M O S E S... (13)

...vriend van God, wat Israel van Egipte tot by Kanaän gelei het

Dr JP Botha

Lees reeks by MOSES

OPSTAND  VAN  KORAG,  DATAN  EN  ABIRAM

‘n Entjie verder op die ongelowige en ongehoorsame  pad van Israel in die woestyn in, het die volgende ongelukkige voorval plaasgevind:  ‘n Klompie Leviete het onder aanvoering van drie manne, Korag, Datan en Abiram, ontevrede geraak met Moses en Aäron se leierskap.  Hulle het vir hulle ‘n gevolg van 250 man bymekaargemaak en teen Moses-hulle bymekaargekom en vir hulle gesê:  “Die Here is onder ons almal.  Waarom beskou julle jul belangriker as die res van die Here se volk?

Moses het op die grond neergeval.  Hy het vir hulle gesê:  “Môre-oggend sal die Here wys wie aan Hom behoort.”  Hy het aan Korag gesê:  “Die Here het julle as Leviete aangestel om naby Hom by die tabernakel te wees en Hom te dien.   Wil julle dan die priesteramp ook hê?  Julle sweer teen die Here saam.  Wat het julle teen Aäron?

Hy het toe vir Datan en Abiram laat roep, maar hulle het laat weet dat hulle nie sou kom nie.  Hulle het weer die ou afgesaagde gesangetjie gesing van die vrugbare land waaruit hulle weggevat is om in die woestyn te sterf.  “En nou wil jy nog baas oor ons wees.  Ons sal glad nie kom nie.”

Moses het baie kwaad geword.  Hy het Korag beveel om met al sy kamerade die volgende dag met brandende vuurpanne en wierook na die Here toe te kom.  Hulle het dit gedoen, maar Korag het by die tabernakel die volk luidkeels gestaan en opsweep.  Toe sê die Here vir Moses:  “Staan weg dat Ek hulle met één slag kan vernietig.  Moses en Aäron het op die grond neergeval en gesmeek:  “O God, moet U nou vir die hele gemeenskap kwaad word, net oor een mens wat oortree het?”

Die Here se antwoord aan hulle was:  “Sê vir die mense hulle moet padgee van Korag, Datan en Abiram se tente af.”

Datan en Abiram het uitgekom en saam met hulle familie voor hulle tente gaan staan.  Moses het gesê:  “Ek tree nie uit my eie op nie.  Wat nou gaan gebeur, is die Here se werk.”  Die volgende oomblik skeur die aarde onder hulle oop en sluk hulle en hul huisgesinne in.  Dit het ook vir Korag en sy trawante en alles wat hulle besit het, ingesluk.  Hulle het net so lewendig met alles in die grond verdwyn.  Toe hulle angsgille opklink, het al die Israeliete wat rondom gestaan het, op die vlug geslaan.  Daar het toe vuur van die Here af gekom en dit het die 250 mans verteer wat nadergekom het om die wierook te brand.

Dit was nog nie die einde van hierdie skrikwekkende gebeurtenisse nie.  Net die volgende dag het die Israeliete weer oor Moses en Aäron begin kla en vir hulle geskree:  “Julle het die volk van die Here vermoor!”  Toe die volk om hulle begin saamdrom, het Moses-hulle na die tabernakel toe geloop, waaroor die wolk toe gehang het, want die magtige teenwoor-digheid van die Here het toe verskyn.  Toe Moses en Aäron by die ingang van die tabernakel gaan staan, sê die Here:  “Staan weg van hierdie mense.  Ek wil hulle in ‘n oogwink vernietig.”

Moses het op die grond neergeval en vir Aäron geskreeu:  “Vat gou ‘n vuurpan en sit vuur daarop van die altaar en strooi wierook daaroor en doen versoening vir die mense.  Kyk, die Here se woede is verskriklik!  Die plaag wat Hy stuur het reeds begin.”

Aäron het onmiddellik versoening begin doen en toe het die plaag ook dadelik opgehou, maar toe was daar reeds 14 700 mense dood, behalwe dié wat in die Korag-gebeure dood is.  Verskriklik!  Maar God laat die sonde nie ongestraf voortwoed nie.

Kort nadat hierdie tragedie plaasgevind het, het die Here vir Moses gevra om 12 stokke bymekaar te kry, een vir elke stam.  Hy moes die name van die leiers van die stamme op elkeen se stok skryf en Aäron se naam op die stok van die Levistam.

Moses moes die stokke in die tabernakel voor die ark van die verbond gaan neersit, waar die Here hulle ontmoet.  Die Here sal dan bloeisels laat uitkom aan die stok van die persoon wat Hy verkies.  Die Here wil ‘n einde maak aan die Israeliete se opstand teen Moses en Aäron.

Moses het toe van elkeen van die 12 stamleiers ‘n stok met sy naam daarop gevra.  Aäron se stok was ook daar.  Moses het die stokke in die tabernakel voor die ark gaan neersit.  Toe Moses die volgende dag in die tabernakel ingaan, kry hy Aäron se stok, wat Levi verteenwoordig, vol bloeisels.  Dit het gebot en uitgeloop en amandeltjies gedra!.  Moses het die stokke uitgebrng. Elke leier het na sy stok kom kyk en dit geneem.

Die Here het vir Moses gesê om Aäron se stok weer in die tabernakel terug te plaas, sodat die volk kan ophou om teen die Here te kla.  Toe sê die Israeliete:  “Dis klaar met ons!  Elkeen wat naby die tabernakel kom, sal doodgaan!  Ons is gedaan!”

Arme Moses moes dit alles aanhoor.  Gelukkig het die Here hom elke dag met die nodige krag voorsien  om nie inmekaar te stort nie.

Die Israeliete het in die vroeë lente in die Sinwoestyn aangekom en by Kades kamp opgeslaan.

Vanaf die uittog uit Egipte tot hier in die woestyn by Kades, het Moses se suster Mirjam vir ons al die gebeurtenisse wat plaasgevind het, opgeteken.  Sy is hier by Kades dood en ons het haar hier begrawe.  Die verdere verloop van sake tot by die volk se intog in Kanaän, word nou deur my, JOSUA, die seun van Nun wat vir Moses as leier opgevolg het, verder vertel.

Vervolg...