...vriend van God, wat Israel van Egipte tot by Kanaän gelei het
Dr JP Botha
Lees reeks by MOSES
EDOM WEIER TOEGANG
Moses het hier van Kades af boodskappers na die koning van Edom gestuur en toestemming gevra om deur sy land te trek Kanaän toe. Moses het vertel wat alles met die Israeliete al sover gebeur het en dat hulle nie sy veld of wingerde sal beskadig of sy drinkwater sal gebruik nie. Maar Edom het geweier en Israel met sy weermag gedreig. Ons het toe weer gevra en belowe om padlangs te trek en om vir water wat hulle mag gebruik, te betaal. Edom het terug laat weet: “Julle trek nie hier deur nie!” Toe hy met ‘n goedgewapende weermag uittrek om die Israel by te kom, het ons weggeswenk en by die Horberg aangekom.
AÄRON SE DOOD
Hier het die Here vir die twee broers gesê: “Aäron gaan nou by sy vaders versamel word. Hy sal nie ingaan in die land wat ek vir die Israeliete gaan gee nie. Julle twee wou mos nie vir my luister oor die water van Meriba nie. Vat nou vir Aäron en sy seun Eliaser uit teen die berg Hor. Trek Aäron se ampsklere vir Eliaser aan. Aäron sal daar sterf en met sy vaders verenig word.”
Dit het toe so gebeur. Moses en Eliaser het toe van die berg afgeklim. Die hele Israel het 30 dae lank oor Aäron gerou.
OORLOG TEEN ARAD
Een van die Kananitiese stamme het onder hulle koning Arad in die Negevwoestyn gewoon. Israel se rondtrekkery in hierdie woestynwêreld het hom glad nie aangestaan nie. Toe ons weer in aantog was met die pad wat na Atarim loop, het hy ons aangeval en ‘n paar van ons gevange geneem. Ons het toe in ‘n gelofte aan die Here belowe om hierdie vyandelike stede uit te wis as die Here ons help om hierdie volk te oorwin. Die Here het ons gebed verhoor. Ons het die stede met die grond gelyk gemaak en die plek Gorma genoem.
GIFTIGE SLANGE EN DIE KOPERSLANG
Van Gorma af is ons met die pad na die Rietsee toe, om by die vyandige Edom verby te kom. Toe vind die ou storie weer plaas. Die volk het ongeduldig geword teen Moses en die Here en het begin kla: “Waarom het jy ons uit Egipte laat trek om hier in die woestyn te sterf? Hier is nie kos en water nie. Ons walg van die nuttelose manna!”
Die Here se antwoord hierop was giftge slange wat hulle gepik het. Baie is daarvan dood. Toe skrik hulle en kom vir Moses sê: “Ons het ‘n fout gemaak met wat ons teen jou en die Here gesê het. Bid tog dat Hy die giftige slange sal wegvat.”
Toe Moses dit doen, sê die Here vir hom: “Maak vir jou ‘n afbeelding van ‘n giftige slang en sit dit op ‘n paal. Elkeen wat gepik is en daarna kyk, sal bly leef.”
Moses het toe ‘n koperslang gemaak en op ‘n paal gesit. Elkeen wat deur die giftige slange gepik is en opgekyk het na die koperslang op die paal, het nie gesterf nie maar gesond geword. So red God ook elke sondaar wat in die geloof opkyk na Christus aan die kruis, om genesing en vergiffenis vir ons sondeskuld te ontvang.
Israel het toe verder getrek en by Obod kamp opgeslaan. Daarna het hulle na Ije-Abarim versit, in die woestyn, oos van Moab. Hulle is weer daar weg en het by die Seredspruit gekampeer. Toe verskuif hulle na die Arnonrivier, wat die grens vorm tussen die gebiede van die Moabiete en die Amoriete. Van daar af is hulle na Beër toe. Hier het die Here vir Moses gesê om die volk bymekaar te roep, sodat Hy vir hulle water kon gee uit ‘n put wat die konings daar gegrawe het.
Uit die woestyn uit, het hulle na Mattána getrek en daarvandaan na Nahaliël en na Bamot en na die dal in die veld van Moab.
DIE AMORIETE WORD VERSLAAN
Ons het toe boodskappers gestuur na Sihon, koning van die Amoriete en gevra om deur sy gebied te trek. Ons het belowe om nie uit te draai na sy landerye nie, of om die water van sy putte te drink nie. Ons sou net deur sy grondgebied op die grootpad hou. Maar hy het geweier en met al sy manskappe uitgetrek na die woestyn en by Jahas teen ons geveg. Maar ons het hom verslaan en sy land vanaf die Arnonrivier tot by die Jabbokspruit afgevat.
Die Israeliete het al die stede van die Amoriete ingeneem en in Gesbon en die dorpe rondom, gaan woon. Moses het Jaser laat verken en saam met sy omringende dorpies ingeneem en die Amoriete verjaag wat daar gebly het. Toe het ons omgedraai en in die rigting van Basan marsjeer. Die Here het vir Moses gesê hy moenie vir Og, hulle koning bang wees nie. Die Here gee sy land vir Israel. Ons het toe vir Og en sy seuns en sy volk verslaan totdat daar nie een oorgebly het nie en sy land oorgeneem.
Daarna het Israel weggetrek en in die vlaktes van Moab gaan kamp opslaan, oos van die Jordaan, regoor Jerigo. Hier het toe ‘n paar dinge gebeur.
Vervolg...