Ds AE van den Berg
Lees reeks by Pitkos vir die siel
" Watter boodskap het Jes.7:18 vir die Boerevolk? Dat ons die vyand van God nie durf vrees nie. Hulle het, soos Babel, slegs politieke mag en nie almag nie."
“En in dié dag sal die Here vir die vlieë fluit wat aan die einde van die strome van Egipte is, en die bye wat in die land Assur is...” (Jes.7:18)
Wat ‘n eienaardige vers! ‘n Mens kan amper nie glo dat daar so iets in die Bybel staan nie! Ons lees gereeld dat God praat of roep, maar nooit dat Hy fluit nie. Slegs in Jes.7:18. Hierdie teks beklemtoon ‘n baie groot waarheid - alles is aan God onderworpe hetsy goed of sleg. Hy stel selfs aan Satan perke. Luister hoe sidder die bose geeste voor Christus: “En hulle het Hom gesmeek dat Hy hulle nie sou beveel om in die onderwêreld af te vaar nie” (Luk.8:31). God beheer alles, goed en sleg.
In die gelese gedeelte bevind Juda hulle op die vooraand van ‘n nasionale ramp – ballingskap.
Hulle het telkens oortree en ten spyte van herhaaldelike oproepe tot bekering geen berou getoon nie. Daarom het God die vyand as ‘n tugroede teen hom gebruik. Hy het nie meer aan haar doel beantwoord om ‘n getuie vir God in die wêreld te wees nie en soos heidene geleef; mense wat God nie ken nie.Jesaja kla dat Juda slegter as diere is: “’n Os ken sy besitter en ‘n esel die krip van sy eienaar, maar Israel het geen kennis nie, my volk verstaan nie. Wee die sondige nasie, die volk swaar van skuld, die geslag van kwaaddoeners, die kinders wat verderflik handel! Hulle het die Here verlaat, die Heilige van Israel verag, hulle het agtertoe weggedraai” (Jes.1:3,4). Wat ‘n ongelooflike verval!
God is ‘n liefdevolle maar ook regverdige God. Israel was vir Hom soos ‘n kind. ‘n Vader wat sy kind liefhet, tug hom as hy verkeerd doen. Tug is nie iets wat jy aan ‘n kind doen nie, maar vir hom doen.
God kon Juda afgeskryf het. Hulle het dit immers verdien. Sy vaderlike liefde het dit egter nie toegelaat nie. Daarom het Hy weereens ernstig met hulle gepraat en daarop aangedring dat hulle na Hom moes terugkeer. Juda was egter soos ‘n stout kind wat nou wou hoor nie en toe maar moes voel. Gevolglik het God die Babiloniërs as tugroede teen hulle gebruik.
Krygsgevangeneskap was ‘n harde straf. Sulke mense is met net die klere aan hul liggaam na ‘n vreemde land weggevoer. Hulle moes alles agterlaat om dit besmoontlik nooit weer te sien nie - huis, familie, land, besittings, ja, alles.
God se liefde het ook in hierdie situasie geskitter. Terwyl die vyand na Jerusalem opgetrek het, het Hy alreeds vir Juda herstel belowe. Sy geregtigheid het egter nie toegelaat dat Juda maar straffeloos kon aanhou sondig nie. Nogtans het Hy herstel belowe. Hoe onbegryplik is die liefde van God nie! ‘n Vader troos sy kind gewoonlik na ‘n pak slae. Hier troos God vir Juda nog voordat Hy slae uitdeel!
Die vyand het Juda dan ook verower. Jeremia, wat onder die laaste krygsgevangenes was om Jerusalem te verlaat, beskryf die droewige prentjie: “Ag, hoe verlate sit die stad wat vol mense was! Sy het soos ‘n weduwee geword, sy wat magtig was onder die nasies; die vorstin onder die provinsies het dienspligtig geword” (Klaagl.1:1).
Babel se onderwerping van Jerusalem het opslae in die ou nabye Ooste gemaak. Die heidennasies het geweet dat Juda ‘n sterk God gehad het. Hulle het Jerusalem telkens probeer inneem, maar misluk. Gevolglik het dit ‘n opskudding veroorsaak toe Babel daarin geslaag het.
Koning Agas het van die komende onheil geweet. God het hom ingelig. So ook van die herstel: “Eis vir jou ‘n teken van die Here....” (:11). Dit was nodig sodat hy kon weet dat God se straf nie vir ewig sou duur nie. Konings was daaraan gewoond om tekens van God te eis indien iets goddelik-wonderlik beloof is.
