STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (2)

DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL

Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)

Lees reeks by Studie van die Ou Testament

LES 2

DIE TUIN VAN EDEN

Gen 2:4-3:24

1.   Die mens

In hoofstuk twee begin ʼn nuwe gedeelte met die opskrif: Skepping van die man en die vrou en oor Eden en brei op die sesde skeppingsdag uit.  Dis die eintlike verhaal van die geskiedenis van die mens.  God het alles op die aarde gereed gemaak alvorens Hy die mens geskep het.   Hierdie skepping word selfs twee maal genoem.  Die eerste keer as slot en hoogtepunt van die skeppingsverhaal en die tweede keer as  ʼn beginpunt van die mensegeskiedenis.  Alles wat daarna volg, het met die mens as sulks te doen.

Die skepping van die mens word hier anders as in Gen.1 gestel.  Laasgenoemde laat die klem op die geskapenheid van die mens na die beeld van God val, terwyl Gen.2 weer die klem op die feit dat die mens uit die stof van die aarde gemaak is, laat val.  Ons moenie hier aan ʼn pottebakker dink wat ʼn pop van klei gemaak het nie.   Die bedoeling is dat die mens uit aardse bestanddele gemaak is.

Vers 7 meld dat God twee handelinge met die mens uitgevoer het.  Hy het hom uit die aarde geskep en daarna asem in hom geblaas.   Dit het van hom ʼn lewende wese gemaak.  God het dit met geen ander skepping gedoen nie.  Net by die mens het Hy ʼn lewensasem (siel) ingeblaas.  Die ander skeppinge het slegs uit die aarde voortgekom.  Daarom verskil liggaam, gees en siel van mekaar.  Net die mens het al drie en is derhalwe die kroon van God se skepping.  Hy het alleen deel van die sielewêreld verkry; nie een van die plante of diere nie.

2.   Die woonplek

God het die mens nie doelloos op die aarde laat rondswerf nie, maar vir hom ʼn blyplek gemaak en dit Eden genoem.   Ons praat daarvan as die paradys bloot omdat dit idillies was.  Waar dit was, weet niemand nie.  Dit was iewers in die Ooste.  Van die vier riviere wat genoem word, is slegs die laaste twee bekend - die Tigris en die Eufraat.  Eden was ʼn uitsonderlike mooi plek met baie vrugtebome waarvan twee by name genoem word nl. die boom van die lewe en dié van die kennis van goed en kwaad.  Laasgenoemde was verbode om van te eet en God se toets vir gehoorsaamheid.

In hoofstuk 3 het die moontlikheid van kwaaddoen vir die eerste keer opgeduik en die mens met ʼn keuse gelaat.  Gehoor­saamheid sou vreugde bring en ongehoorsaamheid ellende. Dit word die proefgebod genoem.  Die waar­skuwing in vers 17 dat die mens sal sterwe, het nie daarop gedui dat die vrug giftig was nie, maar dat die oortreding vir mense dodelik sou wees.

3.   Die vrou

Adam het van God opdrag ontvang om die grond te bewerk en te bewaak.  Dit word sy kultuurtaak genoem (Gen.1:26).  Dit was absoluut nodig omdat ʼn verwoestende mag op die punt gestaan het om Eden binne te dring en skade te veroorsaak.  Daarna het God al die diere na Adam gebring om aan hulle name te gee.  Hy het dus oor taal en spraak beskik om sy gedagtes te kon uitdruk.

Adam het ʼn opvallende ontdekking gemaak - die ram het ʼn ooi, die leeu ʼn wyfie en die haan ʼn hen gehad.  Net hy het geen maat gehad om by hom te pas nie.  Iets het in die skepping ontbreek waaraan God alleen iets kon doen.   Daarna het God as “narkotiseur” opgetree en ʼn diepe slaap oor Adam gebring.   Hy het ʼn ribbebeen van Adam weggeneem en vir hom ʼn vrou daaruit gevorm.  Die vrou is uit die man geneem om ʼn eenheid met hom te vorm.

Die woorde van vers 24 is nie werklik tydens skepping uitgespreek nie, maar deur die skrywer self.

Moses het dit as ʼn praktiese toe­passing van hierdie groot waarheid gesien en gevolglik benadruk.  Christus haal selfs hierdie woorde in Mt.19:4-6 aan.

Adam en Eva het nakend in Eden gewoon sonder om daaroor skaam te wees.  Die verhouding tussen God en die eerste mensepaar was so volmaak en harmonieus, dat hulle niks vir God of mekaar wou wegsteek nie.  Skaamte het eers ontstaan toe die mens iets wou wegsteek.   In Eden was daar niks waaroor hulle skaam was nie.

4.   Die sondeval

In Gen.3 word ʼn dier vir die eerste keer by die naam genoem – ʼn slang.  ʼn Slang het Eva alleen in die tuin ontmoet waarna  ʼn ongewone ding gebeur het – dit het gepraat!  Eva het dit skynbaar nie vreemd gevind dat ʼn dier kon praat nie.  God kan uiteraard enige dier laat praat soos bv. Bileam se donkie (Num.22).  Dit was nie werklik ʼn slang wat met Eva gepraat het nie, maar Satan wat hom soos ʼn slang voorgedoen het. Hoe weet ons dit?  Tydens Jesus se versoeking noem Hy Satan die versoeker.  Lees ook Openb.12:9 en 20:2.

Satan het met ʼn vraag begin wat onskuldig gelyk het maar onmiddellik twyfel gewek het (3:1).   Toe hy na die proefgebod vra, het hy oordryf en van al die bome gepraat.  Hy het goed geweet dat net een boom ter sprake was.  Eva het ook oordryf toe sy vir hom gesê het dat hulle die boom nie eens mag aangeraak het nie.  Daarbenewens het sy ook die waarskuwing afgewater deur die sekerlik by die woord sterwe weg te laat.   Hierdie sekerlik beteken beslis.

