WOESTYN- GEDAGTES

Lees reeks by Pitkos vir die siel

Ds AE van den Berg

"Die Boerevolk is al jare lank in ‘n politieke woestyn.   Baie van ons volksgenote laat, soos die Israeliete, hul denkwyse dieselfde dofheid as hulle omgewing aanneem.   Hulle praat asof alles verby is en hulle binnekort in die woestyn gaan sterf.   Doemprofete voorspel dat al wat van die Boerevolk gaan oorbly, hul kurkdroë doodbeendere in die woestyn van selfvernietiging gaan wees."

“Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie” (Kol.3:2)

Slawerny is ‘n vreeslike ding, veral as jy aan gunstige omstandighede gewoond was soos die Israeliete wat in die tyd van Josef na Egipte getrek en jare later slawe geword het.   God het hulle egter op sy bestemde tyd vrygemaak en na Kanaän, die land wat Hy aan hul voorsate met ‘n eed beloof het, laat trek.   Kanaän was nie ver van Egipte af nie; ongeveer drie maande te voet.  Desondanks het dit die Israeliete 40 jaar geneem om dit te bereik, langer as om reg-om die wêreld te loop!   Waarom?

God wou hulle leer om 100% op Hom te vertrou en uitsluitlik van Hom afhanklik te wees.   Die Israeliete was vir 400 jaar deur die heidendom besoedel en moes deur beproewing skoongewas word.   Die invloed van die heidendom kon met die maak van die goue kalf by Horeb gesien word.  Die kalf was een van Egipte se baie afgode.

‘n Verdere rede waarom Israel so lank moes swerf, was dat hulle, soos baie van ons, ‘n woestyndenkwyse gehad het.   Ons bly tob oor dinge wat ons hinder sonder om met ons lewens aan te gaan.   Dis woestyndenke; ons val gedurig in ons eie klein wêreld vas.

In Kol.3:2 sê Paulus wat om met ons gedagtewêreld moet doen: “Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie” Hou dit by die dinge van God.   Asaf sê:  “Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie” (Ps.73:25).   Salomo sê:  ”Die pad van die lewe gaan vir die verstandige na bowe, sodat hy die doderyk daaronder ontwyk (Spr.15:24).    Jesus gee egter die heel beste raad:  “...maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel...” (Mt.6:20).   Drie verse later waarsku Hy teen die ding wat Israel gepootjie het: ”Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees” (:23)

Verkeerde gedagtes belemmer die gees en maak mense siek.  In die tyd van Jesaja was die volk so negatief dat hulle God se seëninge nie meer raakgesien het nie: “Hulle weet nie en verstaan nie, want hulle oë is toegemeer, sodat hulle nie sien nie, hulle harte, sodat hulle nie verstaan nie” (Jes.44:18).   Paulus sê:  “Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here – wandel soos kinders van die lig” (Efes.5:8).

‘n Woestyndenkwyse word nie net deur slegte lewensomstandighede gekweek nie.   Daar is mense met wie dit op stoflike gebied baie goed gaan.  Hulle het ‘n gerieflike huis, goeie werk, luukshede, geen skuld nie ens.  Nogtans geniet hulle nie die lewe nie omdat hul gedagtes vol woestynsand is - hulle het ‘n negatiewe gees.

Toe ‘n man eendag met ‘n veteraan motor by die huis aankom om te restoureer, sê sy negatiewe buurman vir hom: “Jy sal die ding nooit aan die gang kry nie!” ‘n Paar maande later roep hy die buurman om die gerestoureerde motor te kom besigtig.  Toe hy die masjien aanskakel en dit soos ‘n horlosie loop, sê die man: “Jy sal dit nooit afgeskakel kry nie!”

Deur ‘n negatiewe gees maak ons gevangenes van onsself.   Ons word ons eie tronkbewaarder en glo dat dinge nooit weer ten goede sal verander nie.  Dit gebeur wanneer ‘n mens toelaat dat sy lewensomstandighede sy lewe voorskryf.  So ‘n persoon beperk sy eie lewensmoontlikhede en kom nie by sy beloofde land uit nie.

Die Israeliete het gedurig by Moses gekla.  Wat moes hulle eet of drink?

Hulle gemoed het die kleur van hul omgewing aangeneem – so dood soos die woestyn!  Dis iets waarteen elke gelowige moet veg.  Ons moenie toelaat dat negatiewe lewensomstandighede ons gedagtewêreld verdof nie.  Ons gaan, soos baie van die Israeliete, niks in die lewe bereik nie!

God moes Israel uit die slawerny verlos om hulle in die beloofde land te kon inlei; ‘n land van oorvloed.   God doen dit vandag nog.  Hy verlos sy kinders uit negatiewe situasies en plaas hulle in positiewe situasies.    Hy roep sondaars uit die duisternis en plaas hulle in die lig - ‘n genadige uit-en-in handeling.

Die meeste Israeliete wat uit Egipte getrek het, het nooit die beloofde land bereik nie, maar in die woestyn gesterf omdat hulle God nie met hul toekoms vertrou het nie.  Hulle het onophoudelik teen hul tydelike negatiewe lewensomstandighede vasgekyk en deur hul eie toedoen ‘n wonderlike toesegging verongeluk.

Baie gelowiges is oppad na die Nuwe Jerusalem (beloofde land) maar geniet nie die reis nie omdat hulle gedagtewêreld êrens in die woestyn van die lewe vasgeval en deur die sand toegewaai is.   Dit verhoed die blydskap wat God vir sy kinders bestem het: “Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele...” (Mt.5:12).

Die Boerevolk is al jare lank in ‘n politieke woestyn.   Baie van ons volksgenote laat, soos die Israeliete, hul denkwyse dieselfde dofheid as hulle omgewing aanneem.   Hulle praat asof alles verby is en hulle binnekort in die woestyn gaan sterf.   Doemprofete voorspel dat al wat van die Boerevolk gaan oorbly, hul kurkdroë doodbeendere in die woestyn van selfvernietiging gaan wees.

Nee, God het ‘n doel met die Boere-woestynswerwers; ons moet sy Lig in die heidense duisternis aan die suidpunt van Afrika laat skyn.   In die Skrifgedeelte word die gelowiges van Kolosse opgeroep om anders as die wêreld te wees.  Ongelowiges kyk teen hul droewige omstandighede vas.  Gelowiges kyk op na Jesus.

Die skrywer van Hebreërs skryf oor die ou geloofshelde wat groot dinge in die lewe gedoen het omdat hulle geloofsoog op God gevestig was.  So moet ons oog ook wees.  “die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof...” (Heb.12:2).  Toe Petrus die nag van die storm op die see sy oog op Jesus gehou het, het hy selfs op water geloop!

Die gelowiges in Kolosse het moeilik gekry.   Ongunstige omstandighede was aan die orde van die dag.  Afgodery was ‘n gevestigde praktyk en die pad van die geloof het deur ‘n ongenaakbare geestelike woestyn gegaan.   Daarom vermaan Paulus hulle:  “Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is... waarin julle ook vroeër gewandel het toe julle daarin geleef het” (3:5,7).

Ons moet anders as die heidene optree sodat verlorenes in ons andersheid Jesus kan sien leef.   Dis net moontlik indien ons nie toelaat dat die heidendom ons harte ontstel nie.   Kom ons kry die woestynsand uit ons koppe en bedink die dinge wat daarbo is!