DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
LES 3
VAN KADES NA DIE OOS-JORDAANLAND
Num 20:14-29, 21:1-10, 22:1-12, 27:12-23; Deut. 34
1. Boodskappers word na Edom gestuur
Num.20 lei ʼn nuwe era in die geskiedenis van Israel se woestyntog in. By geleentheid het Moses boodskappers na die koning van Edom gestuur met die versoek om deur sy land te trek. Moses het onderneem om nie deur die landbougebied trek nie, maar op die koningsweg te hou; ʼn pad wat van Akaba (by die Skelfsee) af deur Edom, Moab, Gilead en Basan tot by Sirië geloop het. Dis deur die konings van Gen.14 gebruik en bestaan skynbaar tot vandag toe nog. Toe die koning van Edom weier, het Israel ʼn ander rigting ingeslaan. In daardie tyd is Aäron op die berg Hor oorlede nadat sy seun Eleasar as sy opvolger aangewys is. Aäron was 123 jaar oud en het dus nie die beloofde land gesien nie. Ook nie Moses nie. En Miriam was toe alreeds oorlede.
2. Die koning van Arad
Toe Israel die ompad gevolg het, is hulle deur die koning van Arad aangeval. Israel het ʼn gelofte aan die Here gedoen en beloof om die vyand met die banvloek te tref as God hulle die oorwinning sou gee. Israel was bewus dat hulle die volk van God was en dat hulle saak ook sy saak was. Die banvloek het beteken dat geen buit of verowering tot eie voordeel gemaak mag word nie. Alles sou deur algehele vernietiging aan God gewy word. God het hulle die oorwinning by Horma gegee.
3. Die koperslang
Die ompad het die volk so ongeduldig gemaak dat hulle weereens na Egipte terugverlang het. Hulle het die manna waarmee God hulle elke dag genadiglik gevoed het selfs ellendige kos genoem! Dit moes van die ou geslag gewees het wat Egipte kon onthou. Hulle sou egter almal in die woestyn sterf.
God het hulle gestraf deur giftige slange onder hulle in te stuur wat hulle gepik en talle laat sterf het. Daardie omgewing was berug vir slange; die aartsvyand van die mens (Gen.3:15). God kon Israel òf van gevare bewaar òf daaraan blootstel (Deutr.7:15). Die NT verwys ook hierna (1 Kor.10:9).
Die lewensgevaar waarin Israel verkeer het, het berou gebring waarna God die slange op Moses se gebed weggeneem het. Sy gebed is op ʼn interessante wyse verhoor. Moses moes ʼn slang van koper maak en op ʼn paal sit. Die simboliek daarvan was dat die slang magteloos was. Elkeen wat gepik is en daarna gekyk het, sou lewe. Dit moes egter in geloofsgehoorsaamheid wees.
Die verhoogde, magtelose slang was in werklikheid ʼn oorwinningsbanier van Israel in sy stryd teen die eintlike slang (Satan). Soos wat die slang verhoog is, sou Jesus ook later vir die mensdom se geestelike genesing aan ʼn kruis verhoog word (Joh.3:14,15) nadat Hy in hulle plek tot sonde gemaak is (2 Kor.5:21).
4. Bileam
Toe Israel kort daarna in oorlog met die Amoriete beland het, het God hulle die oorwinning gegee waarna die Israeliete die vyandelike stede met die banvloek getref het. Daarna is Israel vanuit ʼn ander oord bedreig nl. dié van die wêreld van bose geeste. Balak, die koning van Moab, het sy buurvolk, die Mideaniete, om hulp gevra waarna hulle Bileam spesiaal uit Babilon laat haal het om Israel te vervloek. Hy was ʼn towenaar wat oor duiwelsmagte beskik het. So ʼn vloek is destyds as baie gevaarlik beskou. Toe Bileam Israel wou vervloek, het God hom verhinder en Israel eerder geseën.
5. Josua word as opvolger van Moses aangewys
Israel was byna in Kanaän en Moses se heengaan naby. God het sy aangrypende smeekgebed om tog net die Jordaan te kon oorsteek nie verhoor nie (Deut.3:23-29). Daarna het God Moses aangesê om ʼn bergtop in Abarimgebergte te bestyg. Dit het op die beloofde land uitgekyk. Daar het God die rede waarom hy moes sterf voordat Israel die beloofde land kon binnetrek, herhaal en het Moses hom opnuut aan God se wil onderwerp. Hy was egter oor Israel se toekoms besorg. Wie sou hom opvolg en die Israeliete Kanaän binnelei? God het Josua (Deut.3:21) aangewys, die dapper man wat Amalek 40 jaar tevore verslaan het (Deut.3:21).
Tydens die handoplegging het Moses sy heerlikheid en majesteit op Josua gelê. Dis met handoplegging voor die priester Eleasar en die hele volk gedoen. Josua se leierskap sou ingrypend van Moses s’n verskil. Moses het sy opdragte direk van God verkry. Josua sou syne van ʼn priester verkry wat God namens hom geraadpleeg het.
6. Moses sterf
Kort voor sy dood het Moses op bevel van God ʼn aangrypende lied geskryf. Dit het van Israel se afvalligheid en ontrou teenoor God vertel en is die Lied van Moses genoem (Deut.32:1-43). Johannes het hierdie selfde lied by die see van glas gehoor (Opg.15:2,3).
Daarna het Moses op die berg Nebo geklim waar God hom die hele beloofde land laat sien het. God het sy blik versterk sodat hy meer as net die vae omtrekke kon sien. Daarna is hy oorlede en het God hom begrawe. Hy was 120 jaar oud en op daardie stadium nog betreklik vol lewenskrag. Israel het 30 dae lank oor hom gerou. Daar sou nooit weer ʼn profeet soos Moses in Israel wees nie.
Vervolg...