Lees reeks by Pitkos vir die siel
Ds AE van den Berg
"So is talle Suid-Afrikaanse kerke mislei om hierdie noodlottige sleutels ter hand te neem en hul vir ‘n reënboognasie te beywer. Toe die Marxistiese versoeningsvirus kerke beetgepak het, is duisende mense deur die mite van universele broederliefde oorrompel en het hulle ontspoor. Die Boerevolk is willens en wetens in ‘n noodlottige eksperiment ingelei. Daarna het ontspoorde kerklui lidmate se gewetens begin tiranniseer en hulle verplig om in ‘n beswyming van berou oor hul kerklike verlede te gaan."
“Kyk, Ek het voor jou ‘n geopende deur gegee....”(Openb.3:8)
Dis wonderlik om na baie jare weer met iemand wat jy vroeër geken het te praat. Dit het met die dissipel Johannes gebeur toe Jesus na meer as 60 jaar weer met hom gepraat het. Tydens Jesus se aardse bediening het Johannes oral met Hom saamgegaan. Hy was selfs saam met Hom op die Berg van die Verheerliking (Mt.17) en ook een van die laastes wat die kruis verlaat het. Die laaste wat Johannes Jesus gesien en hoor praat het, was met sy hemelvaart.
Die meerderheid dissipels het ‘n marteldood gesterf. Johannes het egter genade ontvang, baie oud geword en tot sy dood in die diens van Jesus gestaan. Johannes was die leraar van Efese toe hy in 95nC na Patmos verban is (Openb.1:9). Hy was toe ongeveer 90 jaar oud en het seker maar aanvaar dat hy daar in die vreemde sou sterf.
Kort na sy aankoms op die eiland het daar een Sondag ‘n wonderlike ding met hom gebeur.
Jesus het met ‘n stem uit hemel met hom gepraat en daarna aan hom verskyn: “Sy hoof en hare was soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos ‘n vuurvlam, en sy voete soos blink koper wat gloei soos in ‘n oond , en sy stem soos die stem van baie waters” (Openb.1:14,15).Johannes het hom amper doodgeskrik: “En toe ek Hom sien, val ek soos ‘n dooie aan sy voete...” (:17). Om na 60 jaar weer Jesus se stem te hoor, was wonderlik! Daarna het Hy Johannes opdrag gegee om die laaste boek in die Bybel te skryf. Johannes het aanvanklik gedink dat dit daar op Patmos klaar met kees was. Maar dit was nie. Jesus het nog werk vir hom gehad. Ja, niemand is te oud is om vir God te werk nie!
Alvorens Jesus hom die openbaring gegee het, het Hy eers sewe briewe gedikteer wat Johannes aan die sewe gemeentes in Klein Asië (Turkye) moes stuur. Jesus het vir elke gemeente ‘n boodskap gehad.
Die sesde brief is aan die gemeente in Filadelfia (Grieks vir broederliefde) gerig. Ons weet nie veel van die stad nie, behalwe dat dit nie ‘n beduidende stad soos Efese, Smirna of Laodicea was nie. Let daarop dat slegs twee van die sewe gemeentes lof van Jesus ontvang het - Smirna en Filadelfia. Smirna ontvang lof omdat sy in die tyd van verdrukking geestelik vasgestaan het. Filadelfia se lof het alles met die geopende deur wat sy van Jesus ontvang het, te doen.
Die deur is beeld van die geleentheid wat Jesus vir die gemeente geskep het om die Evangelie uit te dra. Paulus praat van soortgelyke deure: “’n Groot en kragtige deur het vir my oopgegaan .....(1 Kor.16:9). “Bid tegelykertyd ook vir ons dat God vir ons die deur van die woord mag open...” (Kol.4:3). Mense maak nie self hierdie deure oop nie. Net Jesus. Gemeentes moet dit egter benut.
Die wêreld waarin die gemeente van Filadelfia haar bevind het, was deurspek van die heidendom. Die Christene was maar ‘n handjievol - die sout en die lig van die omgewing. Toe hulle lewens bedreig is en alles om hulle toegegaan het, het Jesus vir hulle ‘n deur oopgemaak en kon die gemeente daarby ingegaan en in die wingerd van God arbei.
Die sleutel van hierdie deur in Filadelfia was in die hand van die hemelse Sleuteldraer wat aan die regterhand van God sit, vanwaar Hy die kerk regeer en bewaar. Die deur met sy sleutel is ‘n voltooide beeld. Jesus werk nooit halfpad nie!
Deur die loop van die geskiedenis het die kerk haar telkens voor geopende deure bevind. Baie van hulle was nie deur God oopgemaak nie, maar deur eiesinnige mense wat deur Satan mislei is. Daarom wemel die kerkgeskiedenis van flaters - mense wat in hul voortvarendheid nie stilgestaan en seker gemaak het of God die betrokke deur oopgemaak het nie.
