...vriend van God, wat Israel van Egipte tot by Kanaän gelei het
Dr JP Botha
Lees reeks by MOSES
MANNA EN KWARTELS
Uitendelik moes ons van Elim af deur die Sinwoestyn trek oppad na die Sinaïberg. Dit was alreeds ‘n maand nadat ons uit Egipte weg is. Daar in die woestyn het almal skielik teen Moses en Aäron begin uitvaar: “Die Here kon ons liewer in Egipte laat bly het. Daar was ten minste genoeg om te eet. Nou het julle ons na hierdie woestyn toe gebring sodat almal hier van honger kan doodgaan.”
Die Here praat toe met Moses en sê vir hom: “Ek gaan vir julle kos uit die hemel laat reën. Die volk kan elke dag uitgaan en genoeg kos vir die dag bymekaar maak. Ek gaan hulle toets om te kyk of hulle na My wil luister of nie. Op die sesde dag moet hulle twee keer soveel as gewoonlik bymekaar maak.”
Moses het toe geweet wat die Here gaan doen en hy en Aäron het vir ons gesê: “Teen vanaand sal julle weet dat dit die Here self is wat julle uit Egipteland laat wegtrek het. Môreoggend sal julle sien hoe groot die Here is. Hy het gehoor hoe julle oor Hom kla. Dis eintlik teen Hom wat julle so uitvaar en nie teen ons nie. Hy sal vanaand vir julle vleis gee om te eet en môrevroeg sal julle versadig word van die brood wat julle sal kry.
Teen die aand het daar swerms kwartels aangevlieg gekom en oral in die laer gaan sit. Ons kon hulle met die hand vang en as lekker vleiskos gaarmaak en geniet. Die volgende oggend het daar dou reg rondom die laer gelê. Toe die dou verdwyn, was die grond bedek met fyn vlokkies wat soos ys gelyk het. Moses het gesê: “Dit is die kos wat die Here vir julle gee om te eet. Gaan maak daarvan genoeg bymekaar vir die aantal mense in elke tent, vir elke persoon.”
Ons was verbaas en het van die heerlike manna gaan optel. Dit het so lekker gesmaak! Maar baie van die volk het weer nie geluister toe Moses gepraat het nie en het baie meer manna opgetel as wat hulle vir die dag kon gebruik. Hulle het dit vir die volgende oggend gebêre. Maar toe moes hulle dit weggooi, want dit was vol wurms! So het ons geleer om elke dag net genoeg vir die dag in te samel. Op die sesde dag kon ons tweemaal soveel as vir ons daaglikse behoefte insamel, want op die sewende dag, wat die Here se Sabbat was, het ons niks op die grond gekry nie. Die ekstra manna wat ons op die vorige dag vir die Sabbat ingesamel het, het nie sleg geword nie en het die volgende dag nog vars gebly om te gebruik. Die volk het hierdie hemelse manna veertig jaar lank geëet totdat hulle in ‘n bewoonde land gekom het, tot by die grens van die land Kanaän. Die volk het elke dag kos gaan bymekaarmaak volgens elkeen se behoefte. Na mate dit in die dag warmer geword het, het die kos wat nie opgetel is nie, verdwyn.
WATER UIT DIE ROTS
Onder leiding van die Here se wolkkolom bedags en die helder vuurkolom snags, het ons die Sinwoestyn verlaat en by Refidum moeg en dors aangekom. Daar was water, maar veels te min vir die behoeftes van so baie mense en die veetroppe. Toe moes Moses weer onder ontelbare klagtes en verwyte deurloop: “Ons wil water hê om te drink! Waarom het u ons uit Egipte laat optrek om ons en ons kinders en ons vee van dors te laat omkom?” Moses het die Here aangeroep en gesê: “Wat moet ek met hierdie volk doen? Dit skeel maar min of hulle stenig my. “
“Neem jou staf waarmee jy die Nyl geslaan het en slaan die rots aan die voet van Horeb daarmee, het die Here geantwoord. Water het uit die rots gestroom en solank as wat hulle by Sinaï gestaan het, het hulle genoeg water gehad. Hulle het die plek Massa (versoeking) en Meriba (twis) genoem, oor die getwis van die Israeliete en omdat hulle die Here versoek het deur te vra: “Is die Here in ons midde of nie?” By die Rietsee het hulle hul geloof in God jubelend uitgesing. Twee maande later vra hulle by Refidum: “Waar is God?” Hulle het God uitgedaag om te wys dat Hy nog by hulle was. Hulle het Hom versoek.
