DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
RIGTERS
LES 1
DIE STRYD DUUR VOORT
Rigt 1:1-13; 2:6-23; 3:5-31, 4; 5:1-5
1. ʼn Nuwe era breek aan
Ná die dood van Josua is die laaste gedeelte van die verdeling van Kanaän suksesvol afgehandel. Solank as wat die volk Josua onthou het, het hulle God gedien (Jos.24:31). By geleentheid het hulle Hom selfs geraadpleeg oor wie die oorlogsugtige Kanaäniete die eerste moes aanval, waarna Hy Juda aangewys het.
Die eerste oorwinning was oor Adoni-Besek. Hy was ʼn wrede koning wat almal om hom onderwerp het. Hy het selfs 70 onderhorige konings onder sy tafel vir kos laat kruip nadat hy hulle duime en groottone laat afkap het. Nadat Juda hom gevang het, is sy duime en groottone ook afgekap. Daarna is hy in Jerusalem aangehou en later tereggestel.
God het Israel egter beveel om sekere Kanaänitiese stede te verwoes wat hulle nie gedoen het nie.Ná die dood van Josua het Israel geleidelik begin verval. Daar was geen leier om wet en orde te handhaaf nie. Elkeen het maar in eie reg opgetree. Daarbenewens het die heidendom Israel gepootjie, waarna hulle openlik afgode begin dien het. Baäl en Astarte word by die naam genoem. Baäl is aanvanklik Hadad genoem. Dit beteken heer. Daar was verskeie afgode met hierdie naam; Baäl-Peor was een van hulle. Astarte was ʼn godin wat vrugbaarheid gesimboliseer het. In die OT word sy dikwels naas Baäl vermeld en heelwaarskynlik ook as sy vrou gesien. Asjera was nog ʼn godin. Haar simbool was ʼn boomstam. Die OT verwys dikwels na heilige boomstamme.
By geleentheid het God Israel gewaarsku dat Hy hulle gaan straf, waarna hulle berou gehad het (2: 4,5). Kort daarna het hulle weer in sonde verval, waarna God hulle in die hand van die vyand oorgegee het. Wanneer hulle egter in groot benoudheid verkeer het, het God vir hulle manne met besondere gawes van moed en geloof voorsien wat die volk gered en na God se weë teruggelei (gerig) het. Hierdie gang van gebeure is telkens herhaal. Die bevryders is rigters genoem.
Die tydperk van die rigters was ʼn deel van Israel se geskiedenis met ʼn eie karakter. Josua het Moses opgevolg, maar self nie ʼn opvolger aangewys nie. Die volk was in die beloofde land en alles was in plek - ʼn eie land, die wet van Moses, ʼn regering deur oudstes, die heiligdom in Silo ens. Al wat ontbreek het, was ʼn sigbare vors. God was die koning van Israel!
Israel was ʼn teokrasie – ʼn regering deur God alleen. Hy wou die volk op die proef stel of hulle alleen in sy weg sou wandel (2:22). Hulle het nie. Israel was telkens ontrou aan God sodat ʼn sigbare vors die volk moes kom lei. Die tydperk van die rigters het derhalwe om ʼn aardse koningskap geroep.
2. Die eerste rigter
Israel het, strydig met God se uitdruklike bevel, met die Kanaäniete vermeng en daarna in afgodery verval. God het hulle gestraf deur hulle agt jaar lank in die hand van die Arameërs oor te lewer. Toe hulle hul bekeer, het God vir Otniël, ʼn man wat met die Gees van God vervul was, na hulle gestuur om hulle te verlos en te lei. Hy was die eerste rigter en die seun van ʼn jonger broer van Kaleb. Hy was met Kaleb se dogter Agsa getroud. Otniël het Israel van die vyand verlos waarna God hulle 40 jaar lank in vrede laat verkeer het.
3. Die tweede en derde rigter
Na verloop van tyd het Israel weer verkeerd gedoen waarna God die Moabiete as tugroede teen Israel gebruik het. Eglon, die koning van Moab, het Jerigo tevore ingeneem en van daar af oor die land geheers en swaar belasting gehef. Hy het bv. nie minder as 10,000 belastinggaarders aangestel om te sorg dat Israel haar verpligtinge teenoor Moab nakom.
Ehud was die volgende rigter. Hy was ʼn uit die stam van Benjamin en het die opdrag gehad om die belasting aan Eglon te besorg. Toe hy by geleentheid weer die geld na Eglon neem, het hy besluit om hom dood te maak. Omdat Ehud linkshandig was, het die trek van die swaard het Eglon onkant betrap en is hy gedood. Daarna het Ehud die ramshoring op die Efraimberge geblaas om die vryheidstryd aan te kondig. Die Moabitiese soldate was verskrik en is by die Jordaandriwwe afgesny toe hulle wou vlug. Nie een van hulle het dit oorleef nie. Daarna het Moab voor Israel geswig en het daar ʼn vrede aangebreek wat 80 jaar geduur het.
Oor die optrede van Ehud word daar in een enkele vers van Samgar melding gemaak. Alhoewel die Bybel nie sê dat God hom verwek of dat hy Israel gerig het nie, word hy nogtans as ʼn rigter gehuldig. Die omstandighede van destyds word in Rigt.5:6 geskets. Filistynse roof- en plunderbendes het die paaie onveilig gemaak en baie reisigers vermoor. Toe ʼn bende een dag by Samgar op sy plaas aankom, het hy al 600 van hulle man-alleen met ʼn osdrywerstok verdryf.
4. Die vierde en vyfde rigter
Ná die dood van Ehud het Israel weer in afgodery verval waarna God hulle in die hand van Jabin, ʼn Kanaänitiese koning wat in Hasor regeer het, laat val het. Hasor was die stad wat Josua tevore met vuur verbrand en sy koning vermoor het. Die stad is egter weer opgebou. Jabin het ʼn veldheer Sisera en 900 ysterwaens gehad. Israel was nie daarteen opgewasse nie en is 20 jaar lank onderwerp.
Toe Israel na God om hulp geroep het, het Hy deur die profetes Debora met hulle gepraat en sy verlossingsplan aan haar bekend gemaak. Israel moes ʼn driepuntplan volg. Eerstens moes Barak as bevelvoerder optree. Tweedens moes 10,000 man uit Sebulon en Naftali gemobiliseer word en derdens moes hulle by die berg Tabor saamtrek.
Toe Barak daaroor ingelig is, wou hy nie sonder Debora na die gevegsfront gaan nie. Hy was baie afhanklik van die raad en bystand van die profetes. Sy het hom egter oorreed om alleen te gaan waarna hy die oorwinning behaal het. Sisera is tydens hierdie geveg deur ʼn vrou in sy slaap vermoor. Barak word in die NT ʼn geloofsheld genoem (Hebr.11:32).
Ná die oorwinning was daar ʼn groot vreugdefees. Barak en Debora is as volkshelde besing. Die lofsang van Debora is in Rigt.5 opgeteken en bevat haar profeties-digterlike beskouing van die uitsonderlike gebeure. Letterkundiges beskou dit vandag nog as van hoogstaande formaat.
Vervolg...