DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
LES 3
DIE OUDSTE MENSEGESLAGTE
Gen 4-5
1. Die eerste kinders
Die geskiedenis van die mens ná Eden het met die geboorte van kinders begin. Kain was die eerste kind wat op aarde gebore is. Eva het hom as ʼn geskenk van God ontvang en geweet dat God haar gehelp het. Sy het Kain se geboorte nie as die gevolg van geslagtelike omgang beskou nie, maar dat God haar gehelp en begenadig het. Eva se woorde het nie net van groot dankbaarheid nie, maar ook van ʼn besondere geloofsinsig gespreek.
Kain beteken ek het gekry. Hy was ʼn geskenk. Eva se aanvanklike geesdrif oor Kain sou later tragies gedemp word. Baie ouers was al opgewonde oor ʼn kind wat hulle later bitter teleurgestel het. Al gaan gelowige ouers ook deur groot dieptes, bly God by hulle. Daarna het Eva nog ʼn seun gebaar en hom Abel genoem; skynbaar met minder vreugde. Sy naam beteken “nietigheid” - ʼn naam sonder enige geesdrif.
2. Die twee offers
Toe die seuns groot genoeg was, het hulle begin werk. Tot op daardie stadium het Adam alleen die grond bewerk (Gen.3:23). Kain het in sy vader se voetspore gevolg en ʼn boer geword. So ook Abel. Al verskil was dat Kain geplant en Abel het met diere geboer het. By geleentheid het hulle saam geoffer. Kain het eerste geoffer. God het dit egter nie aanvaar nie. Die rede hiervoor word nie verstrek nie. Daaroor kan slegs bespiegel word. Moontlik was Kain nie opreg nie en was dit maar net ʼn gewoonte by hom om te offer. Miskien het hy ʼn willekeurige deel van sy oes geoffer terwyl Abel die beste van syne geoffer het. Net Abel se offer was vir God aanneemlik (Hebr.4:11). God is immers ʼn kenner van harte (Spr.21:27).
Die seuns het uiteenlopende geaardhede gehad. Kain was boos en Abel regverdig (1 Joh.3:11, 12). Die mensdom het skaars begin, toe was daar alreeds verskille! Kain was kwaad oor God se verwerping van sy offer. Hoe dit duidelik geword het, word nie vermeld nie. Abel het weer vreugde en lewensvervulling ervaar. Kain het besef dat Abel iets gehad het wat hy nie het nie. Hierdie leemte het op ʼn gemis uitgeloop en die gemis op sonde.
Ná sy offer het Abel ʼn hartstogtelike vreugde in God ervaar terwyl Kain met ʼn ongekende leegheid in sy siel geworstel het. Dit kon gesien word aan die manier waarop hy sy kop laat hang het. Dit was die duidelike teken van ʼn groot gemis in sy lewe asook van ʼn dreigende sonde. God het Kain egter nie aan sy eie lot oorgelaat nie en wou dat dit ook met hom goed moes gaan. Daarom het Hy hom gewaarsku en gesê wat om te doen. Hy het Kain tot bekering geroep! Kain wou egter nie luister nie en het Abel kort hierna doodgeslaan (Judas:11). Let op die uitdrukking: die weg van Kain. Dis wat met ʼn mens gebeur as God hom waarsku en hy nie luister nie!
God het weer met Kain gepraat. Dit was God se tweede vraag aan ʼn mens: “Waar is jou broer?” God wou Kain tot berou en inkeer bring. Hy het egter veragtend geantwoord: “Is ek dan my broer se wagter?” Kain het die liefdesgebod oortree. Om die waarheid te sê, was die broederlike liefdesband lank voor die moord op Abel alreeds in Kain dood. Dis waar die meeste sonde begin; by bose voornemens. Daarna groei dit totdat dit tot die daad oorgaan (Rom.2:5).
Kain moes verantwoording doen. Hy het, soos sy eie ouers, voor God skuldig gestaan. Sy straf was net swaarder. Adam en Eva is nie soos hy vervloek nie. Slegs die aarde om hulle ontwil. Adam moes die grond bewerk en met moeite oes. Kain sou dit bewerk, maar niks sou groei nie. Die grond wat sy broer se bloed ontvang het, sou vir hom niks in ruil gee nie! Gevolglik sou hy sy lewe lank ʼn swerwer wees.
Kain het nie om vergifnis gevra nie, maar wanhopig geraak. Hy het geen skuldbesef gehad of berou getoon nie, maar eerder met die wroeging van ʼn verharde hart geworstel. Daarbenewens was hy ook bang dat mense hom sou doodslaan. Waar hierdie mense vandaan kom, weet ons nie. God het hom egter ʼn teken gegee sodat mense hom nie sou doodmaak nie. Daarna het hy na die vreemde vertrek.
3. Die nageslag van Kain
Kain het in die land Nod aangekom en geheel en al van God vervreemd geraak. Hy het vir hom ʼn vrou geneem wat vir hom ʼn seun gebaar het en daarna ʼn stad gebou. Destyds was stede baie klein. Dit was eintlik niks anders as versterkte woonplekke nie; sentrums van veiligheid. Kain wou hom dus teen God se vervloeking probeer handhaaf deur nie ʼn swerwer of vlugteling te wees nie.
