DIE ANTICHRIS EN DIE SKRIF (3)

Jeanette Koekemoer

Lees reeks by Die antichris en die Skrif

Die antichris en die wederkoms
'n Bybelnavorser wat beweer dat hy die Bybel duisende ure bestudeer het, Finis Dake, het in die veertigerjare geskryf oor verskeie voorspellings wat gemaak is. Sy gevolgtrekking was dat Babilon, die stad wat in die antieke tyd oor die gebied gestrek het waar die huidige Irak is, in die laaste dae die middelpunt van handels,- godsdienstige en politiese bedrywighede in die Ooste sal wees. Dake was oortuig dat die stad herbou en die hoofstad van die antichris sal word. Hy was selfs so spesifiek dat hy beweer het die antichris sal uit Sirië kom (wat Babilon insluit want die Siriese deel van die ou Griekse Ryk het die lande Sirië en Irak ingesluit.)

In die tyd toe Dake sy navorsing gedoen het was die grootste deel van Palestina moerasagtig of dorre woestyn. Dit is teen hierdie agtergrond dat Dake die volgende oor die twee-duisend-vyfhonderd jaar oue voorspelling in Jesaja 35 geskryf het oor die tyd wanneer Israel se droë woestyn sal blom soos 'n roos en die wêreld vol vrugte sal wees:

"'n Volkome herstel of hervestiging. Geen profesie oor die wederkoms van die Here kan vervul word voordat die Jode na hulle land terugkeer nie." Dake het in die dertiger- en veertigerjare vasgestaan daarop dat geen profesie oor die Here se wederkoms vervul kan word voordat die Jode na hulle land Israel terugkeer nie. Daarom het hy ook die beeld van die woestyn wat blom nie as 'n geestelike gelykenis gesien nie maar letterlik vertolk.

Meer oor die Islam
Om meer van die koms van die dier te verstaan is dit ook nodig om bietjie meer oor die Islam uit te brei. Baie mense weet byvoorbeeld nie waarom die Moslems die Jode so haat nie. Vóór 9/11 het talle mense ook niks van Moslems of die Islamitiese godsdiens geweet nie.

Die Amerikaanse skrywer, Perry Stone, skryf dat die stigter van die Islam, Mohammed, wie se naam beteken 'hy wat geprys word', teen ongeveer die jaar 570 in die stad Mekka in Arabië gebore is. Mohammed se vader, Abdullah, is oorlede voor Mohammed se geboorte. Sy moeder, Amina, is dood toe Mohammed ses jaar oud was. Sy oom het hom grootgemaak. Mohammed was lid van die Koeraisj-stam wat beweer het dat hulle as nasate van Ismael direk van Abraham afgestam het.

Mohammed het beweer dat hy 'n reeks visioene en openbarings van Allah ontvang het. Dit het later die grondslag van die Islamitiese Koran gevorm.

Mohammed het met handelskaravane deur die hele Sirië en Arabië gereis. Toe hy vyf-en-twintig was het hy met 'n welgestelde weduwee, Khadija, getrou en ses kinders gehad.

Mohammed het naby Mekka gewoon. Dit was 'n Arabiese nedersetting en die middelpunt van die karavaanroetes wat noord-suid en oos-wes gestrek het waar verblyf, voedsel en stalle vir kamele aan Arabiese handelaars verskaf is.

In Mekka was daar ook 'n kristalhelder put van 43 meter diep. Dit is genoem Zam Zam, waarvan die water na bewering siekes kon genees. Duisende mense is as gevolg hiervan soontoe gelok.

Daar is ook 'n enorme swart rots in Mekka waarvoor handelaars bang was. Inwoners van Mekka het 'n groot kubusvormige klipgebou bo-oor die rots gebou en dit Kaäba genoem wat in Arabies 'kubus' beteken. Standbeelde van verskillende gode is op die klip geplaas, en Mohammed se oupa was die bewaarder van die Kaäba se sleutels.

