Ds AE vd Berg
Lees reeks by Die Gelowige: Pyn en lyding
BLYDSKAP
Geen rekenkunde is so moeilik om te bemeester as om jou seëninge in tye van beproewing te tel nie. In sulke tye moet ons juis terugkyk op dit wat ons vir baie jare uit die hand van God geniet het. Moet nooit die goeie van die verlede vergeet nie. Roep dit gereeld in herinnering want dit sal verhoed dat beproewing jou wêreldjie klein maak. Gelukkig het die aarde geen droefheid wat die hemel nie kan genees nie!
Wanneer ons God begin dank vir al die vreugdes wat Hy ons skenk, sal daar nie tyd oor wees om te kla nie. Die mens wat dankbaar oor die verlede is, sal die Here ook vir die hede dank en die toekoms vreesloos tegemoet gaan. As ons dankbaar vir die genades van die verlede is, kan ons uiteraard ook op nuwes reken.
Ongelukkig is dankbaarheid ‘n plantjie wat in min beproefdes se tuine groei. Die meeste dra hul kruis swaarmoedig en alles behalwe wat God wil hê. Wanneer die Satan ons aanval, moet nooit vergeet wat God vir ons in Christus gedoen het nie. Ons lewe behoort juis dan van dankbaarheid te getuig. As ons elke sonnestraal met dankbaarheid geniet, sal ons enige lewensskaduwee oorleef!
Dankbaarheid is ‘n Bybelse opdrag. “Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle” (1 Thess.5:18). God gee ons 86,000 sekondes per dag. Hoeveel daarvan gebruik ons om vir Hom dankie te sê?
Om in tye van beproewing dankbaar te wees, maak ‘n geweldige indruk op mense en baan die weg vir getuienislewering. Dankbaarheid lei tot geestelike vergenoegdheid. En dis belangrik. God het ‘n behae daarin. Onvergenoegdes kla dat rose dorings het, vergenoegdes is weer dankbaar dat dorings rose het!
Dankbaarheid ly tot ‘n lewe van blydskap. Blydskap is die onfeilbare teken van God se teenwoordigheid in ‘n gelowige se lewe. In ons dolle lewensgejaag verloor ons soms so baie vreugdes, dat God dikwels beproewing op ons lewenspad bring sodat ons hierdie vreugdes weer kan ontdek.
In tye van beproewing kan blydskap ook as die hemelse goedkeuring van ‘n vaste geloofslewe gesien word. As daar dus geen tikkie dankbaarheid in ons beproewing te bespeur is nie, is daar iewers ‘n lekplek in ons geloof. Gevolglik is die teenoorgestelde van dankbaar nie ondankbaarheid nie, maar eerder ongeloof!
Ware blydskap is nie ‘n emosionele opborreling of uitbundige vrolikheid nie, maar eerder ‘n volmaakte berusting by God se wil. Daarom behoort ‘n gelowige van kop tot tone een groot hallelujah te wees. Een opregte vreugde in die Here laat ‘n honderd sorge verdwyn.
‘n Gelowige treur nie oor wat hy ontbeer nie, maar is eerder dankbaar vir dit wat hy nog oorhet. Lê jou derhalwe daarop toe om na vreugdes te soek. Jy sal verbaas wees waar jy dit oral gaan raakloop!