LEUENS

Lees reeks by Pitkos vir die siel

Ds AE van den Berg

Die Boerevolk het voor ‘n groot keuse te staan gekom -  om òf volgens die Woord van God òf dié van heidene te leef.

"Sonde is om nie vir God te kies nie"

"Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verander in dié wat teen die natuur is; net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand; manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hul dwaling ontvang. En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ‘n slegte gesindheid om te doen wat nie betaam nie” (Rom.1:26-28). 

Ons leef in ‘n wêreld van leuens, ook van sagte leuens – leuens wat goed op die oor val.   Een van die gewildstes is dat ‘n mens net gelukkig kan wees indien hy alles kry wat jy graag wil hê en dat dit binne die mens se bereik is.   Dis ‘n leuen!   Dit word vertel van ‘n koning wat ‘n ander koning wou straf, maar besluit het om nie geweld te gebruik nie, maar die man eerder alles te gee wat hy wou hê.  Dit het hierdie koning later so verveel, dat hy gewens het dat die man eerder geweld wou gebruik.

Baie mense is daarop ingestel om alles uit die lewe te haal, ja, om te skep as die pappot verby kom.  Sulke mense raak so op stoflike dinge ingestel, dat hulle die tiende gebod telkens oortree.   Die wêreld is oorhoops met die bevrediging van menslike begeertes.   Die meeste TV programme is daarop ingestel.  Buite-egtelike verhoudings, saamwonery, kullery en korrupsie word as opwinding voorgestel.

Sonde en bose begeertes het al so onder die vel van ons volksgenote ingekruip, dat Satan hulle telkens met ‘n slap riem vang.   Hy laat boos-hede net so onskuldig soos die verbode vrug in Eden lyk.  “Kyk hoe mooi lyk die vrug; hoe kan daar met so ‘n mooi ding fout wees?” Ja, hoe siek het daardie vrug die mensdom nie gemaak nie!

Mense hanteer sonde verkeerd.  En dis ‘n baie ou probleem.   Let op die gedeelte in Rom.1.   Mense meen dat sonde, net soos die verbode vrug in Eden, nie so skadelik is nie en selfs geniet kan word.   Meer as 700 jaar gelede het Dantè in sy gedig Die Goddelike Komedie oor die sewe dodelike sondes geskryf.    Toe ‘n Amerikaanse leraar ‘n paar jaar gelede met siekte in die bed was, het hy beskuit om TV te kyk en die dodelikste mites aan te teken.  Daar was sewe.

  1. Die wêreld skuld jou geluk.
  2.  Jy sal net gelukkig wees indien jou begeertes bevredig word. 
  3.  Jy het geen rede om oor misstappe skuldig te voel nie.  Jy is maar net ‘n mens en nie ‘n engel nie. 
  4. Die mens is innerlik goed en onselfsugtig.
  5.  Alle menslike sienings is basies goed. 
  6. Jy kan alles hê en hoef vir niks te wag nie. 
  7. Jy is nie dom nie.  Jy het al die antwoorde.

Kortom, jy het God nie nodig nie.  Jy is jou eie god!

Wie God nie nodig het nie, verruil die onverderflike vir die verderflike. Daarom leef  baie akteurs, sangers, musikante en kunstenaars (celebrities) vieslike lewens.   Alkoholisme, dwelms en sedeloosheid vier hoogty onder hulle.

Wie die leuen liefhet, dra die gevolge daarvan.   God laat Hom nie bespot nie.  God onttrek dikwels sy genade aan mense wat aanhou sondig en lewer hulle aan booshede uit: “En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ‘n slegte gesindheid om te doen wat nie betaam nie”(Rom.1:28).

God hou op waarsku sodat die wat vuil is nog vuiler word.  “Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verander in dié wat teen die natuur is; net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand; manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hul dwaling ontvang” (vers 26,27).

Mense is van nature soekers van ydelhede en sal selfs booshede inspan om hul begeertes te bevredig.   In Rom.1:29-30 noem Paulus 22 sondes by die naam en waarsku gelowiges om hulle daarvan te weerhou.  Hy gebruik die bevrediging van seksuele begeertes as ‘n voorbeeld.   Mense kies òf vir die Satan òf vir God.   Sonde is om nie vir God te kies nie.

As jy verkeerd kies, betaal jy die prys.  Moses waarsku: “Maar as julle nie so doen nie, kyk, dan sondig julle teen die Here, en weet dan dat julle sonde julle sal uitvind” (Num.32:23).   Sonde word gestraf.  “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.  Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai, maar hy wat in die gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai” (Gal.6:7,8).   Moenie teen God kies nie.  Al lyk die vrug ook hoe mooi, baar dit die dood!

Sommige volksgenote se optrede verskil nie veel van diè van heidene nie. Hulle glo ook dat hulle op hul eie sal regkom.   Daar is trouens duisende boeke beskikbaar wat ‘n mens vertel hoe om gelukkig te leef.  Gevolglik is die mens goed genoeg om homself te red.   Hoe dwaas!

God het ons juis sy Woord gegee om daaruit te leer.   Ná Dawid se sonde met Batseba het hy gemaak asof niks gebeur het nie.  Daar het wel!  “Toe ek geswyg het, het my gebeente uitgeteer... want u hand was dag en nag swaar op my...” (Ps.32:3,4).

Sonde maak gelowiges onrustig.   Dis geen hersenskim nie, maar katastrofaal en moet versoen word.    Daarom het Dawid die regte ding gedoen deur sy sonde voor die Here te te bely: “My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie.  Ek het gesê: Ek wil aan die Here my oortredinge bely; en U het die ongeregtigheid van my sonde vergewe” (Ps.32:5).

Adam en Eva het aanvanklik geglo dat hulle by sonde kon baat en soos God word.   Nee, sonde laat mense eerder soos Satan word!    Sonde  vervreem ‘n mens van God en maak jou ongelukkig.   Die Bybel is God se padkaart na ‘n gelukkige lewe.  Daarsonder verdwaal ‘n mens al is hy ook hoe ryk of slim!

Sonde keer alles wat reg is om.  Paulus gebruik homoseksualisme as voorbeeld.   Die huwelik is ‘n heilige instelling van God tussen man en vrou ( Gen.2).  Satan poog om dit te ontheilig.   Dis ‘n gruwel wat die dood verdien en nie ‘n alternatiewe liefdeslewe soos wat heidene beweer nie. “...mense wat – al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien – diédinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen” (Rom.1:32).

Die Boerevolk het voor ‘n groot keuse te staan gekom -  om òf volgens die Woord van God òf dié van heidene te leef.  Wie laasgenoemde kies se lewenswaardes verander gedurig.   Hulle moet gedurig die doelpale verskuif.   Niks staan vas nie.

Dit gebeur as die mens sy eie verlosser wil wees.  Alles gaan goed tot op ‘n dag dat hy op die damwal van die lewe gly en in die diep water beland.  En wanneer hy hom aan sy eie hare probeer uittrek, kry hy dit nie reg nie.  En op die damwal sit die Satan en lag want hy het nog iemand gevang!   Nee, volksgenoot, staan eerder baie vas in die Here.  Moenie jou deur mense of kerke laat mislei nie.   Die gelowiges in Rome was deur sonde en verleiding omring.   Paulus daag hulle uit om nie hul greep op die waarheid te verloor nie.   Staan vas want Jesus kom!