DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
LES 3
JEFTA
Rigt 10-12
1. Die verdrukking deur die Ammoniete
Eintlik weet ons maar min van die rigters Tola en Jaïr. Tola het in Efraim gebly en was uit die stam van Issaskar afkomstig. Hy het Israel uit die wanorde wat Abimeleg veroorsaak het, probeer verlos. Sy rigterskap was ʼn voortsetting van Gideon s’n. Jaïr was uit Manasse en ʼn baie ryk man.
Hy het 30 seuns gehad en vir elkeen ‘n stad gegee (Num.32:41;1 Kron.2:22). Omdat daar op daardie tydstip geen buitelandse vyande was nie, kon hy sy aandag volledig aan die binnelandse bestuur wy.
Toe dit met Israel goed gaan het, het hulle weer in afgodery verval. Hierdie keer baie erger as ooit tevore! God het hulle gestraf deur hulle aan die volke wie se gode hul gedien het oor te lewer nl. die Ammoniete en Filistyne. By geleentheid was Israel weer in die knyp en het na God om hulp geroep. Hierdie keer het Hy nie gehoorgegee nie. Israel kon nie afgode dien en as hulle in die knyp raak dan na God wil hardloop nie!
Dit het Israel tot hul sinne laat kom en geestelike skouer aan die wiel laat sit. Hulle het die afgode uit hul midde verwyder en God opreg begin dien. Daarna het God in sy groot ontferming ingegryp en Israel verlos. Sy toorn duur nie vir altyd nie; wel sy liefdevolle ontferming oor sondaars!
2. Jefta word as rigter gekies
God het gereeld ʼn man gebruik om Israel te verlos; iemand wat Hy uitverkies het om die stryd met die vyand aan te knoop (Rigt.3:15; 4:6). Dit het egter nie met Jefta gebeur nie. Israel was wel weerbaar, maar het nie ʼn aanvoerder of held in hulle midde gehad nie. Die enigste moontlike kandidaat was Jefta, ʼn bendeleier uit Gilead. Hy was ʼn hoerkind wat deur sy moeder se eie seuns verdryf is waarna hy ʼn rowerbende op die been gebring het. Hy het ʼn reputasie opgehou sodat al die volksvyande vir hom bang was.
Die leiers van Gilead het nooit kapsie teen Jefta se verstoting gemaak nie. Toe hulle egter in die knyp raak, het hulle, hoed in die hand, by hom gaan pleit om Israel teen die vyand aan te voer. Jefta kon hulle weggestuur het. Hy het die regte ding gedoen deur eers met die Here daaroor te gaan praat. Hy het kennis van God gehad. God het hom geantwoord en as aanvoerder van Israel aangestel. Daarna het die Gees van God hom vir sy groot taak vervul.
3. Die Ammoniete word verslaan
Jefta was ʼn diplomaat en kenner van sy eie volksgeskiedenis. Toe hy by geleentheid boodskappers na die koning van Ammon gestuur het om te verneem waarom hy teen hom veg, het die koning hom geantwoord dat Israel hom jare tevore van sy land ontneem het. Hy wou dit terughê! Uit die geskiedenis weet ons dat God Israel verbied het om Ammon te skaad (Deutr.2:19). En hulle het ook nie (Num.21:24).
Die landstreek waarop Ammon egter aanspraak gemaak het, het Israel wettig van hom verower. Gevolglik het Jefta die koning van Ammon laat weet dat die grond al vir 300 jaar in Israel se besit was. Ammon het niks gedoen het om dit ooit te ontset nie. Wat werklik agter hierdie grondeis gesit het, word nie vermeld nie. Daarna het daar oorlog uitgebreek en die Ammoniete is verslaan.
4. Jefta se belofte
Vóór die geveg het Jefta ʼn onverantwoordelike belofte aan God gemaak. Hy het Hom beloof dat indien die uitslag gunstig was, hy die eerste wat uit sy huis na hom toe sou aankom as ʼn brandoffer aan God sou wy. Dit kon uiteraard ʼn mens of dier gewees het. Jefta was so intens met sy volk se vryheidstryd gemoeid, dat hy selfs bereid was om ʼn menseoffer te bring!
Toe sy dogter en enigste kind hom na die oorwinning tegemoet hardloop, was Jefta verpletter. Sy het haar gewillig aan haar vader se gelofte onderwerp. Die bewoording dat sy ʼn maagd was, laat die moontlikheid oop dat sy nie as ʼn brandoffer geoffer is nie, maar eerder aan die samelewing onttrek is om die res van haar dae ʼn kluisenaarsbestaan te voer.
5. Burgeroorlog
Nadat die Ammoniete verslaan is, het die Efraimiete by Jefta kom kla dat hy hulle doelbewus oorgesien en nie saam oorlog toe geneem het nie. Dit het op ʼn hewige rusie uitgeloop. Die Efraimiete was moeilike mense (Hos.13:1) en het gedreig om Jefta se huis aan die brand te steek. Dit het op ʼn burgeroorlog uitgeloop waarna Jefta hulle tot by die Jordaandriwwe teruggedryf het. As mense deur die rivier wou gaan, moes hulle eers bewys lewer dat hulle nie van die vyand was nie. Die Efraimiete se tongval het hulle weggee. Die reisigers moes sjibbolet (rivier) sê. As hulle dit verkeerd uitgespreek het, is hulle doodgemaak. So het 42,000 Efraimiete gesneuwel.
6. Die tydperk na Jefta
Jefta het Israel slegs ses jaar lank gerig. Gedurende die volgende 25 jaar het drie rigters opgetree t.w. Ebsan, Elon en Abdon. Hulle was nie by enige krygsbedrywigheid betrokke nie. Daarna het Simson, ʼn bonatuurlik sterk man uit die suide van Israel, na vore gekom en die Filistyne groot hoofbrekens besorg.
Vervolg...