DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
LES 10
SEUN VAN DIE BELOFTE
Gen 25:19-27
1. Isak in Gerar
Hongersnood was destyds ʼn baie algemeen ding. Hongersnood het Abraham selfs na Egipte laat verhuis (Gen.12:10). Isak het na sy vader se dood na Gerar vertrek waar Abimeleg die koning was. God het aan hom soortgelyke beloftes as aan sy vader gegee en dieselfde gehoorsaamheid van hom verwag. Toe Rebekka die aandag van die manne van Gerar getrek het, het Isak gesê dat Rebekka sy suster was. By sy pa was dit ʼn halwe waarheid, maar by hom ʼn volle lieg!
Toe Abimeleg by geleentheid sien hoe Isak haar vertroetel het hy besef dat sy nie sy suster nie, maar sy vrou was. Daarna het hy sy onderdane opdrag gegee om Isak en Rebekka geen leed aan te doen nie omdat hy God se toorn gevrees het. Nadat hy Isak ernstig aangespreek het, het Isak hom as ʼn saaiboer gevestig.
2. Die geboorte van Esau en Jakob
Toe dit lyk asof hulle na 20 jaar nie kinders sou hê nie, het Isak ernstig tot God gebid. Daarna het Rebekka met tweelingseuns swanger geraak. Toe die ongebore knapies teen mekaar begin stoot het, het sy God hieroor geraadpleeg. Hy het haar verwittig dat daar twee nasies in haar was. Hoe sy die antwoord van God verkry het, word nie gesê nie. Rebekka het in noue geloofsgemeenskap met God geleef. Sy het dus geweet dat die seuns wat sy verwag het elk ʼn eie toekoms sou hê en verskillende volke sou vorm. Die volk uit die oudste sou dié van die jongste dien soos wat later in die oorwinning van Amasia oor Edom gesien is (2 Kon.14:7).
Die verhouding tussen die Edomiete en Israel was altyd swak (Obadja: 10). In die intertestamentêre tyd (tussen OT en NT) het Israel selfs die Edomiete vernietig. Hierdie vyandskap het ʼn agtergrond gehad omdat die heilshistoriese lyn nie oor Esau nie, maar wel deur Jakob geloop het. Dit was God se vrymagtige optrede wat die uitverkiesing genoem word. In Abraham se gesin het God vir Isak bo Ismael verkies en in Isak se gesin Jakob bo Esau, al was hulle ook ‘n tweeling (Ex.33:19; Mal.1:2-3 en Rom.9:13). Toe hulle gebore is, was een rooi en harig. Hy is Esau genoem. Jakob is gebore terwyl hy Esau se hakskeen vasgehou het. Dit het gelyk asof hy hom die voorreg wou ontneem om eerste gebore te word!
3. Die eersgeboortereg
Die eersgeboortereg was destyds iets baie besonders. Nadat Rebekka haar lieflingskind daaroor ingelig het, het Jakob dit van harte begeer. Hy het uit Gen.25:23 geweet dat hierdie reg eendag na hom toe sou kom. Hy wou egter nie op God wag nie en self plan gemaak om dit te kry.
Esau was ʼn jagter en ʼn man van die veld net soos Ismael wat hy as 15 jarige seun op Abraham se begrafnis ontmoet het. Isak was versot op wildsvleis en gevolglik vir Esau ʼn sagte plekkie gehad. Jakob was weer ʼn kombuiskuiken en deur sy ma bederf. Let op die fyn aanvoeling wat Sara en Rebekka oor die wil van God met hul lieflingseuns gehad het.
By geleentheid het Jakob geknoei. Toe hy na ʼn vermoeiende dag uit die veld tuis kom, het Jakob lensiesop gekook, waarna Esau sy eersgeboortereg daarvoor aan hom verkoop het. Esau was ʼn rowwe entjie mens wat sommer van die lensiesop as rooigoed gepraat het. Jakob het nou wel geknoei, maar Esau het verdien om hierdie reg te verloor siende dat hy so min waarde aan sy goddelike erfenis geheg het (Hebr.12:16). Die eersgeboortereg was in die Ou Nabye Ooste ʼn voorreg en kon wel verkoop kon word. Die Nuzi-tekse vertel bv. van ʼn man wat sy eersgeboortereg vir drie skape verkoop het.
4. Jakob bekom die seën van die eersgeborene
Toe Isak oud was en geglo het dat hy binnekort sou sterf, wou hy Esau betyds seën. Isak sou egter nog baie ouer word. Sy blindheid het heelwaarskynlik daartoe bygedra dat hy geglo het dat sy laaste dae aangebreek het. Hy sou nog 40 jaar leef en 180 jaar oud word (Gen.35:27).
Die aartsvaderlike seën het profetiese krag gehad omdat dit volgens die wil van God was. Daardeur is selfs toekomstige werklikhede bekend gemaak (Hebr.11:20). Isak het nie van Esau se minagting van sy eersgeboortereg geweet nie en amper die fout gemaak om hom te seën.
By geleentheid het Isak Esau versoek om te gaan jag en vir hom ʼn ete voor te berei alvorens hy hom sou seën (Gen.25:28). Rebekka het geweet wat God se wil was. Toe sy die gesprek met Esau hoor, het sy besef dat haar lieflingskind se toekoms op die spel was. God het dit immers aan haar openbaar dat Esau Jakob sou dien. In plaas van om die saak met Isak te bespreek of om op God te wag, het sy self ʼn ete voorberei en Jakob daarmee ingestuur.
Jakob het geen beswaar teen haar knoeiery gehad nie. Hy was net bang dat Isak hom sou uitvang en vervloek. Rebekka het egter die verantwoordelikheid op haar geneem en Jakob Esau se klere laat aantrek sodat hy soos Esau sou ruik. Sy het velle oor sy hande en nek getrek sodat hy selfs soos Esau sou voel. Daarna het Jakob ʼn klomp leuens opgestapel waarna Isak die seën oor hom uitspreek het. Rebekka se geknoeiery het geslaag!
Toe Esau later van hierdie knoeiery verneem, was hy woedend. Dit was die tweede keer dat Jakob hom onderkruip het. Esau verdien egter geen meevoel nie. Hoe kon hy sy eersgeboortereg afsweer en tog probeer voorgee dat hy dit nog steeds besit? Dis mos bedrog (Hebr.12:16,17)! Esau was baie spyt oor sy verbeurde seën, maar het geen berou oor die minagting van sy erfenis getoon nie.
Esau het wel gehuil, maar trane is nie almal eenders nie. Daar is trane van berou sowel as van ydele spyt (2 Kor.7:10). Mense is altyd spyt as sake vir hulle verkeerd loop. Dis egter nie noodwendig trane van berou oor hul verkeerde lewenswandel of ydele planne nie. Ware berou kom deur die werking van die Heilige Gees en lei altyd tot verlossing. Esau se trane was soos die geween van een in die buitenste duisternis (Mt.8:12).
Die uiteinde van alles was dat Jakob wel die seën wat vir hom bestem was, verkry het al was dit ook deur leuens en bedrog. Hy moes eerder op God gewag het. Daarvoor was hy te ongeduldig. Sy naam beteken bedrieër. Hy sou jare later swaar vir hierdie bedrog boet!