DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
LES 11
JAKOB VLUG NA LABAN
Gen 27:41- 31:55
1. Jakob maak spore
Esau het die saak nie daar gelaat nie en besluit om sy broer ná die dood van sy vader om die lewe te bring. Toe Rebekka van sy plan te hore kom, het sy Jakob gewaarsku waarna hy na haar broer Laban gevlug het. Sy sou Esau dophou en hom laat weet as dit veilig was om terug te keer. Rebekka het Jakob egter versoek om nie met ʼn Kanaänitiese vrou te trou nie, maar een uit haar familie – die Arameërs. Esau daarenteen het vir hom heidense vroue geneem (Gen.26:34,35).
Op pad na Haran het Jakob een nag van ʼn verkeer tussen hemel en aarde gedroom waarna God hom bystand beloof het. Jakob het geweet dat die droom betekenis gehad het en dat God hom op die weg van die verbond geplaas het. Daarom het hy die klip waarop hy geslaap het as gedenksteen vir die Here opgerig.
Voor hierdie gebeure was Jakob heelwaarskynlik nie ʼn gelowige nie. Hy het eers daarna tot inkeer gekom. God is altyd trou aan sy Belofte en sou wonderlik voorsien en Jakob voorspoedig maak. Lank voordat die wet van Moses tiendes geëis het, het Jakob beloof om tiendes aan God te gee. Abraham was egter die eerste persoon wat dit gedoen het (Gen.14:20).
2. Jakob kom by Laban aan
Ragel was die eerste wat Jakob sien aankom het. Hy het haar vader baie beïndruk waarna Laban besluit het om hom so lank moontlik in sy diens te hou. Jakob het op Ragel verlief geraak en met Laban ooreengekom om in ruil vir haar hand sewe jaar lank vir hom te werk. Sy liefde vir haar het hom van die langdurigheid van die tyd laat vergeet sodat die sewe jaar vir hom soos ʼn paar dae gevoel het.
Toe hy na sewe jaar met haar wou trou het Laban hom ʼn lelike streep getrek. Lea was die oudste dogter en betreklik lelik. Sy het dowwe oë gehad sodat mans nie na haar wou kyk nie. Laban het egter ʼn plan gemaak en haar soos ʼn bruid laat aantrek met ʼn sluier en Jakob se vrou laat word. Jakob was hierdie keer aan die ontvangkant en het self gevoel hoe dit is om bedrieg te word!
Die uitgeslape Laban het ʼn antwoord gereed gehad. Die tradisie het bepaal dat die oudste dogter eerste moes trou. Daarna het Laban met ʼn aanvaarbare oplossing gekom - Jakob moes die volle bruidsweek (7 feesdae) met Lea hou waarna hy met Ragel kon trou op voorwaarde dat hy vir nog sewe jaar vir hom sou werk. Die bruidsweek was baie belangrik. ʼn Man kon in hierdie tyd sy bruid verlaat en was die huwelik as verbreek beskou (Rigt.14:19,20). Jakob het ingestem en twee susters as vroue verkry; iets wat later deur die Wet verbied sou word (Lev.18:18).
Lea het geweet dat Jakob se hart aan Ragel behoort het. Deur vir hom seuns te baar, het sy nogtans genoegdoening uit die huwelik geput. Ragel was egter kinderloos en het later, net soos Sara tevore, haar slavin Bilha aan Jakob gegee om vir haar ook seuns te verwek. Toe Lea ná vier seuns nie verder kon baar nie, het sy haar slavin Silpa aan Jakob gegee om nog twee seuns vir haar te verwek.
Toe Ruben groot was, het hy eendag onwetend liefdesappels by sy moeder aangebring. Sy het dit onmiddellik as ʼn vrugbaarheidsmiddel herken het. Toe Ragel daarvan wou eet, wou Lea dit aanvanklik nie afstaan nie. Jakob het op daardie stadium nie meer by Lea geslaap nie. Ragel het toe ʼn plan gemaak het. Lea kon Jakob vir ʼn nag in ruil vir die liefdesappels kry. Ragel was dus duidelik in beheer van die kamersake. Lea het ingestem en later vir Issaskar en Sebulon gebaar; sonder die nut van liefdesappels!
Ten spyte van die liefdesappels het Ragel steeds kinderloos gebly. God wou haar wys dat die verwekking van kinders nie van liefdesappels afgehang het nie, maar van Hom wat gee (Ps.127:3). Daarna het Lea ook ʼn dogter, Dina, gebaar. Daarna het Ragel swanger geraak en Josef gebaar.
Jakob se dienstyd was al lank verstreke toe hy besluit het om na sy eie land terug te keer. Hy het al die skape en bokke wat van die stoetkleur afgewyk het as vergoeding gevra. Laban was daarmee tevrede. Jakob was egter ʼn gesoute kalant en het die vee op ʼn slinkse wyse almal bontes laat voortbring. Laban was hierdie keer aan die ontvangkant en Jakob het skatryk geword.
3. Jakob vertrek
Toe Jakob sien dat Laban en sy seuns ontevrede was omdat hulle erfporsie in gedrang was, het God hom aangesê om na sy ouerhuis terug te keer. God sou met hom wees. Lea en Ragel was gelukkig met Jakob se voorneme. Hy het immers lank genoeg vir hulle vader gewerk en kon op sy eie bene staan. Daarna het Jakob en sy mense as’t ware ontsnap terwyl Laban en sy seuns elders besig was om skape te skeer.
Ragel het van die terafim met haar saamgeneem. Dit was huisgode - beeldjies wat by private godsdienstige geleenthede, ver van ʼn vaste aanbiddingsplek af, gebruik is. Die Roomse Kerk sou later ook sulke beelde gebruik. Uit die Nuzi-tekste blyk dat hierdie beeldjies ook ʼn waarborg van erfregte was. Die een wat dit besit het, kon op ʼn erfporsie aanspraak maak. Daarom het Ragel dit geneem en wou Laban dit ten alle koste terughê.
Jakob het deur die Eufraat getrek en in ʼn land gekom wat vandag Jordanië heet. Laban het hom agterna gesit en ingehaal, maar na ʼn waarskuwing van God hom geen leed aangedoen nie. Hulle het selfs ʼn verdrag met mekaar gesluit. Laban het van Jakob geëis om sy dogters goed te versorg. Indien die vrouegeslag wat uit hulle gebore sou word met heidene trou, mag hulle niks erf nie.
Dit was ʼn eertydse gebruik dat slegs seuns kon erf. Dit het verhoed dat as die dogters met heidene trou, die skoonseuns van die goedere waarmee God hul skoonvader geseën het, kon bekom. ʼn Heiden kon dus nie met ʼn Israelitiese meisie trou ten einde ʼn erfporsie te bekom nie. Waar ʼn dogter wel ʼn erfporsie verkry het, kon dit na haar dood alleenlik na haar seuns gaan.