Kain het die stad na sy seun Henog vernoem en hom met sy vrou en seun daarin probeer handhaaf. Sy nageslag het almal die stryd van Kain voortgesit. In een vers (4:18) word nie minder as vier geslagte vermeld nie. Niemand van hulle het naam gemaak nie, maar ʼn sukkelbestaan gevoer.
Een naam trek tog aandag t.w. Lameg. Hy was ʼn bose mens (Gen.4:23,24) wat die skeppingsorde verbreek het deur vir hom twee vroue te neem nl. Ada en Silla. In die 2000 jaar tydperk tussen Eva en Sara is hulle die enigste vrouens wie se name in die Bybel genoem word. Hulle het vir Lameg ʼn aantal seuns gebaar.
Jabal was die vader van die tentbewoners en veeboere (landbouers). Jubal was die vader van almal wat op siters en fluite gespeel het (musikante). Vandaar die woord jubel. Tabal-Kain was ʼn smid en het voorwerpe gemaak (ambagslui). Lameg en sy seuns was egter selfsugtig en roemgierig. Dit was sprekend van die heidendom wat God mishaag het.
4. Set
Ná die dood van Abel het Eva weer ʼn seun gebaar en hom Set genoem. Vir die eerste keer word Adam as eienaam gebruik. Hy is eers net mens genoem. Ons kan aanvaar dat hulle ook dogters gehad het. Net drie seuns word genoem. Gen.4:1 en vers 25 stem ooreenstem. Eva het geweet dat kinders ʼn gawe van God is.
Met die vermelding van die geboorte van Set word Kain se stamboom ter syde gestel waarna slegs dié van Adam deur Set vermeld word. Ná Enos se geboorte het daar ʼn ommekeer in sy grootouers se lewens gekom. Hulle het na baie jare van groot doefheid oor die dood van Abel berusting in God gevind (Gen.4:26).
Lameg was die sewende kind in Kain se geslag. In Set s’n was dit Henog. En hoe het hierdie twee neefs nie van mekaar verskil nie! Lameg was ʼn weerbarstige mens wat uitsluitlik op sy eie krag vertrou het. Henog het weer met God gelewe. In sy lewe was godsdiens geen terloopse saak nie. God was deel van sy daaglikse lewe. In Judas vers 14 en 15 hoor ons Henog selfs praat as hy van God se oordeel getuig. Hy het nie so oud soos die ander aartsvaders geword nie. Terwyl die ander 900 jaar en ouer geword het, het Henog betreklik jonk heengegaan toe God hom op 365 jaar lewend in die hemel opgeneem het (Hebr.11:5).
Set het ook ʼn afstammeling met die naam van Lameg gehad. Hy was egter baie anders as die afstammeling van Kain. Hy was ʼn gelowige en het sy seun Noag genoem. Dit beteken troos.
Hierdie troos was in skerp teenstelling met die eiewaan van die ander Lameg. Dit was ʼn troos dat die Here sou voorsien. Die slegte Lameg wou sy eie heil uitwerk. Die goeie een was sagmoedig en het geweet dat God sou sorg. En Hy het (Gen.9:1)!
5. ʼn Tydordelike beskouing
Let ʼn bietjie op die gebeure in terme van die jare na die skepping. Henog is in die jaar 130 gebore. Metusalag was 243 jaar oud toe Adam oorlede is. Set is 14 jaar voor Noag se geboorte oorlede. Noag was 500 jaar oud toe hy pa geword het en Sem ʼn hele 100 jaar oud toe die sondvloed gekom het. Sy oupa Lameg is vyf jaar tevore oorlede. Metusalag is in dieselfde jaar as die sondvloed oorlede. Sy oupagrootjie het dus sy eie oupa met vyf jaar oorleef! Desondanks die geweldige ouderdom, word een ding van almal gesê - hulle het geleef en het gesterf. Aan die mens se lewe kom daar ʼn einde al word die lewensskaduwees ook hoe lank!
Ná die geboorte van Set het die volgende plaasgevind:
Jaar 235 Geboorte van Enos
Jaar 325 Geboorte van Kenan
Jaar 395 Geboorte van Mahalalel
Jaar 460 Geboorte van Jered
Jaar 622 Geboorte van Henog
Jaar 687 Geboorte van Metusalag
Jaar 874 Geboorte van Lameg
Jaar 930 Dood van Adam
Jaar 987 Opname van Henog in die hemel
Jaar 1042 Dood van Set
Jaar 1056 Geboorte van Noag
Jaar 1140 Dood van Enos
Jaar 1235 Dood van Kenan
Jaar 1290 Dood van Mahalalel
Jaar 1422 Dood van Jered
Jaar 1556 Geboorte van Sem
Jaar 1651 Dood van Lameg
Jaar 1656 Dood van Metusalag en die sondvloed