardeer.

Beproewings maak ons nederig en afhanklik

Alhoewel niemand beproewing geniet nie, gebruik God dit om sy goddelike doel met ons te bereik. Geen mens wat deur ernstige beproewing gelouter is, kan ooit weer in sy eie grootheid roem nie. Beproewinge maak ons nederig en afhanklik.  En dis goed vir ons gees, solank as wat ons nie toelaat dat dit ons vereensaam nie.

God vra nie altyd maklike dinge van ons nie; Hy vra soms bitter moeilike dinge.  Die geloofslewe is wel heerlik, maar nie sorgeloos nie.  Gevolglik is daar nie so ‘n iets soos maklike Christenskap nie.  Want as dit maklik was, sou dit nie Christenskap wees nie.

Beproewing het al talle onverskilliges op hul knieë gedwing.  Trane help altyd om dinge anders in die lewe te sien.  Dit spoel die stof van ydelheid uit ons oë en gee vir ons vars insig en visie.  Wanneer ons op ons voete staan, kyk ons vorentoe, maar wanneer ons op ons rug lê, kyk ons boontoe.  In sulke tye besef ons dat ons niks anders as Jesus oorhet en eintlik niks meer as Hy nodig het nie!  Ja, as ons koninkryk wyk, neem God s’n oor!

Ons kan nie ons eie leed en droefheid afskud asof niks gebeur het nie. Daarom is dit goed dat gelowiges ook trane stort.  Sulke trane spoel die oë van ons harte skoon sodat ons dieper in God se liefde en genade kan sien.  Beproewing is ‘n vrug wat God slegs aan lote laat groei wat sterk genoeg is om dit te dra.

Die Here gebruik dikwels beproewing om ons tot volle geestelike rypheid te bring.  Beproewing maak geestelike ore oop.  Al wat ons moet doen, is om van onsself weg te kyk, en soos ‘n Jaïrus van ouds voor Jesus in geloof  neer te val.