DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL
Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)
Lees reeks by Studie van die Ou Testament
RUT
Rut 1-4
1. Na Moab
Die geskiedenis van die boek Rut is ʼn stuk familiegeskiedenis wat met die vermelding van die geboorte van ʼn stamvader van koning Dawid eindig. Daarom het Israel waarde daaraan geheg.
Die aangrypende verhaal speel in die laat Rigters era af. Die skrywer daarvan was baie oud en het heelwaarskynlik vir koning Dawid geken.
Die verhaal begin by ʼn sekere Elimeleg wat weens hongersnood met sy vrou en twee seuns na Moab verhuis het. Dit was in ‘n tyd toe Moab en Israel op goeie voet verkeer het. Nadat Elimeleg daar oorlede is, het sy seuns met Moabitiese vroue getrou en beide gesterf. Hulle het nie kinders gehad nie.
Die hongersnood het ongeveer 10 jaar geduur, waarna Naomi besluit het om na haar geboorteland terug te keer. Sy het haar twee skoondogters probeer oorreed om in Moab agter te bly omdat hulle nog jonk was en daar vir hulle geen toekoms saam met haar was nie.
Orpa het gehoor gegee, maar nie Rut nie. So het Rut dan saam met Naomi in Betlehem aangekom. Rut het God heelwaarskynlik deur haar skoonfamilie leer ken en was derhalwe ʼn opregte bekeerling uit die Moabiete. Sy het haarself onder die wet van haar nuwe volk geplaas en was selfs bereid om haar lewe ongehuud en kinderloos deur te bring; iets waarvoor Orpa nie kans gesien nie. God het Rut egter so wonderlik onderneem, dat haar offer nie tevergeefs was nie.
Toe Naomi in Betlehem aankom, was die mense verbaas. Haar beproewing het diep spore in haar lewe gelaat, waarna sy mense versoek het om haar eerder Mara te noem. Dit beteken bitter. Die verblyf in Moab het haar nie goed gedoen nie. Sy het vol weggetrek en leeg terugkeer. Naomi sou eers later God se plan met haar verstaan.
2. Rut tel are op
Omdat sy en Rut geen inkomste gehad het nie, het hulle ter wille van oorlewing are gaan optel. Tydens die garsoes kon die armes van die are wat die snyers laat val het, optel (Lev.19:9,10; Deut.24:19). Hulle het by Boas, ʼn ryk familielid van Naomi, aangekom en baie are opgetel. Boas het eers ná die eerste insameling van die are verneem dat hy en Naomi familie was.
Naomi het ʼn plan gehad. Sy het ʼn losser nodig gehad om haar grond te koop. Boas was die aangewese man. Hy kon vir haar kragtens die lossingsreg optree; ʼn reg wat van die beginsel uitgegaan het dat die land aan God behoort het wat aan elkeen in Israel ʼn erfdeel gegee het. Indien iemand deur armoede gedwing was om sy besitting te verkoop, moes ʼn naasbestaande dit loskoop.
3. Naomi maak ʼn plan
Die uitwan van die gerwe het op ʼn groot dorsvloer plaasgevind. Baie van die werkers het snags op die dorsvloer geslaap om die oes te bewaak. Dit was ʼn feestelike tyd van die jaar omdat die vrug van die arbeid sigbaar was. Die gedorste graan is met spesiale houtvurke in die lug gegooi sodat die wind die kaf kon wegwaai waarna die korrels op die vloer geval het. Die wind het gewoonlik laatmiddag en snags in daardie geweste gewaai.
Benewens die lossing van haar eiendom, het Naomi nog ʼn plan met Boas gehad. Hy moes met ander oë na Rut begin kyk! Sy vriendelike optrede het Naomi hoop gegee. Rut was inskiklik met Naomi se plan. Sy het haar een aand na werk gewas, reukstof aangesit, mooi aangetrek en na die dorsvloer gegaan. Sy sou na die feestelike bedrywighede wag totdat Boas slaap en by sy voetenent gaan lê.
Boas het haar ietwat vreemde optrede in ʼn positiewe lig gesien en mooi met haar gepraat. Nadat sy melding van sy lossersreg gemaak en vir beskerming van die familie-eiendom gevra het, was die bal aan die rol. Boas was gewillig om te help en ingenome om haar as vrou te neem. Naomi se plan het gewerk – twee vlieë met een klap!
4. Boas
Boas is vroeg die volgende oggend na die poort om die man wat die eerste aanspraak op Naomi se grond gehad het, te gaan spreek. Die stadspoorte was die gebruiklike bymekaarkomplek vir allerlei sake soos vergaderings, kontrakte, regspraak ens. Die betrokke persoon kon die eiendom koop of dit los. Nadat hy dit gelos het, het Boas die grond van Naomi gekoop.
Daarna het ʼn ritueel tussen die twee kopers plaasgevind. Die een het sy skoen uitgetrek en vir die ander een gegee. Sodoende is die reg op die nuwe stuk geproklameer (Ps.60:10). Daarna het die oudstes van die stad hul seën oor Rut en Boas uitgespreek. Rut het dus nie tevergeefs saam met Naomi na ʼn onsekere toekoms getrek nie. God het wonderlik in haar lewe onderneem!
5. Obed word gebore
Uit die huwelik is ʼn seun, Obed, gebore. Die vroue van die stad het Naomi met haar kleinkind kom gelukwens. Obed was ʼn pragtige seuntjie wat op sy ouma se skoot grootgeword het. Hy was vir haar ‘n plesier. Obed sou die vader van Isai word. Isai was die vader van koning Dawid. Rut was dus Dawid se oumagrootjie!
Vervolg...