DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
LES 2
DIE ONDERWERPING VAN KANAäN
Jos 6:1-20; 7:1-17,25-26; 8:1-3; 26-29; 9:1-15; 10:1-4; 12-16; 22-26
1. Jerigo val
Jerigo was die eerste stad wat voor Israel geval het en ʼn banoffer aan God. Die banoffer het daarin bestaan dat alles wat geleef het, mens en dier, gedood moes word. Al die goud, silwer, koper en ystervoorwerpe moes vir die skathuis van die Here bymekaar gemaak word. Hieruit is mettertyd godsdienstige gebruiksartikels gemaak.
Die Israeliete het ses dae lank eenmaal per dag om die stad getrek en op die ramshorings geblaas. Op die sewende dag het Josua hulle sewe maal om Jerigo laat omtrek en daarna beveel om te skreeu waarna die mure ingeval en die stad verower is. Alle teenstand was tevergeefs (Jos.24:11).
Jerigo is ʼn baie ou stad. Die oorblyfsels van die ou stad kan vandag nog by die ruïneheuwel (ʼn tel genoem) langs die nuwe stad gesien word. Dit lê in ʼn oase in die Jordaandal en is meer as 250 meter onder seevlak. Die ruïneheuwel is 20 meter hoog en is in werklikheid ʼn opeenstapeling van meer as 20 lae. Die eerste inwoners het in nabygeleë grotte gewoon en eers heelwat later huise en ander strukture begin bou.
Ou landbougereedskap wat tydens argeologiese opgrawings daar gevind is, toon dat landbou van vroegs af in hierdie gebied beoefen is. Toe Josua die stad ingeneem het, was dit alreeds baie eeue oud. Tydens die inname is Ragab en haar familie gespaar. Josua het die volk laat sweer om Jerigo nooit weer op te bou nie. Die een wat dit sou waag, sou vervloek wees. Kyk wat met Hiël van Bet-el gebeur het (1 Kon.16:34)!
2. Ai val
Ai was ʼn stad oos van Bet-el. Abraham het by geleentheid in die omgewing van hierdie stad gekamp (Gen.12:8). Josua se verspieders het laat weet dat Ai maar min inwoners gehad het (12,000) en dat ʼn handjievol soldate genoeg vir ʼn oorwinning sou wees. Hulle het hulle egter lelik misgis en die aftog met ʼn lewensverlies van 36 man geblaas!
Hierdie onverwagse verloop van omstandighede het Josua na God gedryf wat aan hom die rede vir hul skandelike nederlaag verstrek het. Iemand het van die bangoed vir homself geneem. Daarna is Agan as die oortreder aangewys waarna hy en sy familie doodgemaak is. Kort hierna is Ai vir ʼn tweede keer bestorm en verwoes. Daarna het Josua uit dankbaarheid ʼn altaar op die berg Ebal gebou en die wet van God as ʼn hernuwing van die verbondsverhouding op die klippe laat skryf.
3. Die geslepe Gibeoniete
Gibeon was ʼn groot stad en deur Hewiete bewoon. Hulle was bang vir Israel. Die Hewiete het nie ʼn koning gehad nie, maar is deur ʼn regering van oudstes regeer. Hulle het ʼn gesantskap na Josua gestuur en hulle as mense voorgedoen wat van baie ver gekom het Hulle het selfs verslete klere aangehad. Die gesantskap was goed op hoogte van sake en het teenoor Josua van die groot dade van God gepraat wat in Egipte plaasgevind het asook die nederlaag van Og en Sihon. Hulle het egter niks van die verwoesting van Jerigo of Ai gesê nie.
Josua het God nie vooraf geraadpleeg nie en in die strik getrap deur ʼn vredesverbond met hulle te sluit. Toe hierdie bedrog aan die lig kom, moes Josua sy eed gestand doen. Hy het van hulle houtkappers en waterputters (arbeiders) vir die huis van God gemaak. Saul het hierdie eed later geskend en baie van die Gibeoniete doodgemaak (2 Sam.21:1).
4. Die onderwerping van Suid-Kanaän
Die geslepenheid van die Gibeoniete het die planne van die ander stede in Suid-Kanaän in die wiele gery. Hulle was baie vies vir die Gibeoniete en het onderling verdeeld geraak in ʼn tyd toe Israel hulle grootste vyand was. Adoni-Sedek, die koning van Jerusalem, het egter onderlinge skakeling probeer bewerkstellig. Dis die eerste keer dat hierdie stadnaam in die Bybel voorkom. In Gen.14 is dit Salem genoem. Melgisedek was die koning (:18). In die tyd van Josua was dit ʼn heiden stad met Adoni-Sedek as koning. Hy was baie anders as Melgisedek. God het Jerusalem egter vir Hom as aardse setel gekies (1 Kon.11:32; Sag.3:2; Ps.135:21).
Toe Adoni-Sedek en vyf van sy bondgenote teen Gibeon saamgespan het, het die Gibeoniete Josua om hulp gevra. Hy was verplig om hulle te help en het die Amoriete verslaan nadat God hom tegemoet gekom en die son laat stilstaan het om die dag langer te maak. God het Hom opnuut aan Israel as die Here van die heelal betoon (Job.9:5-8).
Iets soortgelyks sou ook met die godvresende koning Hiskia gebeur (2 Kon.20:9-11). Jos.10:13 maak van die Boek van die Opregte melding. Dit was heelwaarskynlik ʼn baie ou liedboek wat oor die groot gebeurtenisse in Israel gehandel het (2 Sam.1:18). Nadat die Amoritiese konings gevlug en kort daarna gevang is, is hulle almal doodgemaak. Daarna het Josua verskeie ander stede ingeneem en dit met die banvloek laat tref, waarna Israel na die laer in Gilgal terug gekeer het.
5. Die onderwerping van Noord-Kanaän
Hasor was ʼn groot stad in die noorde. Die omliggende gebied was uiters geskik vir ʼn leërkamp. Die Hiksos (vreemdelingsbewind in Egipte) was heelwaarskynlik die eerste mense wat daar ʼn kamp gehad het. Later het een van die Makabeërvorste hierdie gebied as sy leërbasis gebruik.
In die tyd van Josua was Hasor die setel van ʼn klompie kleiner omliggende koninkryke met Jabin as koning. Hy het al die konings van die omliggende gebiede in ʼn bondgenootskap saamgesnoer ten einde Israel teen te staan. Josua het hulle egter oorval en die konings omgebring waarna hy die stad laat verbrand het. Alhoewel die inwoners gedood en hul vee as buit geneem is, is die ander vyandige stede nie verwoes nie. Josua se sterk optrede het Noord-Kanaän se mag gebreek.
6. Die gevolg van Josua se verowerings
Die stryd in Noord-Kanaän het betreklik lank geduur. Die refrein: “So het Josua dan hierdie hele land ingeneem…” vertel iets hiervan. Dat God so te werk gegaan het, klink miskien ongenaakbaar. Hy het dit egter om twee goeie redes gedoen: Eerstens sy belofte aan die aartsvaders en tweedens sy wraak op die heidendom. God het nog van die nasies laat oorbly om Israel later mee te straf (Rigt.2:20-23). Die volksvyand sou menigmaal ʼn tugroede in God se hand wees!
Vervolg...