Toe Hiskia byvoorbeeld die boodskap van God ontvang het dat hy van sy dodelike siekte sou genees, het hy ‘n teken gevra - die skaduwee op die sonwyser het 10 grade aangeskuif. Dit het alle twyfel uit die weg geruim en bewys dat die belofte wel van God was. Gideon het ‘n velletjie selfs twee maal uitgegooi. So het Saul ook by geleentheid ‘n wonderteken gesoek, maar nie by God nie, maar wel by ‘n heks.
Juda se volkslewe het donker geword. Die lig sou egter weer skyn. God het Agas genooi om ‘n teken van Hom te vra. Hy het halsstarrig geweier. Toe gee God dit self: “Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar en hom Immanuel noem” (:14). Daar gaan ‘n Verlosser kom!
Toe die verharde Agas weier om dit te aanvaar, het hy die basis van die verbond verwerp naamlik dat God sy volk sal verlos. Agas moes maar net op die geskiedenis let. Die Bondsvolk was telkens in die nood en dan het God ingetree en hulle gered. Hy het sy verbondsbelofte nagekom om vir Israel ‘n God te wees.
Die teken van redding was nie net vir Agas se aandag bedoel nie, maar vir die hele volk. Vers 14 begin met “Kyk,...” Die Hebreeuse woord hinneh wat hier gebruik word, is ‘n woord wat aandag op buitengewone gebeure vestig. Dis soos ‘n trompet wat geblaas word om aandag te verkry.
Hinneh is ook gebruik om ‘n besondere geboorte aan te kondig. ”...want kyk, ek bring julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees” (Luk.2:10). In Jes.7 gaan dit nie om die geboorte van ‘n gewone kind nie, maar om ‘n besondere kind – Jesus Christus.
Al het hierdie geboorte in die toekoms gelê, was redding vir die Bondsvolk in aantog. Die maagd sal swanger word, ‘n seun baar en Hom Immanuel noem; ‘n veelseggende naam: God met ons. Dit moes Juda troos. God het hulle gestraf, maar nie afskryf nie. Ja, in ‘n krisis kan ons nog van mense verlate wees, maar nie van God nie! God is altyd met sy kinders: “Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie, want U is met my....” (Ps.23:4).
Die heidene se oorloë was ook teen God gemik. As een volk ‘n ander oorwin het, is dit as ‘n oorwinning van die een afgod oor die ander beskou. Toe Babel oor Juda loop, het die heidene geglo dat hul god sterker as dié van Israel was. Min het hulle geweet dat hulle maar net instrumente in sy hand was! Jes.7:18 trek ‘n streep deur die heidense siening. Gelowiges weet dat alles aan God onderworpe is, goed en sleg: bye en vlieë!
Waarom het God vir die bye en vlieë gefluit? Om hulle aandag te trek. As iemand fluit, soek hy aandag. Toe God vir die bye en die vlieë fluit, het Hy reaksie gekry: “en hulle sal kom en almal gaan sit in die dale...” (:19). God beheer alles; die bye (goeie mense) en die vlieë (slegte mense). Geen vyand kan sonder God se goedkeuring optree nie. Hy gebruik hulle òf as tugroede òf stuit hulle in hul ydelheid.
Luister wat sê God later vir dieselfde Babiloniese koning wat Juda verneder het: “Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies! Ja, in die doderyk sal jy neergewerp word, in die diepste plekke van die kuil! “ (Jes.14:12.15).
Watter boodskap het Jes.7:18 vir die Boerevolk? Dat ons die vyand van God nie durf vrees nie. Hulle het, soos Babel, slegs politieke mag en nie almag nie. Die Almagtige kan hulle enige tyd in hul spoor stuit. Alles is aan Hom onderworpe, - bye en vlieë.
Al lyk dit soms vir die bye asof die vlieë hulle gaan oorweldig, is dit nie so nie. Hulle is slegs ‘n tugroede in Sy hand waarmee Hy die bye straf. In Jesus is en bly Hy onder alle omstandighede Immanuel vir Sy kinders!
Die Bondsvolk moes ‘n belangrike ding doen - in berou oor hul sondes na God terugkeer. “As my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal ek uit die hemel hoor en hul sondes vergewe en hulle land genees” (2 Kron.7:14).
Dis wat die Boerevolk ook moet doen; regmaak wat verkeerd is. Hy wat mag oor bye en vlieë het, wil vir ons volk nie vullis gee nie maar heuning!