Nog lank voor Mohammed het pelgrims Mekka jaarliks besoek om uit die wonderbaarlike fonteine te drink en die swart rots te soen waarvoor hulle eers moes betaal. Teen die vyfde eeu het die dominante stam, die Koeraisj, die bewaarders van die Kaäba geword. Dus het die toegangsgeld na hulle gekom. In Mohammed se tyd was daar reeds 360 verskillende afgodsbeelde op die swart rots.

In die jaar 610 het Mohammed as veertigjarige beweer dat hy tydens gebed in 'n grot bokant Mekka 'n stem met hom hoor praat het wat hom vertel het dat hy die uitverkore boodskapper van God is wat alle dinge beheer. Volgens die Moslemgeloof het Mohammed daarna 'n reeks visioene ontvang. Hierin is onder andere glo verklaar dat daar net een God is en dat sy naam in Arabies, Allah is, en ook glo dieselfde God is wat die Jode en die Christene aanbid. Nadat Mohammed hierdie storie onder die Arabiere verkondig het, het sy volgelinge bekend geraak as Moslems, en die nuwe geloof as Islam, wat 'onderdanigheid' beteken, aangehang.

Daar was groot teologiese verdeeldheid onder die Christene en die Jode. In Mekka het konflik onder die kooplui by die Kaäba ontstaan want dit kon die einde van die pelgrimstogte beteken indien geglo word dat daar net een God is. Baie Arabiere het Mohammed as leuenaar uitgeskel. Uiteindelik is Mohammed en sy volgelinge uit Mekka verdryf en is hulle na 'n nuwe stad, Madinat al Nabi, wat deur Mohammed self vernoem is, wat beteken ' Stad van die Profeet'. Dit staan vandag bekend as Medina in Saoedi-Arabië.

Hierna het onenigheid tussen Medina en Mekka hoogty gevier. Moslemgroepe het strooptogte op die handelskaravane begin uitvoer. Mohammed het verkondig dat indien sy volgelinge tydens hierdie gevegte sterf, hulle reguit na die paradys sal gaan – dus was daar by hulle geen vrees om te sterf nie en het die strooptogte gedy. Die agtjarige oorlog is finaal beëindig toe die mense van Mekka hulle aan die Moslems onderwerp het. Mohammed het hierna verklaar dat Allah die ware God is, en Mekka as die middelpunt van die Islamitiese geloof omskep. Pelgrimstogte na die Kaäba het 'n sentrale leerstelling gebly en vandag nog is die pelgrimstog na die Kaäba in Mekka, wat alle Moslems minstens een maal voor hulle dood moet onderneem, een van die vyf pilare waarop die Islam rus. Dit word die 'hadj' genoem. Meer en meer Arabiere wat by die godsdiens aangesluit het, het die Islam vinnig deur Arabië laat groei.

Op ongeveer 62jarige ouderdom het Mohammed geweldige hoofpyne en koors begin kry waarvan hy nooit herstel het nie en op 8 Junie 632 gesterf. Die geloof bestaan dat een van sy vroue wat Joods was hom vergiftig het.

Ná sy dood is sy versamelde uitsprake in die boek, die Koran, in Arabies gebundel wat as die heilige openbarings van Islam beskou word – net soos die Bybel as God se heilige openbaring aan Christene beskou word. Die Koran bevat 114 soeras of hoofstukke.

Toe Perry Stone op 'n dag aan 'n Moslem vra waarom daar soveel teenstrydigheid tussen die Koran en die Bybel is, byvoorbeeld dat Mamre in Hebron is maar die Kaäba in Arabië, was die antwoord dat die Koran onfeilbaar is en dat die Christene en Jode die Bybel verander het om hulself te pas. Hierdie siening maak dit feitlik onmoontlik om Moslems tot die Christendom te bekeer deur die Skrif aan te haal en kan slegs die Heilige Gees hulle harte beïnvloed.