DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
LES 2
DIE ROEPING VAN MOSES
Ex 3; 4:1-17; 7:1-13
1. God praat met Moses
By geleentheid het Moses sy skoonvader se kudde tot by die Sinaigebergte laat wei. Horeb was die hoogste punt van hierdie bergreeks en sou later as die berg van God bekend staan (1 Kon.19:8). Daar het die Engel van die Here met Moses uit ʼn brandende doringbos gepraat. Hierdie Engel word hier weer met hoofletters gespel - heelwaarskynlik Christus in sy voormenslike staat.
Dit was die eerste verskyning van ʼn engel in nagenoeg 400 jaar. Die laaste keer was aan Jakob (Gen.46:2-4). Moses het nie geweet dat hy met ʼn teofanie (godsverskyning) te doen gehad het nie. Sinai is ʼn uitsonderlike warm landstreek en die son kon droë takke aan die brand laat slaan. ʼn Brandende doringbos was dus geen buitengewone vreemde gesig nie. Maar een wat nie uitbrand nie, wel!
Toe hy nuuskierig nader gaan, het ʼn welluidende stem uit die brandende bos met hom gepraat. Dit was die stem van God. Hy het hom beveel om nie nader te kom nie en sy skoene uit te trek. Met hierdie bekendstelling het God die verbindingslyn van die verlede na die hede deurgetrek. Die heilshistoriese lyn was weer in volle swang.
Moses het op daardie stadium heelwaarskynlik niks van die verbond geweet nie. Hy is immers as Egiptenaar grootgemaak. Nogtans het hy geweet dat hy ʼn Israeliet was (Hebr.11:24). Hy het heelwaarskynlik ʼn baie beperkte kennis van God gehad. Toe Hy egter uit die bos met hom praat, het Moses besef dat dit die God van sy vaders was.
God het Moses ingelig dat Hy in Israel se ellende gaan ingryp en hulle van hul slawedrywers verlos. Moses moes sy werktuig wees. God was goed bekend met die ellende van sy volk en sou hulle op sy eie manier verlos (Ps.11). So het daar ook vir Israel ʼn volheid van die tyd aangebreek (Gal.4:4). ʼn Menslike verlosser was oppad!
Nadat God hom oor sy heilige taak ingelig het, was Moses onwillig om dit op te neem. Hy het hom te onbeduidend daarvoor geag. God het egter beloof om met hom te wees. Daarna het Moses na sy Naam gevra. God het nie daarvan gehou dat mense daarna vra nie (Gen.32:29; Rigt.13:17,18). Gevolglik het Hy Moses geantwoord: ”Ek is wat Ek is” Dis geen mededeling van sy Naam nie, maar eerder ʼn aanduiding van sy onbegrensde Wese. God het Homself nie net die God van die aartsvaders genoem nie, maar ook die Here van die aartsvaders. Die woord Here was iets nuut in sy selfopenbaring.
God het Hom nooit so aan Abraham, Isak en Jakob bekend gemaak nie (Ex.6:1,2). Aan Moses het Hy net gesê: “Ek is” (JHWH in Hebreeus). Die woord Here was wel voorheen aan mense bekend, maar slegs aan diegene wat binne die kleiner kring van die verbond was. Mense soos Abraham, Lot, Laban en Abimeleg (Gen.15:1,20). Israel is eers ná die roeping van Moses versoek om God voortaan so te noem.
Moses was aanvanklik bang dat die volk hom nie so glo nie. Daarom het God aan hom wondertekens gegee. Sy staf sou ʼn slang word en weer na ʼn staf terugkeer. Sy hand sou melaats en daarna weer gesond word. Daarna het Moses een verdere beswaar geopper - hy het gehakkel. Daarvoor het God ʼn oplossing gehad - sy broer, Aäron, was welsprekend en sou hom vergesel. Daarna was die teofanie aan die voet van Horeb verby.
2. Moses voor die Farao
Moses was nie gretig om voor die Farao te verskyn nie. God het hom vooraf gewaarsku dat die Farao nie na hom sou luister nie. Hy sou egter baie deeglik met God se krag kennis maak (Rom.9:17). Moses en Aäron het ernstig met die volk gepraat en verskeie wondertekens gedoen om hulle te oortuig dat God hulle gestuur het. Toe die Farao weier om die Israeliete te laat trek, het hy die Israeliete selfs swaarder laat werk. Dit was vir die volk ʼn geweldige teleurstelling waarna hulle Moses vir die Farao se vergeldingstap verkwalik het.
Moses en Aäron het egter die volk bemoedig en weer na Farao gegaan en die tekens wat God gegee het, gedoen. Desondanks het die Farao steeds geweier. Daarna het 10 plae gevolg waardeur God die Farao sou dwing om die Israeliete te laat gaan.
3. Die tien plae
- Ex.7:20,21. Die Nyl se water word bloed. Die towenaars het dieselfde met water in opgaarbakke gedoen. Vir sewe dae het die Egiptenare swaar gehad. Hul enigste water was uit putte wat hulle self moes grawe. Die Farao het nie gehoor gegee nie en die Israeliete nog harder laat werk.
- Ex.8:6,7 . Paddas kom oor die land. Alhoewel die towenaars weereens dieselfde teken gedoen het, het die plaag tog ʼn groot indruk op Farao gemaak. Hy het Moses versoek om tot sy God te bid om die plaag te beëindig waarna hy hom weer verhard het.
- Ex.8:17. Muskiete kom oor die land. Die Egiptenare het muskiete geken. Daarvan was daar baie in die stilstaande waters van die Nyl. Wat hierdie plaag so uitsonderlik gemaak het, was dat die muskiete op onnatuurlike wyse uit die droë stof van die land gekom het. Farao het weer nie gehoor gegee nie.
- Ex.8:21, 24. Steekvlieë kom oor die land. Farao het weereens nie geluister nie.
- Ex.9:3,6. Pes kom onder die vee. Die Israeliete het geen skade gely nie. Farao het weer volstrek geweier om die Israeliete te laat trek.
- Ex.9:8-11. Swere breek onder mense en diere uit. Ook dit het Farao nie tot ander insigte gebring nie. Die Israeliete se vee het egter niks oorgekom nie.
- Ex.9: 24-26. Hael met vuur in teister Egipte. Dit het onder mense en diere gemaai. Net nie in die land Gosen nie. Die Farao het nog steeds geweier om die Israeliete te laat trek.
- Ex.10:4-6. Sprinkane saai verwoesting in Egipte. Dit was een van die vreeslikste plae wat ʼn land kon tref. (Joël 1:4, 10,11,18). Desondanks was die Farao se hart steeds verhard.
- Ex.10:21-23. Duisternis kom oor Egipte. Hierdie donkerte dui op God se toorn (Mt.27:45). By die Israeliete was dit egter lig waarna Farao hulle opdrag gegee het om te trek, maar sonder hulle vee. Moses het nie met die Farao gekibbel nie; die vee moes saam en selfs van hom offerdiere geëis om saam te neem! Hoe toegeefliker die Farao geword het, hoe uitdagender was Moses in sy eis. Daarna het Farao hom weggejaag en gewaarsku dat hy hom sou doodmaak as hy hom weer sou sien. Dit was Farao se laaste kans om reg te maak. Wie nie hoor nie, moet voel!
- Ex.11:1,6. Die dood van die eersgeborenes. Dit was die verpletterendste van al die plae. God het reeds by Moses se eerste sending na die Farao met hom daaroor gepraat (4:23). Hy het egter belowe dat dit die laaste plaag sou wees waarna die Farao hulle sou laat trek.
Vervolg...