DIE GELOWIGE IN PYN EN LYDING (6)

Ds AE vd Berg

Lees reeks by  Die Gelowige: Pyn en lyding

HOOP

Die gemiddelde mens kan sowat 40 dae sonder kos, drie dae sonder water, agt minute sonder suurstof, maar nie een sekonde sonder hoop bly nie.  Maar voordat ons op iets kan hoop, moet ons eers daaraan glo.  Daarom is saligmakende geloof in Christus ‘n voorvereiste vir alle hoop.  Met Jesus het ons ‘n eindelose hoop; sonder Hom ‘n hopelose einde!

Die wyse kerkvader Augustinus het gesê: “As ek U aangesig nie meer kan sien nie, skuil onder U vleuels”.  Ja, gelowiges kan nie sonder hoop leef nie.  Daarsonder hou ons op om te leef.  Soos suurstof vir ons longe, is hoop vir ons siel.

Sien beproewing as ‘n leermeester en nie as ‘n begrafnisondernemer nie.  Soms moet daar eers ’n storm in ons lewe kom alvorens ons ontdek waarop ons hoop werklik gevestig is.  Hoop is soos ‘n spier wat met oefening al hoe sterker word.  Gee dit gereeld oefening totdat dit ‘n gewoonte word en ‘n permanente, gelukkige gees ontwikkel.

Hoop is die woord wat God as’t ware op elke gelowige se voorkop skryf.  Al weet ons nie wat die toekoms gaan inhou nie, weet ons in Wie se hande dit is.  En dis al wat saak maak.  Hou derhalwe aan hoop vas, want as ons dit verloor, verloor ons alles.  Wie hoop verloor, sondig op die ou einde miskien erger as hy wat steel!

Moed en vertroue

Beproewing is onvermydelik, maar om daaroor te bly sanik en in ellende te verval, is opsioneel.  Daarom moet ons gedurig damwalle van moed om ons bou sodat ons die vloede van vrees buite kan hou.  Moed is ‘n kosbare gawe en niks anders as vrees wat gebid het nie.  Daarom beswyk moediges nooit onder beproewing nie.

Ons kan baie dinge in die lewe verloor sonder om werklik daardeur geskaad te word.   Maar wanneer ons moed verloor, is ons soos ‘n voël wat sy vlerke verloor.  Die toets vir geloofsvertroue is om aan te hou sing al word dit ook nag om jou. ‘n Gelowige moet soos ‘n ketel wees - al staan hy tot by sy nek in die kookwater, moet hy altyd bly sing!

Moenie gevare probeer minag nie; oorwin dit eerder.  As God jou vra om moed te hou, sê Hy in dieselfde asem: “My kind, jy is nie alleen nie!”  God het deur die geskiedenis heen dikwels geslote situasies van ellende oopgebreek.  Een ding moet ons weet: Dis nie beproewing wat ons gees kelder nie, maar eerder ons weiering om op God staat te maak.

God het Job deur beproewing getoets.  Satan het geglo Job sou moedeloos raak en die geloof opsê.  Hy het nie.  Job het al die beproewings as tydelike versperrings en nie as doodloopstrate beskou nie. Ja, ‘n wenner hensop nooit en ‘n hensopper wen nooit!

Die gelowige filosoof Soren Kierkegaard het gebid en gesê:”Here Jesus, hoe dikwels word ek ongeduldig en wil ek moed verloor, ja, wil ek sommer alles laat vaar en die maklikste uitweg volg nl.diè van wanhoop. Dan dink ek daaraan dat U nooit moed verloor het nie, maar uitgehou het sodat ek verlos kon word”

Ons moet leer om 100% op God te vertrou, al word dit ook hoe donker in ons lewe. As ‘n trein deur ‘n tonnel gaan, en dit skielik baie donker om ons word, spring ons tog nie van die trein af nie, maar vertrou die masjienis.  En dis presies wat ons moet doen; ons hemelse Masjienis  vertrou.  Die Man wat vir ons aan die kruis gesterf het, kan vertrou word!  ‘n Gelowige seevaarder het by geleentheid as volg gebid:“Here, gee my die moed en geloof om met U aan die stuur van my lewensboot die toekoms vreesloos in te vaar”.