Dit is nou die vierde keer wat hulle met Moses rusiemaak op die klein entjie pad wat hulle tot sover afgelê het. Dis die derde keer wat hulle hom verwyt dat hy hulle uit Egipteland uitgelei het. Die getwis was elke keer erger. Hoe sou dit nie gaan op die lang pad van veertig jaar vorentoe nie? Hy het rede gehad om om te draai en terug te keer. Ek het hom so jammer gekry. Maar hy het sy hand aan die ploeg geslaan en kyk nie om nie. Sy ywer vir die Here en sy liefde vir sy volk het nie verkoel nie. Sagmoedig dra en verdra hy alles. Hy besef dat die volk se aantyginge nie teen hom is nie, maar teen die Here. Daarom het hy God se saak sy saak gemaak en nou is sy saak God se saak.
GEVEG TEEN DIE AMALEKIETE
Kort nadat ons by Refidum aangekom het, is ons deur Amalek se soldate aangeval. Moses het vir Josua beveel om ons manskappe bymekaar te maak om teen hulle te veg. Moses sal dan op ‘n koppie daar naby gaan staan met die stok wat God vir hom gegee het, in sy hand. Onderwyl Josua toe sy troepe uitlei, het Moses, Aäron en Hur teen die koppie uitgeklim. Die geveg het begin. Israel was aan die wenkant so lank as wat Moses sy hand in die lug opgehou het, maar sodra hy sy hand laat sak, het die Amalekiete die oorhand begin kry. Moses kon naderhand weens moegheid sy hand nie meer in die lug hou nie. Aäron en Hur laat hom toe op ‘n klip sit. Hulle het weerskante van hom gaan staan en sy hande tot sononder in die lug gehou, totdat Josua vir Amalek en sy volk verpletterend verslaan het.
Met hierdie gebeurtenis het God vir die volk ‘n les geleer: Sonder Josua en sy manskappe kon die Amalekiete nie verslaan word nie. Dit kon ook nie gebeur sonder Moses se gebede nie. Die les is: Veg en bid, bid en veg. Moses tree hiervandaan verder al hoe meer op as middellaar tussen God en die volk, totdat hy later tussen hulle en uitdelging staan.
JETRO BESOEK MOSES
Nadat die Amalekiete verslaan is en die volk hier by Refidum besig was om hulle kamp vir ‘n onbepaalde tyd in te rig, het Moses se skoonvader Jetro, die priester van Midian, hom kom besoek en sy vrou en twee seuns na hom gebring. Jetro het met skerpsinnigheid en nugterheid waargeneem wat in die laer gebeur en gesien hoe die volk van die môre tot die aand voor Moses staan om hulle regsake en moeilikhede aan hom voor te lê. In die aand was hy uitgeput en moes baie mense teleurgesteld omdraai, sonder ‘n geleentheid om hul sake aan hom voor te lê.
Jetro het vir Moses gesê hy sal nooit met hierdie uitputtende taak kan volhou nie. Hy moet uit die volk bekwame en betroubare manne kies wat God vrees en hulle aanstel as owerstes oor duisend, oor honderd, oor vyftig en oor tien en hulle die regspraak oor die volk laat uitoefen. Al die groot sake moet hulle na Moses bring, maar in die kleiner sake moet hulle regspreek.
Moses het Jetro se advies aanvaar. Sy las is daardeur aansienlik verlig. Hy was besig om al meer tussen die volk uit te styg en tussen God en die volk te staan. In hierdie proses was hy besig om al hoe meer hul middelaar by God te word.
Vervolg...