Gevolglik is die kerk by baie deure in wat mense oopgemaak het, mense wat gedwaal het omdat hulle die Skrifte nie ken nie. Daarom het die kerk dikwels voor die versoeking geswig om hul met sake te bemoei wat buite die opdrag van God geval het. Satan het die verbode vrug goed laat lyk en die kerk mislei om buite haar opdragsveld te beweeg. In plaas daarvan dat die kerk in wêreld ingegaan het, het die wêreld in kerk ingegaan! So het die kerk haar grootste taak, om vir die wêreld te sê dat daar verlossing in Christus is, verwaarloos.
Satan het aan die kerk die sleutels van wêreldlike mag aangebied. “Jy soek mos ‘n koninkryk, nie waar nie? Ek sal vir jou een gee! Die koninkryk van die hemel waarvoor jy ywer, is baie ver hiervandaan, ver anderkant die wolke. My koninkryk is egter baie naby, ja, so naby dat jy letterlik daaraan kan raak. Dink net aan al die wonderlike dinge wat jy kan doen indien die sleutels van politieke mag in jou hande beland. Hoe kan jy nie die land hervorm nie en hoeveel deure sal daar nie vir jou oopgaan nie. Jy kan dit mos alles in diens van die Evangelie stel!”
So is talle Suid-Afrikaanse kerke mislei om hierdie noodlottige sleutels ter hand te neem en hul vir ‘n reënboognasie te beywer. Toe die Marxistiese versoeningsvirus kerke beetgepak het, is duisende mense deur die mite van universele broederliefde oorrompel en het hulle ontspoor.
Die Boerevolk is willens en wetens in ‘n noodlottige eksperiment ingelei. Daarna het ontspoorde kerklui lidmate se gewetens begin tiranniseer en hulle verplig om in ‘n beswyming van berou oor hul kerklike verlede te gaan. As kerkleiers saam met volksvyandiges begin plunder, is die dood in die pot!
Net die teenoorgestelde het gebeur; die kerk het nie mag oor die politiek verkry nie; die politiek het besit van die kerk geneem! Een en dieselfde ding wat eeue gelede met Eva in die tuin van Eden gebeur het – alles wat op die oog af goed lyk, is nie per sè goed nie. Pasop vir die musiek van universele broederliefde; dit begin goed, maar eindig altyd in wanklanke!
Soos wat die sonde droewige gevolge vir die mensdom gehad het, het die ontsporing van kerke aan die suidpunt van Afrika droewige gevolge vir ons volk gebaar. Die Christelike grondwet is met ‘n sekulêre grondwet vervang. Daarna is die Tien Gebooie opsy geskuif en het die Handves van Menseregte die nuwe evangelie aan die suidpunt van Afrika geword.
Dit gebeur as kerke nie waak nie!
Die gemeente van Filadelfia het gewaak en slegs van die deur wat Jesus vir hulle oopgemaak het, gebruik gemaak. Jesus het hulle selfs tot geestelike behoudenheid (konserwatisme) opgeroep: “Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie” (3:11). Behoudenheid is soos ‘n kosbare kroon wat vasgehou moet word. Die Griekse woord daarvoor dui op ‘n krampagtige vashou soos wit kneukels in toutrek. Satan wil gelowiges die kroon ontneem. Ons durf dit nie toelaat nie!
Toe die kerklike duister in die tagtiger jare op die Boervolk toegesak het, het bekommrdes gevra: “Waarheen nou?” Volksgenote met ‘n liefde vir hul volk en eerbied vir God se volkereverskeidenheid is aangekyk soos bord kos wat nie bestel is nie! Was dit ikabod met die kerk?
Nee, Jesus het ingegryp. Hy wat aan die regterhand van God sit en sy kerk bewaar, het met die stigting van die AP Kerk op 27 Junie 1987 vir behoudende gelowiges ‘n wonderlike deur oopgemaak waarna hulle hul kerklike bande sonder gewetensverwyte kon verbreek.
Ons het in die AP Kerk ‘n groot dog heerlike taak; om aan ‘n misleide, verwarde volk te gaan sê dat versoening nie deur onnatuurlike verbroedering of verbastering geskied nie, maar alleenlik deur die bloed van Jesus Christus!
Die Boerevolk is geskaad, maar nie vernietig nie. Hy is besig om met die genade van God op te staan omdat Christus ook vir ons volk, soos vir ‘n Filadelfia van ouds, ‘n deur oopgemaak wat niemand, nie eers Satan nie, kan sluit!