Daarna het Satan haar begin weerspreek.  Satan beteken teenstander in Hebreeus.  Hy het met ʼn leuen na vore gekom en Eva verseker dat hulle nie sou sterf nie, maar eerder baie slim sou word. Daarmee het hy ʼn gevoel van minder­waardigheid by Eva opgewek asook die begeerte om daarvan ontslae te raak.  Hy het Eva laat glo dat God hulle moedswillig dom wou hou.  Dit het haar na ʼn hoër staat as dit waarin sy deur God geplaas is, laat hunker.

Daarna het Satan met ʼn opeenstapeling van leuens begin. Die mens sou deur sy oortreding wel kennis van goed en kwaad verkry, maar teen ʼn hoë prys wat hom na liggaam en siel sou skaad.  Satan het aan die mens iets voorgehou wat nie haalbaar was nie nl. om soos God te wees.  Hierdie verleiding duur nog onverpoosd voort – die mens wil soos God wees deur homself te red!

Dis ook die diepste betekenis van die begrip goddeloosheid.   Die mens wil nie werklik sonder God wees nie, maar eerder self God wees.  Hy wil self oor reg en verkeerd besluit.  Let op Paulus se waarskuwing in Rom.1:18-27.  Daarom staan die verwerping van die waarheid altyd in die teken van goddeloosheid.  Die mens wil eintlik vir God sê: “Bly stil Here, ek sal self besluit!”   Dis wat Eva met haar ongehoorsaamheid in werklikheid gedoen het!

Eva se hangende besluit het groot spanning in die hemel sowel as op die aarde gebring.   Omdat die boom mooi en Satan se woorde byval gevind het, het sy van die vrugte geëet en daarvan aan Adam gegee.  Gen.3:6 is die jammerlikste woorde in die hele Bybel omdat dit seker die ellendigste gebeurtenis op aarde beskryf - die mens se verval in sonde!

Eva het haar laat mislei en so ook haar man (1 Tim.2:14).  Adam kon hom allermins verontskuldig.

Hy moes dan die tuin bewaak!  Hy het gevolglik sy plig versaak.   Die sondeval het alles verander.  Nadat sonde ʼn werklikheid geword het, het die dood ook sy verskyning gemaak (Rom.5:12).

Toe vrede en geluk in Eden gewyk het, het die toorn van God ontvlam en het Adam en Eva se oë oopgegaan.  Dit was baie anders as wat Satan (slang) voorspel het!  Vir die eerste keer het dit hulle gehinder dat hulle naak was.   Daarom het hulle vir hul skorte gemaak.  Die behoefte aan liggaamlike bedekking was die gevolg van ʼn sielewroeging.

5.  Die straf

Terwyl Adam en Eva weggekruip het, het God die eerste skuif gemaak en na hulle geroep.  Vroeër was dit vir hulle ʼn heerlike belewenis om in God se teenwoordigheid te wees.  Na die sondeval nie meer nie.  Wegkruip het niks gehelp nie.  Hulle moes God antwoord.   Hy het die vraag na hul ongehoorsaamheid nie aan Eva gestel nie, maar aan Adam.  Hy was as man die verant­woordelike een.   Adam het aanvanklik nie die werklike rede vir hul wegkruipery verstrek nie, maar eerder die gevolge van die sonde - hul naaktheid.  Nadat God hom daarop gewys het dat die mens nog altyd naak was, het hy sy oortreding beken en Eva die skuld vir hul penarie gegee.   Nadat sy die slang die skuld gegee het, het sy tog erken dat sy oortree het.

Nadat God met hulle klaar was, het die slang aan die beurt gekom.   God het geen vrae aan hom gevra nie, maar hom onmiddellik veroordeel.  Hy sou van al die diere vervloek wees en voortaan op sy buik seil.  Dit was vernederend vir die skranderste van al die diere!   Dit was egter nie die einde van God se straf nie.  Hy sou voortaan vyandskap tussen die vrou en die slang stel.  Daarom is mense tot vandag toe nog bang vir slange.  Die giftigste een van almal is Satan!

Haar saad en sy saad spreek van ʼn ewige vyandskap tussen gelowiges en ongelowiges (Joh.8:44).  Chris­tus het nie verniet na die huigelagtige Skrifgeleerdes as addergeslag verwys nie!  Dit bring ons by die moederbelofte in Gen.3:15.  Dis die eerste aanduiding van Jesus wat in die volheid van die tyd sou kom om die Bose se mag te vernietig.

6.   Drie vonnisse

God het na die sondeval drie vonnisse uitgespreek.  Eerstens is die aarde vervloek (3:17).  Die sondeval het vir die hele aarde droewige gevolge gehad.  Tweedens sou die mens met moeite werk om aan die lewe te bly en derdens sou hy na sy dood tot stof terugkeer.  In plaas van om soos God te word, is die mens na die aarde teruggestoot waaruit hy geneem is.   God se genade was egter groot oor Adam en Eva.  Hulle sou nie onmiddellik sterf nie.  Die dood is slegs uitgestel waarna God vir hulle rokke van vel gemaak het; ʼn bewys van sy genade te midde van die oordeel.

Gen.3:22 wys weereens op God Drie-enig.  Die mens het goed en kwaad op ʼn heel ander manier as God leer ken.  Daarvoor moes hy sterf en nie van die boom van die lewe eet nie.  God het Adam en Eva uit die tuin van Eden verdryf waarna hulle moeitevolle lewe op aarde begin het.