STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (12)

DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL

Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)

Lees reeks by Studie van die Ou Testament

LES 12

JAKOB EN ESAU VERSOEN

Gen 32-34; 38

1.   Jakob by Pniël

Ná die verdrag met Laban het Jakob verder gereis en, soos aan die begin van sy selfopgelegde ballingskap, weereens engele teëgekom.   Jakob het bitter swaar tye geken.  God het dit egter bestem dat engele hom altyd beskerm het (Ps.34:8; Mt.18:10; Hebr.1:14).

Op pad na sy ouerhuis het ʼn nuwe moeilikheid opgeduik - hy moes Esau ontmoet!   Jakob het sy broer 20 jaar tevore verkul en het derhalwe nie geweet wat op hom gewag het nie.  God het hom egter aangesê om na sy geboortegrond terug te keer.  Dis was al wat getel het.  Jakob het destyds gevlug omdat Esau hom wou doodmaak.  Hoe sou Esau na 20 jaar voel?   Jakob het voortgegaan en maar net op God vertrou wat hom bo Esau vir die eergeboorteseën uitverkies het (Mal.1:2).

Op pad na sy eindbestemming het Jakob voelers uitgesteek om Esau se gemoedstemming te toets.  Esau het in ʼn gebied suid van die Dooie See gewoon.  Jakob het boodskappers vooruitgestuur en opdrag gegee om hom as Esau se ondergeskikte voor te stel en Esau as my heer aan te spreek.  Hulle moes egter so ʼn bietjie met Jakob se besittings spog en Esau se guns soek.

Nadat die afvaardiging teruggekeer en berig het dat Esau met 400 gewapende manne oppad was, was Jakob baie benoud.    Kon dit ʼn roofaanval wees?  Daarom het Jakob besluit om sy besit­tings in twee te verdeel.  As Esau die een gedeelte geroof het, kon hy ten minste nog met die ander gedeelte weggekom het.  Daarna het Jakob God angstig om verlossing gebid.   Hy het wel aan God se opdrag dat hy na sy land moes terugkeer, vasgehou, maar het ook as voorsorgmaatreël vir Esau geskenke vooruit gestuur om hom te paai.

2.   Jakob worstel

Jakob was noord van die Jabbokrivier toe hy verneem het dat Esau uit die suide oppad na hom was.  Hy het besef dat dit ʼn ongunstige verdedigingsgebied was en die nag deur die rivier getrek.  Hy wou nie in die drif vasgekeer word nie.  Toe Jakob alleen en benoud agtergebly het, het ʼn onsigbare man hom in die donker gegryp en lank met hom geworstel.

Toe die dag begin breek en die aanvaller hom nie kon oorwin nie, het hy Jakob baie hard op die heup geslaan sodat dit uit lit geraak het.   Dit het Jakob se krag gebreek waarna die vreemdeling hom gevra het om hom te laat gaan.   Dis toe dat Jakob besef het dat hy nie met ʼn mens geworstel het nie en die man gesmeek om hom te seën.  Dit was God self (Hos.12:5).    Nadat Hy Jakob geseën het, het Hy hom ʼn nuwe naam gegee nl. Israel.

Jakob het die plek van worsteling Pniël genoem omdat hy God daar van aangesig tot aangesig gesien het.   Hy het nie gesterf soos een wat God gesien het nie (Ex.33:17-20).  Desondanks die seën wat Jakob van God verkry het, was hy vir die res van sy lewe mank.

Toe hy Esau kort daarna ontmoet, het hy sewe maal plegtig voor hom gebuig.  Daarna het Esau hom hartlik omhels.   Die onaangename dinge van die verlede was verby en Jakob baie verlig!   Na ʼn kort en heerlike samesyn, is die broers in vrede uitmekaar.  Daarna het Jakob hom in Sigem gevestig.   Abraham het by geleentheid ook daar vertoef.

3.   ʼn Dogter word verkrag!

Dina was Lea se jongste kind en ʼn laatlammetjie.  Haar broers was almal groot en het met vee geboer.

Jakob se nasate was ʼn groot, trotse familie wat ʼn volk begin vorm het.  Gevolglik was hulle fel teen heidense bloedvermenging gekant.  Hulle het destyds al besef dat ʼn volk baie dinge kan verloor en terugvind - behalwe die suiwerheid van sy bloed!

Dina het van ondernemingsgees oorgeloop en wou baie graag die mense van die land leer ken.  Ongelukkig het ʼn jong heiden haar op ʼn onbetaamlike wyse leer ken.  Sigem, die seun van Hemor die Hewiet, het haar by geleentheid verkrag.  Vir die heidene was die verkragting van ʼn vrou geen ernstige saak nie.   Vir die seuns van Jakob wel!

