Lees reeks by Pitkos vir die siel
Ds AE van den Berg
"Hoe kan ek seker van redding wees? Dis die belangrikste vraag wat ‘n mens kan vra! Kan ‘n mens werklik 100% seker wees? Die meeste mense glo nie so nie. Jesus sê dat ons wel absoluut seker kan wees."
Springmielies is baie lekker. Dit groei soos ‘n gewone mielie, word geoes en dan gedroog. Daarna word die pitte gestroop en in olie of met lug verhit totdat dit ontdop ( pop). Die kern van die mielie sit uit waarna die druk te hoog word en dit omdop. Die stysel in die binnekant vorm jellieagtige borrels wat onmiddellik solied word. So ‘n springmielie is gemiddeld 50 keer groter as die oorspronklike pit en dadelik eetbaar. Dieselfde gebeur as brood gebak word; net teen ‘n laer temperatuur en heelwat langer.
Die wedergeboorte werk ook so. Sonder die Heilige Gees is ons soos ‘n mieliepit. Al die elemente is daar. Die pit het al die moontlikhede om ‘n springmielie te word en kort net hitte om dit om te dop en van nut te wees. Die Heilige Gees bewerk die nodige hitte.
“Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Joh.3:3)
Vir ongelowiges lyk die wedergeboorte onsinnig omdat hulle dit nie verstaan nie. Van die menslike pitte kyk selfs na die omgedopte pitte en sê dat hulle gek is, soos op Pinksterdag gebeur het toe die Heilige Gees uitgestort en die dissipels in 14 ander tale van die groot dinge van God getuig het. Mense het gedink dat hulle dronk is. Ja, alhoewel die wêreld nie die sin van die wedergeboorte insien nie, het hulle ‘n nood daaraan. Hoe meer wedergeborenes, hoe beter word die mensdom. Dis die lig en sout van die aarde.
Wedergeborenes val die wêreld vreemd op. Mense sien hoedat hulle kerke, stadions en geestelike kampe volmaak. Hulle is anders; hulle doen en praat anders. Dit maak nie altyd sin nie. Nikodemus het ook nie gesnap wat Jesus vir hom sê nie (teks). Uit sy antwoord is dit duidelik dat die wedergeboorte vir hom geen sin gemaak het nie.
Nikodemus was ‘n gesiene mens en ook geleerd. Hy het egter besef dat blote godsdiens hom nie in hemel gaan bring nie; nie sy Bybellees, gebede, dankoffers of toewyding nie. Iets het ontbreek en dit het hom gehinder. Hy het besef dat hy die hemel gaan mis. Sy siel het na sekerheid gesmag. Hy was op soek na iets wat hom gemoedsrus kon gee en van ‘n hemelwoning sou verseker.
Nikodemus het van Jesus en al sy wonderlike dinge gehoor en Hom een nag besoek. Hy het in die nag gegaan omdat hy op sy openbare aansien gesteld was. Nikodemus het antwoord op die groot vraag in sy siel gesoek: “Hoe kan ek seker van redding wees?” Dis die belangrikste vraag wat ‘n mens kan vra!
Kan ‘n mens werklik 100% seker wees? Die meeste mense glo nie so nie. Jesus sê dat ons wel absoluut seker kan wees. “Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie” (Joh.6:37).
Nikodemus het Jesus gevra hoe hy in die hemel kon kom en ‘n reguit antwoord gekry: ‘n Mens moet in geestelike sin weer gebore word. Daarsonder gaan niemand hemel toe nie. Daarvoor moet ons die sonde laat staan en in Jesus nuut word.
Vir die wêreld lyk die wedergeboorte onsinnig: “Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word. Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie. Want wie het die sin van die Here geken, dat hy hom sou onderrig? Maar ons het die sin van Christus” (1 Kor.2:14-16).
Al lyk die wedergeboorte vir die wêreld onsinnig, gebeur dit tog; selfs met die hardste van sondaars soos ‘n Paulus. Toe diè klipharde Fariseër met die vuur van die Heilige Gees in aanraking kom het iets met hom gebeur - die klipharde mieliepit wat vir die koninkryk van God niks beteken het nie, het dadelik omgedop! Die klipharde lagie wat sy trots, eiewaan en eersug bymekaar gehou het, het onder druk van die Heilige Gees geswig. Jesus het by die deur van Paulus se hart geklop en hy het oopgemaak om een van die kragtigste werktuies in die koninkryk van God te word.
Dis die wonder van die wedergeboorte. Die sondelaag wat verhoed dat ons kragtige werktuie vir God word, gee mee sodat ons bruikbaar kan word. Die kleur van die omgedopte springmielies is wit. Net so wit en skoon was die wedergeboorte sondaars. Ons sonde is vergewe en alles is nuut sodat ons bruikbaar kan wees. Die harde lagie is weg. Al wat oor is, is stukkies geel in die binnekant; die klein oorblyfsels wat ons daaraan herinner dat ons steeds sondaars bly wat vergifnis vir sondes moet kry: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword” (2 Kor.5:17).
Die wedergeboorte geskied nie by almal eenders nie. By sommige vat dit langer soos brood wat uitrys. By ander is dit weer onmiddellik, soos springmielies. Die eindresultaat bly dieselfde – ons word bruikbaar vir God en die mens.
Voordat die mielie spring, is dit niks werd nie. Dis klein en hard. Sodra dit verhit word, kry dit ‘n nuwe voorkoms. Dit lyk anders, proe anders en is nuttig. Dis hoe die Heilige Gees werk. Sonder Hom bly ons droë, harde pitte. Al ons geestelike moontlikhede bly in die harde sonde-doppie toegevou; nutteloos vir God.
Springmielies spring teen ‘n hoë temperatuur. So moet God ons soms ook eers warm maak voordat ons in sy diens ontpop. Hierdie hitteproses is soms baie onaangenaam, want dit maak seer. Maar dit wat daaruit voortvloei, is ongelooflik!
Net soos by Nikodemus dwing God geen besluit by mense af nie. Hy gee slegs raad. Ons besluit self. Ons kan met redelike sekerheid aanvaar dat Nikodemus Jesus se saligmakende raad aanvaar het. In Joh.19 lees ons dat hy saam met Josef van Arimathea die liggaam van Christus na sy dood weggeneem en met olie behandel het alvorens hulle Hom in doeke toegedraai en in ‘n graf geplaas het. Hoe lyk jy in God se oë? Is jy ‘n harde pitjie of ‘n bruikbare produk?