DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
LES 4
WETGEWING OP SINAI
Ex 32; 34; 35:4-10,24-26; 40:1-4, 33-38
1. Israel word die eiendom van God
Israel het drie maande ná die uittog by Horeb aangekom. Dis hier waar God met Moses uit die brandende bos gepraat het. Terwyl die volk in die laer agtergebly het, het Moses op die berg geklim en ʼn wonderlike boodskap van God ontvang. God het Israel uit al die volke tot sy eiendom verkies. Hulle was ʼn heilige nasie en moes sorgvuldig op sy Stem ag gee. Nadat Moses die volk bymekaar geroep en die woorde meegedeel het, het hulle belowe om alles te doen wat God van hulle sou vra. Daarna het Moses as middelaar tussen die volk en God weer op Horeb geklim om Israel se antwoord aan God oor te dra.
2. God verskyn aan sy volk
God het op die derde dag op Horeb neergedaal. Alles was so heilig, dat Israel selfs verbied is om aan die berg te raak. God se verskyning het op ʼn skouspelagtige wyse met donderslae, blitse, wolke en basuingeklank plaasgevind. Terwyl die berg gerook en gebewe het, het God in vuur op die berg neergedaal (Hebr.12:18-21). Daarna het Hy met ʼn stem soos van donderslae gepraat waarna die Tien Gebooie gevolg het. Dit word ook die Tien Woorde genoem (Ex.34:28). Die ou kerkvaders het dit die Dekaloog genoem – die tien gesprekke. Die tien gebooie was die openbaring van God se wil en het etlike voorskrifte bevat hoe Israel vir Hom moes leef. Selfs heidene het iets van hierdie wet in hul binneste (Rom.2:14,15). Die Tien Gebooie sou ʼn dure dog heerlike verpligting op Israel wees.
3. Die Verbondsete
Die ontmoeting van God met sy volk het ʼn stap verder gegaan toe daar by wyse van ʼn maaltyd aan Hom geoffer is. Moses het ʼn altaar met 12 gedenkstene laat oprig en brandoffers laat slag. Daarna het hy die bloed van die offerdiere in komme laat opvang en tot versoening van sondes oor die volk gesprinkel waarna die volk die vleis as dankoffer geëet het. Die amptelike sluiting van die verbond is derhalwe met ʼn gepaste ete gevier waarna ʼn magdom van wette en godsdienstige insettinge gevolg het. Israel moes haar duidelik van die omliggende heidennasies onderskei.
4. Die goue kalf
Terwyl Moses by geleentheid weer op die berg was, het Israel gesondig en die tweede gebod oortree. Moses was lank weg en dit het aan die volk se senuwees geknaag. Hulle was nie sekere of hy nog geleef het nie. Wat sou van hulle word as hy verdwyn het? Aäron en Hur was nou wel daar, maar nie God of Moses nie. Daar was niks tasbaar nie. Die tweede gebod het Israel verbied om godsdienstige beelde te maak. Dit was ʼn kenmerk van die ware godsdiens - geen beelde nie! Heidene het altyd beelde gehad. Nie Israel nie. Die verhewe God van Israel moes op ʼn verhewe wyse in gees en waarheid en nie deur beelde aanbid word nie. Die enigste tasbare wyse was die erediens met sy ryke simboliek.
Die Israelitiese slawe het in Egipte afgode gedien (Jos.24:14). Die enigste sigbare teken van God wat hulle in die woestyn geken het, was die wolk- en vuurkolom. Dit het hulle later nie eers meer tevrede gestel nie. Daarom het hulle na Aäron gekom en hom versoek om vir hulle ʼn beeld te maak. Sy toegeeflikheid was vreemd. Waarom het hy hulle nie berispe nie? Hy het mos geweet wat die tweede gebod sê! Hy het egter voortgegaan en ʼn kalfsbeeld gemaak; iets wat hulle in Egipte goed geken het.
Aäron het van die goud wat hulle tydens die uittog bymekaar gemaak en aan God moes offer, ʼn beeld gemaak waarna Israel ʼn vreemde ding gesê het (Ex.32:4). Hulle het God deur hierdie beeld probeer verheerlik. Die Roomse Kerk doen vandag presies dieselfde ding! Die Bybel is baie duidelik - beeldediens is afgodery (Hos.8:4,5)!
Daarna het Aäron ʼn altaar opgerig en ʼn fees aangekondig waarna brandoffers, dankoffers en maaltye gehou is. Dis deur ʼn heidense vrugbaarheidsritueel gevolg wat gewoonlik met ongekende losbandigheid gepaard gegaan het (Num.25:1-8).
5. Moses pleit vir die volk
Terwyl Moses op Horeb was, het God hom oor die afgodery van die Israeliete ingelig en sy voorneme om hulle te vernietig. Hy sou Moses egter spaar om ʼn groot nasie te word. Daarna het Moses met priesterlike bewoënheid vir die behoud van Israel gepleit. Hy het aangevoer dat God se eer op die spel was en dat die heidene sou lag indien Hy die volk Israel in die woestyn sou ombring! Moses het God verder aan sy belofte aan die aartsvaders herinner. God het nie van plan verander nie, maar Moses se liefde vir sy volk getoets. Daarna het Hy genade aan Israel betoon.
Toe Moses van die berg afkom, het hy die kliptafels by hom stukkend gegooi en die kalfsbeeld laat verbrand. Daarna is ongeveer 3000 deur die seuns van Levi doodgemaak. Israel het op ʼn harde manier geleer om die tweede gebod reg te verstaan!
Daarna het Moses weer na God opgeklim en priesterlik bewoë versoek dat God hom eerder moes doodmaak en die volk spaar. God het nie hierop gereageer nie en vir Moses gesê dat Hy die volk later sou straf wat dan ook wel gebeur het. Moses moes nuwe kliptafels maak waarna hy ʼn nuwe stel wette op Horeb ontvang het (Deut.10:1-5). Daarvoor het hy 40 dae op die berg vertoef. By sy terugkeer het sy gesig met so ʼn goddelike glans geblink, dat hy ʼn sluier oor sy gesig moes trek.
6. Die tabernakel
Die geskiedenis van die sonde met die verering van die goue kalf is met die oprigting van die tabernakel afgesluit. Dit was ʼn verskuifbare kerk en is ook die tent van samekoms genoem. God het Hom nie by wyse van ʼn beeld laat voorstel nie. Hy was wel in die heilige vergadering van sy kinders teenwoordig.
Moses het milde bydraes vir die oprigting van die tabernakel verkry en dit daarna laat bou. Tydens die inwyding daarvan het ʼn wolk dit oordek terwyl die heiligheid van God die plek gevul het. Hy sou voortaan op ʼn besondere wyse vir sy kinders in sy kerk te vinde wees.
Vervolg...