Hemor het besef dat daar groot moeilikheid op pad is en ʼn plan probeer maak.   Sigem en Dina moes trou en Jakob sy swaer word.   Dit was geen oplossing nie, maar juis die ding waarteen Abraham en Isak ernstig gewaak het (Gen.28:1).  Daarna het die seuns van Jakob vir Hemor, Sigem en al sy broers vermoor en ʼn bloedvermenging met die heidene afgeweer.

4.   Geen engeltjies nie!

Jakob se seuns was geen engeltjies met klapvlerke nie, maar eerder duiweltjies met krulsterte (Gen.35:22)!.  Ruben het ook sy eersgeboorteseën verspeel (Gen.49:4).  Van die ander het vir hulle heidenvroue geneem en die genetiese poel van God se uitverkorenes versteur.  By geleentheid het God aan Jakob opdrag gegee om na Bet-el te gaan waar Hy aan hom verskyn en sy verbondsbeloftes herhaal het.  Daarna het Jakob na Efrat vertrek.  Tydens hierdie reis is Ragel met die geboorte van Benjamin oorlede.  Daarna het Jakob sy vader vir oulaas besoek.  Na sy dood is Isak in die spelonk van Magpela begrawe.

Jakob se seuns het meesal in mekaar se geselskap verkeer.  Juda was die eerste wat weggebreek en met ʼn Kanaänitiese vrou getroud is.  Hy het drie seuns by haar gehad waarvan Er die oudste was.  Toe Er groot was het Juda vir hom Tamar as vrou gegee.   Hy was egter ʼn slegste mens sodat die Here hom jonk laat sterf het.

Juda het sy tweede seun, Onan, die swaershuwelik (leviraatshuwelik) met Tamar laat sluit.   Dit was ʼn Kanaänitiese gebruik wat ook later in die wette van Moses opgeneem is (Deutr.25:5-10).  Dit het net plaasgevind indien die oorle­dene nie ʼn seun nagelaat het nie.  Die eerste seun wat uit so ʼn huwelik gebore is, is as die seun van die oorledene gereken soda hy nie vergeet sou word nie.

Onan het geen beswaar teen die gedwonge huwelik gehad nie.  Hy het egter op so ʼn wyse met haar omgegaan dat sy nie swanger geword het nie.   Dit was verkeerd in die oë van God sodat Onan gesterf het.  Gevolglik was Sela die enigste oorblywende broer om ‘n leviraatshuwelik met Tamar aan te gaan.  Hy was egter nog te jonk.  Juda het toe ten einde raad uitstel gevra.

Toe Sela groot genoeg was, maar nie met Tamar wou trou nie, het sy ʼn plan bedink.  Juda se vrou was toe pas oorlede.  Ná die gebruiklike routyd het Juda na ʼn vriend in Timna gegaan waar Tamar haar soos ʼn prostituut voorgedoen en haar skoonpa verlei het.  Hy het haar ’n boklam as betaling beloof.  Omdat hy dit nie onmiddellik by hom gehad het nie, het sy hom sy seëlring en staf as pand gevra totdat hy die boklam gebring het.   Daarna het Tamar spoorloos uit Timna verdwyn.

Juda het van geen sout of water geweet toe hy van Tamar se swangerskap verneem nie.  Hy moes as familiehoof die oordeel oor haar fel.  Sy moes verbrand word!  Veroordeeldes is eers gestenig en daarna verbrand.  Toe Tamar vir haar vonnis opdaag, het sy Juda se ring en staf aan die aanwesiges getoon waarna haar straf ter syde gestel is.

Tamar het ʼn tweeling verwag wat net soos ʼn Jakob en Esau teen mekaar gestoot het.  Die eerste seun is Peres genoem waarna Serag gebore is.  Peres was ʼn voorsaat van koning Dawid en derhalwe ook van Christus (Mt.1:3). Christus sou uit die stam van Juda gebore word.   Dis merkwaardig dat Peres, wat uit bloedskande verwek is, tot die geslagsreg­ister van Jesus behoort!

Die stamboom van koning Dawid is nie vlekkeloos en sonder smet nie.  Dit bevat talle ongure karakters.   Dit bewys dat Christus, alhoewel Hy sonder sonde was, in die gelykheid van die sondige vlees na die aarde gekom het (Rom.8:3).  Vervolgens het die wonder van die uitverkiesing oor ʼn baie besondere mens geloop – Josef, die lieflingseun van Jakob.